That Great Gig in the Sky (Klassiek wat weergalm in die 21ste eeu)

  • 1

Al ooit gewonder in watter band JS Bach sou gespeel het indien hy eers ná 1965 sy merk gemaak het? Was Jon Lord van Deep Purple (RIP) dalk sy reïnkarnasie? Beethoven sou in sy element wees in Rammstein. En Matt Bellamy (MUSE) sou hard kompeteer met Wolfgang Amadeus Mozart indien hulle in dieselfde era geleef het. ELO en Jeff Lynne se “Mr Blue Sky” sou nog lekkerder geklink het met Paganini op daardie pers elektriese viool.

Om nou sommer so met die deur in die huis te val: The Doors het Albinoni  (1671–1751) se Adagio net so gevat en vir die nuwe geslag van die Woodstock-era verewig in ’n epiese “The Severed Garden”. Maak seker jy’t genoeg bas en gee gas:

Niks nuuts onder die son nie – “The Song Remains the Same”, om vir Led Zeppelin aan te haal. Ludwig van Beethoven is die eerste superster van rock. Luister hoe die vlerke van rock saggies begin te roer onder die oppervlak van die tweede beweging in Beethoven se Sewende Simfonie (vergeet die prentjies  en luister net – die Zurich Tonnhalle-orkes se opname het net die regte tempo om dit te illustreer). Die majestueuse opbou na die einde toe vat jou hoog.

Dis soos om op ’n fossiel af te kom waar die bloudruk van latere evolusie reeds duidelik in die struktuur te sien is. Die onderbou van die  ritme en progressie is onmiskenbaar.  Hier’s die argitekplan van ’n song wat smeek om deur ’n moderne rock band in sy jimmel in gespeel te word. Hoe lyk ’it? In die openingslyne van die Egmont Overture is daar nog ’n riff wat roep. Die koorgedeelte op 3 minute en verder is gróót verby:

Dan is daar die ouens van The Nice wat ’n klassieke tune net so vat en groot pret aanmaak. Luister in hierdie snit hoe JS Bach se Brandenburgkonsert no. 6 inskop op 1:23 sodra ou Saxophone Joe die country pie opgeëet het:

Muzio Clementi (1752–1832) is die komponis van die rondo in Sonatina in G. Só het dit oorspronklik geklink: http://www.allegro.philharmonic.me.uk/clementi-sample.MP3. In 1966 kom die Mindbenders met ’n groovy nadraai en gebruik die tema vir ’n song wat vandag nog deur honderde bands gespeel word: “Groovy Kind of Love”:

.

Oor die volgende song bestaan daar heelwat meningsverskille, maar die waarheid kan nie juis te ver van die boom af lê nie. Sommige mense beweer Procul Harum se tema van “A Whiter Shade of Pale” kom van JS Bach se Air from Orchestral Suite in D af. Luister of jy saamstem.

Só klink Bach se oorspronklike: http://www.allegro.philharmonic.me.uk/Air-sample.mp3. En hier is Procul Harum se weergawe:

Ou vlindervingers Chopin het ook sy spore gelos met die “Funeral March” in sy Prelude in C Mineur. Só sou hy dit self gespeel het:

Is dit nie mooi nie? Nou ja, die parallel is nie te onherkenbaar nie. Ons almal weet Barry Manilow het dit in die sewentigs in ’n reusesukses omskep. Persoonlik verkies ek om eerder te kyk na Donna Summer se Motown-weergawe van “Could it be Magic”:

In “Russians” sing Sting van hoe die Russe ook hulle kinders liefhet:

 
Die tema is gebaseer op Prokoviev se Romanse van Lt Kije-suite. Só klink die klassieke weergawe: http://www.allegro.philharmonic.me.uk/Romance-sample.mp3.

In 2004 gebruik The Farm die bekende Kanon in D van Pachelbel om die kasregister te laat klingel. Niks soos ’n bietjie Barok vir harde katching nie.

Hier’s die oorspronklike Barok-weergawe: http://www.allegro.philharmonic.me.uk/Pach-sample.mp3. My Chemical Romance se onlangse massiewe treffer “Black Parade” is ook op hierdie kanon gebaseer:

Ook die rappers geniet hulle gate uit met die Classics. Hier vat Warren G Borodin se tema uit Prins Igor vir ’n lang rit in sy limo:

In 2004 laat Jem ’n derde generasie van JS Bach se Prelude in F Mineur herleef. Derde generasie, omdat hulle die Swingle Singers se a capella-weergawe vat vir ’n sample en dan hulle eie daarvan maak:

Hierdie artikel kan eindeloos wees en daar is honderde voorbeelde wat hier bo ingevoeg kan word. ’n Gepaste klimaks vir eers is die Matt Bellamy (MUSE) / Frederic Chopin-duo wat die oorhand kry in “United States of Eurasia”. Luister veral vanaf 3:40 hoe emosievol en suiwer Chopin se Nokturne in E-Mol herleef. Dit klink of die meester self op die verhoog is. Dis om van te huil, so mooi is dit. Wat my betref, is Matt Bellamy dié klassieke komponis van ons tyd. Luister enduit. Hard.

Lekker.

  • 1

Kommentaar

  • Plinius die veel veel jongere. Dis 'n baie cool vel papier hierdie.  Wat van Pink Floyd se Atom Heart Mother. Of Five Bridges?  Rick Wakeman, ja die hele blerrie Prog Rock spul.  Hmm, goeie tye en goeie musiek.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top