Knoppiesdoringstraat is ’n verrassende, hoogs aangename debuut

  • 0

Daar is ’n paar dinge in die lewe wat my oneindige plesier verskaf. Nee, dis nie die tipe plesier wat met ’n Parental Guidance-waarskuwing gepaardgaan nie – eerder die tipe wat jy met jou dam se ganse wíl deel omdat dit eenvoudig te heerlik is om dit vir jouself te hou.

Ek noem graag vyf van my plesiere in sintuiglike volgorde:

  • ’n Nuwe Sauvignon Blanc wat ek terloops ontdek – yskoud en verkieslik onbekend onder my wynsnobberige vriende. Ken julle die Hemel en Aarde se Creation Sauvignon? Nie! Wel, proe bietjie hier!
  • Die reuk van ’n nuwe boek – of enige boek, for that matter! – as jy hom oopslaan en vir ’n oomblik jou neus tussen die blaaie laat talm.
  • Om die son in hoogsomer oor die see te sien sak, ’n kleurspel van kitch soos hy verdwyn en verskyn, verdwyn en verskyn agter die enkele wolkies wat lyk of hulle uit ’n episode van The Simpsons geknip en op die kim geplak is.
  • Die nat neus van ’n hond wat jy voel as hy in jou nek snuffel om sy onvoorwaardelike liefde te wys.
  • Bowenal die klanke wat ’n mens hoor as musiek gemaak word: die shwienk-shwienk-shwienk van vingers oor akoestiese kitaarsnare, ’n Fender-versterker wat hmmmm, twee tromstokkies wat ritmies teen mekaar ge-tik-tik-tik-tik word voor die band met ’n volgende song begin, die mikrofoon getoets met die woorde "one-two, one-two".
  • En natuurlik daai note, daai eerste note van nuwe musiek deur ’n nuwe groep waarop jy al so lank wag, of die openingsnit van ’n gunstelingkunstenaar wat die eerste keer in jare weer ’n nuwe CD uitgereik het.

Vandeesweek wil ek vertel van ’n debuut-CD, ’n EP met vyf snitte, van die nuwe Afrikaanse folkgroep Die Begin wat my ore bereik het. En volgende keer skryf ek oor een van my gunsteling-chanteuses, die sanger-liedjieskrywer Cat Power, se nuutste CD, Sun, wat onlangs uitgereik is.

Kom ek begin by ... wel, Die Begin se Knoppiesdoringstraat-EP, wat hier gratis afgelaai kan word.

Dit gebeur selde dat ’n plaaslike groep homself bemark as een wat “eerlike, organiese, akoestiese Afrikaanse folkmusiek” maak en dit presies is wat jy kry.

Gevaarligte flikker gewoonlik vir my as ek “folk” en Afrikaans in dieselfde sin raaklees. Ek verwag die ergste: voorspelbare deuntjies hoofsaaklik gemik op ’n hoofstroom-popliefhebber en spookasem-lirieke vrot van elke denkbare cliché in die boek.

Die Begin het egter nie in dié slaggat getrap nie.

Die vyftal snitte is gestroop van enige fieterjasies; dis deur die bank eenvoudige verwerkings, ondanks die feit dat ’n verskeidenheid tradisionele folk-instrumente (banjo, trekklavier, cajon of bokstrom en melodika) ingespan word. Dis juis in hierdie eenvoud waar Die Begin se trefkrag gesetel is.

Die lirieke bied eweneens inhoudelik iets veel meer as die soetsappighede wat Afrikaanse musikante so graag kwytraak sodra daar buite die dampkring van rock musiek gemaak word. ’n Mens kry die gevoel Die Begin het gaan sit en dink oor wat hulle wou sê – die lirieke is nie in ’n oomblik van stroperige geesdrif en ekstase neergepen nie.

Vier liedjies op die EP is oorspronklik, wat in my boeke ’n regmerk verdien, vernaam in ’n genre waar ’n mens maklik geneig kan wees om dit “veilig” te speel deur eers ’n paar cover songs op te neem om die “water te toets”. Die een snit wat wel ge-cover word, behoort ’n aanduiding te wees aan wie Die Begin wel sy ore uitleen: ’n verruklike weergawe van Fokofpolisiekar se "Brand Suid-Afrika" (soos nog nooit voorheen gehoor nie, moet ek byvoeg).

Trouens, gaan kyk jy op die groep se Facebook-blad na musikante wat as invloede gelys word, sal jy gou agterkom of hulle jou kerk se mense is: wie kan stry met Efterklang, Arcade Fire, Fleet Foxes, My Brightest Diamond, Sufjan Stevens, Sigur Ros, Taxi Taxi, en plaaslikes soos Matthew van der Want & Chris Letcher, David Kramer, Riku Latti en Fulka?

My gunsteling is die openingsnit, “Vulkaan”, met sy malse harmonieë en akoestiese snare wat soos ’n getroue GPS die rigting aanwys. Met ’n kortkop is my tweede keuse “Onderhoofmeisie” – ai, daai verruklike banjo’tjie, daai pragtige melodika ... Luister, luister weer, luister nóg ’n keer.

Knoppiesdoringstraat is ’n verrassende, hoogs aangename debuut. Ek reken dit ’n hoogtepunt vir plaaslike musiek in 2012.

Hierdie sestal is bedrewe musikante en ofskoon ek sou verkies dat Liani Reynolds haar sterk stem plek-plek ’n bietjie temper om gemakliker in die folk-register te pas en ek méér van die mans se stemme sou wou hoor, is Die Begin op koers om een van my gunsteling- Suid-Afrikaanse groepe te word.

Gaan laai Knoppiesdoringstraat vandag af!

- Klik hier om Henry Cloete se onderhoud met Jaco van der Merwe van Die Begin te lees.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top