Jaco, jy loop en spog met jou "Nuwe Afrikaner" (NA) wat dan nou die pas vorentoe sal aangee, maar jy laat ernstig na om vir ons te vertel presies hoe die NA lyk, wie een kan wees en wie nie en presies waarheen julle wil met die NA?
Jy haal Flip Buys aan wat beweer dat hy is 100% Afrikaner, Afrikaanstalig en "Suid-Afrikaner". Maar ek het elders vir jou uitgewys dat dit 'n totaal onmoontlike konkoksie is want geen 100% Afrikaner kan 100% Suid-Afrikaner wees onder 'n bewind waarin wittes en in besonder Afrikaners elke dag op een of ander manier onderdruk, uitgeskuif en alles wat hulle as hul eie beskou, geminag word. Sekerlik is dit nie nodig om te wys op die afskaling van Afrikaanse skole en universiteite, BEE en transformasie op alle gebiede, kwetsende naamsveranderings, hoë vlakke van misdaad - veral teen Afrikaner-plaasboere - om dan net die ergste op te noem.
Sal jy dus op 'n paar vrae antwoord (moet asb nie ontwykend wees of weghol nie):
1. Wie is of kan beskou word as 'n NA - en wie nie? Kan Jonathan Jansen, Henry Jeffreys, Danny Titus (wat Taaitus geword het), Russel Botman, Rhoda Kadalie en die ander wat Thomas in sy stuk oor die Afrikaner genoem het, NA’s wees (as hulle wil natuurlik)? Kan Koos Kombuis, Max du P, Willie Esterhuyse, Jan-Jan Joubert, as NA’s beskou word (as hulle wil natuurlik)?
2. Kan Dan Roodt, Jaap Kelder, Paul Kruger (VVK), die Mulder-broers (en al hulle ondersteuners), Piet Skiet, albei faksies van die HNP, Piet Strauss (eertydse moderator), lidmate van die NGK wat Belhar verwerp, alle lidmate van die APK, alle lede van die Suidlanders, van die IV - en dan selfs ek beskou word as NA’s? Indien nie, wat is ons dan, in watter kategorie of groep of wat ook al word ons ingedeel (behalwe natuurlik as "verkramptes")?
3. Word die NA’s nadat hulle behoorlik geïdentifiseer en saamgetrek is, beskou as 'n "volk" (in Volkekundige en staatsregtelike terme)? En wat noem ons dan die eertydse (maar steeds bestaande) "Afrikaners" of "Afrikanervolk"?
4. Gee vir ons 'n aanduiding - al is dit net in breë trekke - van hoe JY die NA se toekoms sien. Wat is die planne, die agenda? Waarheen wil julle en hoe dink julle kan julle daar kom? Gaan julle met die ANC onderhandel (en op watter magsbasis en met watse aansprake of eise)? Of gaan julle protesteer en betoog?
Ek het nog heelwat vrae oor 'n moontlike politieke party en beleid, oor wie die ware leiers is en oor watter organisasies werklik vaste, volle ondersteuners/aanhangsels van Soliforum is, maar miskien is die las vir eers te veel.
Thys Human (PTA)

