
Foto: Canva
Kleihutvroue
vir al die vroue van rural Suid-Afrika
moenie my dood betreur of met blomme vier nie
ekself het geen begeerte om onthou te word
in die konteks van:
wat het sy bygedra tot die aarde nie
ek het ’n behoefte aan die buitengewone
bisarre amusement, ’n na-blik
(tot in lengte van dae) in die terug in,
van my verdorwe onverskilligheid
herdenk my nagedagtenis aan vroue
jong vroue, teen hange van rural green hills
ou vroue wat gebukkend met abba-baba
in ’n rietlapa vuurkonka stook
die vroue wat kruisies op naamstrepies is
vroue wat steeds slegs ’n baarmoeder is
wat ’n epiese teelaarde vir ongeletterdheid is
vir wie die huwelikswet vier dekades
na haar bruidskat betaal is
in hoërhowe moet intree –
dit is dus (vir my) terapeuties
om aan die dood te dink
slegs ’n paar minute in elke dag –
artikuleer dus my asstrooiing
te midde van vyfuur-middagverkeer
naby khayelitsha tussen golden arrow-busse
tussen taxi’s en bakkies oorvol kontrakwerkers
tussen obsene simbole van verwestering
wat mekaar jaag in die vinnige baan
wat dan insny net voor die langa-afdraai
net om voor vensterlose dubbelverdiepings
tussen sinkplaatshacks te parkeer
onthou hierdie kleihutvroue
as ons stemlose meerderheid
wat soos pompende kobraharte
in die (spysvertering-) stelsel
van ongedokumenteerde wanbestuur lewe


Kommentaar
Jy het ongelooflike skryftalent,
Anne-Marie.
Ek wens ek kon so skryf.
dankie my mens. hoogs gewaardeer.🌹
Dis aangrypend, en helder.
Martli... dankie !