Klaagsange

  • 0

Vir Lisbé

1 Mini-vers

Vermoor
verlaat
vertrek
verpletter
verdwyn
verloor
verkwyn
verby
verdriet

2 Tussen-in

Geen internet, geen e-pos,
geen sms òf telepatie
sal jou glo bereik,
sê die wat weet ...
Daar waar jy nou is:
tussen-taal, tussen aarde
en hemel, tussen-in ...
Net twee maniere van praat,
word saans met besoektyd toegelaat:
’n suiwer gebed sonder omhaal
van letters, en, so meen
die Boeddhiste, ’n gedig
sonder fieterjasie, dubbel-
spraak òf sketter ironie.
So excuse the pun!
As ek dus vanaand, sonder om te pla
iets klein en eerlik mag versend, net dit:
mag jy buite ons verlies en verlange
(jou komputer se nuwe monitor
het terloops sopas gearriveer
en jou oggendpos
- met jou naam – lê
koelbloedig
voor jou toe deur)
vredig en in stilte
finaal
vertrek.

P.S.

Ek sou hierdie dag
soos ’n aaklige e-pos
wou delete.

3 “This number is currently unavailable”

Ons laaste gesprek
onverwags
onderbreek
en toe ek terugbel,
is jou foon glo
tydelik onbeskikbaar.
’n Blikstem
dalk ’n voorbode?
Onverwags
onderbreek
onbeskikbaar
en hierby
onmoontlik
om ooit
weer na te dink
oor woorde
met die prefiks on-
te dink: boonop
sal ek
jou helder stem
nooit weer op my selfoon
ontvang.

4 Driemalig verskyn

jy aan my. Eers beur
jy deur iets soos glas.
Jy staan en klop,
maar ek hoor jou nie.
Onmagtig om jou binne te laat in my aardse huis.
Hier benede is alles ontheg.
Toe maak jy jou opwagting
in ’n tobbende droom.
Jy verklaar jou ongerief,
selfs opstand
met jou ontydige vertrek.
Tot hoor en sien vergaan.
Toe sien ek jou op ’n middag-
trein by ’n venster uithang:
jy staan by die venster en waai
verbete, ónvrolik na my.
En ek?
Met wie gaan ek nou my drome,
die woordelose video’s uit die onbewuste bekyk?
Wie gaan help redigeer en sny
(ek hoor jou steeds roep na ’n pynlike opbreek:
“Cut it out!”) aan hierdie footage?
My regisseur, altyd op standby.
Wat sou jy maak van ’n droom
(by herhaling, eentonig)
sedert jou dood? ’n Palindroom?
Ons staan in lang rye
in ’n hospitaalgang
met ’n fotograaf:
sy priemende blik maak inbreuk:
voetjie-vir-voetjie skuifel ek nader ...
Die gedig sit vol halfryme,
onsekerhede, veral onafhede.
Want sedert jou vertrek,
breek my drome
soos woordelose glas.

5 Die mens soos gras

Soos gras
was ons dae
saam;
pluksaadgras
wat weerloos waai
teen die winde
ja die winde
Soos gras was ons dae
saam
pluksaadgras
wat saad skiet;
sal uitwaaier
oor rotse en
sandduine:
om onverwags
in Bybelse vrugbare grond
te groei
nes in
die Gelykenis van die Saaier,
net soos.

6 “Gereedskapgesels lei tot omhels”

Op ’n dag meen jy:
“Jy leef gevaarlik,
aan die rand van jou eie afgrond.”
Een laatmiddag neem ons foto’s
van mekaar (ons raam die oomblik).
Ek staan neffens
’n plastiekmodel met ’n dik tong
om al die klinkers en medeklinkers,
frikatiewe, diftonge aan te toon.
Ons praat oor die ewebeeld
van dié proses; die vuurtong
brand vir dié wat glo:
daar is geen digters nie,
alleen maar die digkuns.
Op jou lessenaar lê
’n stuk gereedskap (die printer het al weer
loop staan) waarmee
jy eiehandig
die fout regstel.
Daar was ’n skroewedraaier ja,
en ’n wurggreep
toe jy die dood
teen wil en dank
moes omhels.
En ek?
Ek raam my herinneringe,
al my onthou’e - maar my tong sit loodswaar
in my mond, ónwennig om te sing.

