
In Klas-colloquium gesels opvoedkundiges oor die stand van allerlei skoolsake in Suid-Afrika.
Agtergrond
Suid-Afrikaanse leerders steek besonder sterk af in internasionale maatstafevaluerings in, onder meer, wiskunde en die fisiese wetenskappe. Vergelykende internasionale studies bevestig keer op keer dat Suid-Afrikaanse studente afsteek wat taalgeletterdheid, taalvaardighede en basiese wiskunde- en wetenskapvaardighede betref. Plaaslike leerders presteer gereeld uiters swak, indien nie die heel swakste nie, in internasionale studies soos die Progress in International Reading Literacy Study (PIRLS) (Mullis, Martin, Kennedy & Foy 2007), die Third International Mathematics and Science Study – Repeat (TIMSS-R) (1999) en die Trends in Mathematics and Science Study (2003). Ons het boonop onlangs weer (Desember 2014) verneem dat slegs 10,8% van hulle wiskunde geslaag het in die sogenaamde ANA-toetse (jaarlikse nasionale assesseringstoetse waarin graad 1- tot graad 6-, en ook graad 9-leerders, se lees- en syfervaardighede geassesseer word). Die meriete, maar veral ook die nadele, verbonde aan die aflê van hierdie toetse is wyd bespreek. Die ANA-toetsing-uitdaging is maar net nog ’n bewysstuk dat wiskunde- en fisiesewetenskappe-onderrig in Suid-Afrika in ’n krisis is. Voeg hierby die jongste graad 12-uitslae (wat aangedui het dat leerders se prestasie in wiskunde en fisiese wetenskappe aansienlik gedaal het).
![]() |
| Koop Counselling for Career Construction – Connecting Life Themes to Construct Life Portraits by Kalahari.com |
Heel voorspelbaar word vingers ywerig oor en weer gewys en word blaam ruimskoots uitgedeel. ’n Wye spektrum betrokkenes word direk of indirek die skuld gegee, beloftes word telkens gemaak, nuwe planne aangekondig sonder dat ons noemenswaardige vordering sien. Huidige ingrypingsprogramme misluk grotendeels. Suid-Afrika is boonop ’n groot uitvoerder van, onder andere, mediese dokters en ingenieurs, terwyl vaardigheidstekorte in feitlik elke sektor van die ekonomie toeneem.
Belangrikheid van wiskunde- en fisiesewetenskappe-punte
Leerders se wiskunde- en fisiesewetenskappe-punte beïnvloed aspekte soos moontlike toelating tot universiteitstudie, beursverkryging, indiensneming en, uiteindelik, die ontwerp van hul toekoms en lewensgeluk potensieel ingrypend. Onderprestasie in veral die natuurwetenskappe, op skool- sowel as tersiêre vlak, benadeel studente se kanse om hul potensiaal te verwesenlik en skaad uiteindelik die nasionale ekonomie.
Redes vir leerders se ontoereikende prestasie
In talle radio- en TV-programme en koerantnavrae oor die onderwerp het ek dit in die verlede gestel dat die volgende redes aangevoer word vir die ontstellende situasie:
- Die algemene tekort aan (en swak opleiding van talle) onderwysers in wiskunde en fisiese wetenskappe, by uitstek in plattelandse en townshipskole.
- Die gebrek aan toepaslike hulpbronne (onderrig- en leermateriaal) in hierdie skole.
- Die algemene swak sosio-ekonomiese omstandighede in die meeste van hierdie omgewings, wat meebring dat talle ouers soms lang ure ver weg van hul huise werk en dus nie toepaslike steun aan hul kinders kan verleen nie.
- Die ontoereikende betrokkenheid van talle ouers by hul kinders se onderrig en leer.
- Die skreiende gebrek aan toepaslike beroepsvoorligting in bykans al hierdie skole. Leerders wat ’n idee het van wat hulle wil word en die belangrikheid van wiskunde en fisiese wetenskappe as voorvereiste vakke begryp, is vanselfsprekend meer gemotiveer om harder te werk in hierdie twee vakke (2013a).
- Die gebrekkige motivering onder en opleiding van talle onderwysers. Te veel onderwysers beskik nie oor die nodige funksionele kundigheid om alle fasette van leerders se persoonlikheidstruktuur tydens leerfasilitering van wiskunde in aanmerking te neem nie.
Ironies genoeg is die voorgenoemde die geval ten spyte daarvan dat onderwys die grootste begroting het.
Wat is die gevolge van ontoereikende prestasie in wiskunde- en fisiese wetenskappe?
In vorige artikels (Maree 2010, 2012, 2013b, 2014) het ek kommer uitgespreek oor die feit dat die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel die sosio-ekonomiese foute versterk wat reeds so tipies en algemeen in Suid-Afrika is. Hierdie probleme in die onderwys speel ’n sleutelrol in Suid-Afrika se onvermoë om die vereiste ekonomiese groeikoers van 6% te behaal. Die maatskaplike en sosio-ekonomiese marginalisering van die armste en mees kwesbare mense in Suid-Afrika gaan onverpoos voort en die situasie versleg selfs (Bloch 2009). Werkloosheid en die sogenaamde draaideursindroom op universiteitsvlak besorg almal hoofbrekens.
