Kobus de Klerk
Soos daar geskrywe staan:
“… net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge." Romeine 8:26
In hierdie affrontasie waarin jy die Heilige Gees se onuitspreeklike werkinge in ons hart arrogant minag met jou sogenaamde "feitelike sekerheid", bespot jy my kinderlike afhanklikheid aan GOD met onder meer die volgende vraag:
Is onwerklikheid dan nou die waarheid?
Inderdaad Kobus!
Dink jy my geldsake kan as werklikheid in my kleuterdogtertjie se begrip of gedagte bestaan? Hoe kan enige skepsel dan GOD in absolute omvang voorstel? Wat is jou intellektualisme werd in die liefde en genade van ons Saligmaker? Wat het ’n kind in onkunde of ’n oumens met Alzheimer van jou sogenaamde "feitelike sekerheid" nodig om geluksalig te wees?
Soos daar geskrywe staan:
"Want nou sien ons deur ’n spieël in ’n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is." 1 Korinte 13:12
Kobus, dit verg die wapenuitrusting van GOD om jou aanmatigende Farisese hoogmoed in aanslag op ander se saligheid as ’n hartseer en pynlike waarheid te merk. Jou waan is so erg dit skyn onwerklik te wees. Dank GOD vir my insig ten dele.
Geen mens ken eens sy eie hart nie. Geen mens kan geloof in GOD deur sogenaamde "feitelike sekerheid" aan ander gee nie. Jy ook nie Kobus. Eweneens kan ek in nederige dankbaarheid van die onuitspreeklike vreugde van GOD ons MOEDER in my HART getuig.
Ja, en so is die onlangse bydrae agter die nom de plume Sondaar, ook toe heel voorspelbaar ’n skip vir goeie buit verklaar in jou gedurige ywer om my verdag te laat.
Dis egter wel so dat ek ook voorheen gereeld onder die skuilnaam as Sondaar op die werf bygedra het. Jy het my toe " uitgevang" omdat ek onder meer "nagelaat" het om my "Hindoe-, Moslem-, Joodse, Katolieke, en Boeddhistiese groete" onderaan te hersien. Die verwysing tussen hakkies agter die naam Sondaar (ook bekend as Cornelius Henn), moes my ook verraai het.
Ek het nie die vaagste benul wie vandag die bydraer agter die skuilnaam Sondaar is nie. Ek bepaal ook nie beleid oor hoeveel bydraers dieselfde skuilnaam mag gebruik nie.
Nietemin, die nuwe Sondaar op die werf se vrou is skynbaar oorlede en hy verwys na sy "Superman-comics". Met alle respek aan die besondere bydraer; geen enkele van sy besorgdhede strook met iets uit my meer as biljoen digitale karaktertjies wat ek die afgelope jare na die werf gestuur het nie.
Tog sal jy in jou verwaande veronderstellinge my probeer neerhaal met:
Terloops – Cornelius, Ronel, Sondaar – hoeveel is daar nog, Kerneels?
Ja, hoe anders. Ek en Ronel het reeds menigmaal openlik verklaar dat ons geen ander kennis van mekaar het behalwe wat ons op die werf met mekaar deel nie. Jy aan't hoofde van jou paranimfe sal egter jou lasterlike veronderstellinge ongestoord voortsit. Jou ego het immers baie seergekry oor die jare heen en sulke ongegronde verdagmakery bly die enigste wraak tot jou beskikking. Terwyl jy gebrek aan ander se karakter meen, staan die werklikheid van jou oneervolle stand amptelik op openbare rekord.
Maar Kobus, ek vergewe jou weereens.
Mag Jesus Christus onse HERE, ons almal vergewe en self die mite van Sy bestaan werklik maak in ons harte.
Hindoe-, Moslem-, Joodse, Katolieke, en Boeddhistiese liefde,
Cornelius Henn (ook soms bekend as Sondaar)

