Kliphart

  • 0

Foto: Canva

Kliphart

Uit die Kalahari se rooi stof het ek haar voel stap,
blink hare in die middagson,
oë vol sterre.

Een wat ons voorouers geken het.
Haar stem het in my bors kom lê –
nie donder nie, net waarheid.
Geen god nie. Net familie.
’n Ouma wat my regte naam ken.

Hulle het nooit weggegaan nie.
Ons, die hartmense, dra steeds die soet heimwee –
daardie verlange wanneer die Melkweg oor die akasias stort
en die Suiderkruis brand.

In ons bloed sing iets ouds, sag en hardnekkig:
Jy is gemaak vir liefde, kind.

Tog loop die ander nog tussen ons –
dié met klip waar ’n hart moes bloei.
Hulle sit op trone van vrees en mag,
bou mure tussen harte
terwyl die aarde self bloei.

Maar kyk – ons vind mekaar steeds.
In ’n vreemdeling se stilte,
in moeders se oë,
in ’n visnet van harte
oor oseane en woestyne heen.

Ons is die onthouers,
draers van die woestyne se middaghitte.

Die sluier word dunner.
Druk jou hand hier, broer, suster –
voel die vuur in jou eie bors.
Laat dit die klip sag maak,
laat dit smelt tot ’n rivier van lawa.

Trek jou waens om jou eie vuur.
Vloei saam in dieselfde stroom
met hande wat bou.

Dit is nie oorbegin nie.
Dit is onthou.
Dit is huis toe kom
onder dieselfde Afrika-hemel.

Ons hoort.
Ons het altyd behoort.
Ons was nooit alleen nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top