Kersgeskenke is ou-nuus en al die oorskietkos is opgeëet. Die viering van die komende nuwe jaar is volgende op die pleisierkalender.
Vir baie is dit tyd vir oppak en huistoe gaan. As kind was die tweede dag na Kersfees ook die einde van ons seevakansie. Sou dit op ‘n Sondag val, kon ons vir ‘n dag lank nog voete natmaak en klipvisse vang by die klipbaaitjie waar Kleinbaai sleephelling intussen die speelplek van avonturiers geraak het. Soos met die komslag, is ‘n volledige huis weer gepak: beddens, kaste, stoele, tafels, ‘n klein Dover stofie, Primusse, emmers, komme, baddens, trommels, koffers, die orige hout, die hoenderhok, leeg van hoenders en eiers en die sifkas, nou met droogvis in, alles soos ‘n lappiesdeken inmekaar gepas op oom Koos Prens se donkergroen Chev lorrie se bak.
Ons en Moeder moes vooruit Swartstraat se bult opstap en bo gaan wag terwyl Vader met die gelaaide lorrie die sandbult uit beur tot bo op die kop. Te gevaarlik vir ‘n klomp vroumense, het hy gesê en ons het behoorlik asem opgehou terwyl die ou lorrie sand opskop en kantel-kantel die rotsknikke oorgaan. Die volgende uitdaging was Sopieshoogte en daarna Remhoogte. Van daar af was die bulte makliker en meer hardepad Napier toe.
Oujaarsaand was in my grootwordtyd ‘n aand vir oordenking en oumensstories. Die ver familie van Suidwes en Clanwilliam af het kom kuier. Ses grootmense en nege kinders is ingepas in ons beskeie huisie. Twee slaapkamers en een stoepkamer vir die ouers, terwyl die kinders se kermisbed die hele voorkamertjie se vloer beslaan het. Dit moet sekerlik die rede wees waarom ek tot vandag toe nog geen gedruk en gedruis en ongenooide indringing in my persoonlike spasie kan hanteer nie.
Vleisbraai was, anders as nou, ‘n uiterse luukse en ten einde die visse en brode te vermeerder vir ‘n horde honger kinders, is potte sop en bredies gekook en vetkoeke en viskoekies gebak. As soetgoed is twee lampolieblikke van die droë seekoekies wat tant Kato gebak het, op die kombuiskas agtergelaat vir die Oujaar kuiergaste. Dit was die kinders se werk om koeldrank in die skepemmer aan te maak met water, suiker en Exa koeldrank ekstrak. Grootmenswerk om dit oor te tregter in bottels.
Oujaarsaand is almal kerk toe; dus was dit noodsaaklik dat die kinders ‘n deeglike middagslaap inkry. Ten einde hierdie haas onmoontlike taak te kon bemeester, is onder die ouers besluit om ‘n boeresport en vrugtefees op ons groot erf te hou. Oud en jonk het saam speletjies gespeel, waatlemoen geëet, mekaar daarmee besmeer en agterna met die tuinslang afgespuit. Dit was oorgenoeg inspanning om die kleineres moeg genoeg te kry om te slaap.
Die kerk toe stap was ‘n aardigheid so laat in die aand. Die instap in die kerk het gepaardgegaan met niggies en nefies wie mekaar wegdruk en stamp om langs mekaar te kon sit, maar hul poging is netjies deur die ouers gekortwiek. ‘n Mens kon maar ‘n paar sit-nou-stil-knype inboet vir die pret wat sou volg, want daar was genoeg sterretjies om te brand en die vuurwerke in die bure se agterplaas presies om middernag was baie indrukwekkend. Daarna het almal ‘n piekniek van toebroodjies en oorskietkos op die stoep geniet terwyl die grootmense onthoustories uit hulle jongdae vertel het.
Wat het dan intussen gebeur dat ons ons kinders by die diskos aflaai sodat ons ongestoord op ons eie kan fuif? Is dit “die tye” wat so verander het, of is dit ons wat so verander het? Trek ons ons kinders ‘n volle wapenrusting aan of stuur ons hulle wêreld in met die lewensoriëntering wat die skole vir hulle aanbied as enigste borswering?
My Oujaarsgebed vir die nuwe jaar is dat ouers en kinders mekaar nooit vervelig of in die pad mag vind nie en dat hulle sal aanleer om dieselfde taal te praat: die taal van ‘n onverbloemde, wedersydse eerlikheid en onvoorwaardelike, samebindende liefde.
Suikerbrood en suurvye

