Kleur
“Freeing yourself was one thing. Claiming ownership of that freed self was another” – Toni Morrison
Was dit Joker of was dit God?
die maan het rooi gelê in royaldene
maar dit was ’n ander soort rooi as die
bloody mary’s by star of the west
of raspberry shakes van die beaconsfield roadhouse –
dié society wat nie poets gehad het nie
maar mense, borderline mense
in barkly-wes se b&b –
alles nou onder die straatlampe van west end se monumente
en grys vergete hope
daar was dit alleen saam met jou
want jy hét gesê – ons sal weer dans
maar nou, sonder jou
die maan het rooi gaan lê oor kimberley se gat
en ons het gedwaal in die spirale van die stad
nes die reëlmaat van jou ribbekas
note uit die savoy swart op jou weinig wit ivoor
’n dialek gemoduleer het –
gewals het op die beautiful metrum van
die nag en where do you go to my lovely se maat
maar die maan
die maan het rooi gaan lê op die straathoek van royaldene
want dáár het jy wit gegaan –
’n anderse soort bleek as die blaswit lampe
of die vergeelde straatname op die homestead map
as die son sak nes dowwe vlamme
teen mynhope se skagte en oopmond-gange
was dit joker of ’n god – Iskariot, moes ek veins
toe ek weer by die drive-in gaan stop het
en oor die vibracrete mure loer
was jy ’n skrootwerf in my gedagtes
selfs die memories van die musicals
en die rooi-mooi van die nagjambe in jou –
dit was lewend, maar nou dood.
***
ek lees die post scripta van jou rooi
in die classifieds van die dfa:
vuil gevat
toegevou in ’n Bruin koevert
teen die slaap
teen die stom donnerse living will
en die wet – ’n sinnelose bevryding
was dit toe Joker of net die nasionale blanje god?
ná dertig jaar en vele vleesgeploeter
het jou pakplek in my koffer leeg gekom
want niemand in die gekamofleerde bordeel van haat
sal ooit gratis met dié donker kan slaap nie
Lien, jy het net skielik
té wit vir my gegaan.
*dfa – Diamond Field Advertiser
Vir Lien (1967 - 1989) en Emile (1964 - 1989)
Kommentaar
Besonders goed geskryf!!!
Ongelooflike werk. Hierdie hoort in Groot Verseboek en in werkstukke van tersiëre studente.
Baie geluk met hierdie roerende gedig. Dit gryp my aan die hart.
Ek geniet die gedig. Die beelde daarin word pragtig geskryf en beskryf. Dit is n weer en weer lees gedig, die woorde moet diep in Kimberley se gat insink om later bo op die oppervlak betekenis te kry. Mooi.
Skitterend!!!!!
Meesterstuk.
Sterk boodskap.
Berdehan Brandt, ek sal die werk oor en oor moet besoek om al die lig en donker, metafore te ontrafel. Dit praat met my.
Estelle, as die metafore vir jou lewend is, dan weet mens dat die motief suksesvol was. Dankie. Ook aan al bg kommentators.