Hoe kan ons die uitdaging hanteer?
Sosio-ekonomiese opheffing van leerders wat deur ernstige benadeeldheid uitgedaag word, is noodsaaklik. Die kanse op sukses in die natuurwetenskappe vir leerders wat universiteit met ’n ontoereikende skolastiese agtergrond betree, is immers betekenisvol swakker as dié van leerders wat beter voorbereid is. Sulke leerders behoort van meet af aan addisionele hulp te kry. ’n Gekombineerde kwantitatiewe plus kwalitatiewe benadering kan in hierdie verband ’n betekenisvolle rol speel: die fokus moet nie slegs op syfers soos punte wees nie, maar op die geheelbeeld (sien my aanbevelings hier onder). Die inhoud van wiskundekurrikula behoort leerders ook uit te nooi om benewens kognitiewe wyse ook gevoelsmatig en konatief by die verwerwing van kurrikuluminhoude betrokke te wees. Ek stel ook voor dat praktiese, beroepsgeoriënteerde wiskunde- en fisiesewetenskappe-kurrikula ontwerp word wat leerders in staat sal stel om hulself bevredigend te konstrueer en uiteindelik loopbane te kies en suksesvolle lewens te ontwerp. So ’n benadering bevorder boonop onderwysers se refleksie oor hul onderrigpraktyk en dra potensieel by tot die maatskaplik verantwoordbare benutting en (veral) interpretasie van numeriese resultate (waarby statistiek ingesluit word) in wiskundeklasse.
Afgesien van die regstelling van die faktore waarna ek onder die hofie “Redes vir leerders se ontoereikende prestasie” verwys het), sluit ek af met enkele konkrete aanbevelings (wat in wese neerkom op die implementering van ’n meer positiewe benadering tot wiskunde en fisiese wetenskappe). Dit sluit onder meer die volgende aspekte in:
- Voorrang moet gegee word aan die daarstel van besprekingsdokumente wat refleksie deur sowel onderwysers as leerders sal bevorder. Strategieë moet beplan word om leerders te help om: aanvaarbare en effektiewe studiemetodes en -gewoontes te verwerf, hul houding teenoor die vak meer positief te maak, asook hul probleemoplossingsgedrag en selfvertroue te verbeter. Aspekte soos leerders se vermoë om akkuraat te verbaliseer wat hulle doen, asook hul kennis van die woordeskat van die twee vakke in samehang met hul punte in toetse en eksamens behoort uit te maak van die refleksie op rapporte van die stand van hul vaardigheid op ’n bepaalde tydstip
- Afgetrede wiskunde- en fisiesewetenskappe-onderwysers behoort so ver moontlik teruggelok te word na die beroep – teen markverwante salarisse.
- Afstuderende wiskunde- en fisiesewetenskappe-onderwysers behoort verplig te word om gemeenskapsdiens te verrig. Hierdie aspek behoort noukeurig beplan en met toepaslike, simpatieke onderhandeling en inagneming van individuele studente se idiosinkratiese behoeftes en omstandighede gehanteer te word. Sake soos veiligheid en salaris staan voorop. Studente wat hulle bereid verklaar om in afgeleë en townshipskole onderrig te gee, behoort toepaslik en addisioneel daarvoor vergoed te word.
- Huidige en afgetrede dosente en onderwysers in omgewings waar die grootste nood bestaan, behoort betrek te word as mentoronderwysers vir diensdoende wiskunde- en fisiesewetenskappe-onderwysers.
- Ouers moet op elke onderwysvlak betrek word.
Politieke gedienstigheid behoort vanselfsprekend geen rol in sulke besluite te speel nie.
Afsluitend
Ons beskik sonder enige twyfel oor die mense- (leerder-, onderwyser-, ouer-) potensiaal om die situasie die hoof te bied. Ons moet net die menslike hulpbronne waaroor ons reeds beskik, optimaal benut. Die vraag is: Wíl ons? Régtig?
Verwysings
Bloch, G. 2009. The toxic mix: What's wrong with South Africa's schools and how to fix it. Tafelberg, Kaapstad.
Maree, JG. 2010. Critical appraisal of the system of education and prospects of meeting the manpower and developmental needs of South Africa. Africa Insight 40(2), 85–108.
—. 2012, ’n Voorlopige studie tot die waarde van ’n gekombineerde kwantitatiewe-kwalitatiewe benadering tot beroepsvoorligting met ’n natuurwetenskapstudent: ’n longitudinale gevalstudie. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie, 31(1).
—. 2013a. Counselling for career construction: Connecting life themes to construct life portraits. Turning pain into hope. Sense, Rotterdam, Nederland.
—. 2013b. Assessering in wiskunde: Die behoefte aan ’n positiewe benadering. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie, 32(1).
—. 2014. Geïntegreerde, kwalitatiewe en kwantitatiewe beroepsvoorligting en beroepskonstruksie vir ’n aandagafleibare seun met tegniese belangstelling en aanleg lei tot positiewe resultate. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie, 33(1). Art. #1183, 11 bladsye.
Mullis, IVS, MO Martin, AM Kennedy en P Foy. 2007. Progress in international reading literacy study. PIRLS 2006 report. Chestnut Hill, MA, TIMMS & PIRLS IEA.


