Klawerdam

  • 0

(vir xilofoon, kolkende water en ’n dromende vleuelklavier)

Walle wat gebou is, word modder mettertyd.
Die groot dam is ’n spieël, maar dit loop nou stadig uit.

’n Wolk verloor sy maat
die prent loop uit die raam.

Die lug rol op in kreukels modder.
Hier en daar is iets wat dobber.

Alles verdwyn in ’n groot waterjas:
Die dief steel klonte grond en spriete gras.

Al die rus spoel na die see.
Die water gryp hier alles mee.

Iets probeer om nog te bly,
maar als herkenbaar stroom verby.

Tot die knopende water verloor sy greep.
Klank los op in die stroom se vergeet.

Vreugde was ’n opgaardam
nou is dit dolleeg, sout en klam.

Waar die water eers was
sit nou bleek klippe vas.

Net voor diep slaap se sluis kan oopkraak
sien die dammaker iets raak:

Dit is nag, maar in die dam is branders.
Die hele wêreld hierso lyk anders:

Dis swaels wat swerm in ’n spokerig kolk.
Hoe moet hy die nagmerrie vertolk?

Tor en padda en mierleeu se siel
hou aan met maal daar en draai soos ’n wiel.

Hulle dwaal daar in die diepste slaap
tot berusting ’n nuwe tuiste kom maak.

En daar waar die leë dam is
daar droom die bos,

verlang dit na water
die biesies en mos.

Geen vryers of diere wou hierheen meer kom
die plek net te stil en die kluite bly stom.

Die dammaker praat, hy lyk skielik oud.
Al wat hy vra, is genoeg plankies hout.

Die bosbouers is verras oor sy koms en versoek.
Dis soos iets uit ’n sprokie en hoort in ’n boek.

Hulle wys na waar die hout oral lê.
Hy spring na die hope, weet wat hy wil hê:

Dis blonde hout vir ’n klawer
die donkere word pedaal.

Daai brëe, dunnes buig jy hier
dan het jy gou ’n vleuelklavier.

Suikerbekkies bring lym van heuning en boomsap.
Houtkappers help om planke fyner te kap.

Teen middernag skyn die maan hier sag
op ’n nuwe klavier. Die bos kan skaars wag!

Die dammaker speel die nag ’n damwalsonate,
trek die sluise van die klavier oop en luister gelate.

’n Nuwe wêreld van klank
kom op nat grond hier rank.

Motreën val vir die eerste keer in jare
dit deurnat die grond en laat ritsel die blare.

Vir jare bly hy sag speel aan die sonate.
Die klavier rank al toe, maar hy bly dink aan water.

Hy speel die sonate tot hy self nie meer hoor nie.
In die musiek stroom helder sy storie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top