7 Murder she wrote

My uiters private
toegedoekte
stil
op die agtergrond,
wars van die kalklig,
soeklig,
“boksmaat en skermmaat”
se lewe word gehang
aan die groot klok:
asof sy in ’n TV-speurverhaal optree,
(met die digter as die speurende Jessica).
Haar bruilof
op die voorblad van ’n dagblad uitgestal.
Om haar nek, as jy mooi kyk,
hang die doodskleed
waarin ons haar later sou toedraai.
Dalk dit die ergste?
Hoe die binneste uitwaaier
na die ruimte van die buitenste?
Met hierdie vers
vra ek vergifnis vir die betreding
(liggaamlik en geestelik)
èn oortreding:
’n Durende uitkenningsparade.

8 Slotte is ook sleutels

Kort dan voor sluitingstyd
begin jy met opruiming:
jy pak jou kantoor reg;
gooi ou papiere weg in ’n swart sak
en boonop asof met ’n voorgevoel
raak jy woedend
toe iemand ’n boek optel
in jou private boekruimte.
’n Forensiese speurder
bepaal ook hoe jy sterf;
ruim die gebied op nadat
hulle voetjie-vir-voetjie
jou dood rekonstrueer
en jou ten slotte
in ’n sak
opmaak
wegpak
toemaak.
In sak en as
soek ek na sluiting,
na sin, na ’n slot.
Dood begin nie by die voete
nie, nee. Dit begin met voorwetes,
drome. Met sleutels
wat afbreek in slotte.

9 Dood is ’n harde ding

om te verstaan, waarsku ’n digter
iewers. En sedert jou dood,
word intertekstualiteit
en ander geleerde woorde
om hierdie proses te beskryf,
iets soos
’n wete dat ek nooit weer
’n gedig sal kan lees
sonder om te weet:
wat verlore gaan, nie in rym
of metrum sy beslag kan kry.
Wat buite ironie of spel lê,
is dat ek jou lank vóór jou uittog
jou verloor het
aan die dood van woorde.

10 Droom:moord

Gisternag stap ons saam
in ’n winkelsentrum, ek en jy.
Jy beweeg weg van my
met die belofte dat ons nou-nou
weer ontmoet. Maar ek wag
alleen
in ’n donker, uitsiglose droom.
Jy daag nie op. Ek wag vergeefs.
Toe ek wakker skrik,
ontdek ek dié proses
het ’n palindroom.
Ek sou jou tog wou vra:
hoe gaan ek uit hierdie doolhof
kom sonder die draad
van jou insigte
en begrip?
As ek, as ek net
nog eenmaal met jou, Ariadne
kon vertoef.

11 Drome is ook wonde

Kort voor jou dood
kyk ons na ons drome: in my droom
is ek ’n gebou wat brandend staan
sonder vuurblussers
met ’n wenteltrap
verroes
en sonder stutte ...
En jy?
Jy droom jy slag
’n waatlemoen in stukke op
en keer terug na jou geboortedorp.
My voete loop na Montagu,
maar ek gaan woester toe.
En ek sing van die Wellingtonse suiker
by die trippens die pond
in ’n moederkerk
waar ons twee keer bruilof hou:
met Breyten
in jou begrafnisbrief.

12 Lost in translation

Stadig maar seker
verlaat jy ons.
Vele toevallige herinneringe
probeer ek in ’n vers besê.
Jy was ’n kenner van die metafoor,
nee, mens èn meer.
Dié wat driemaal sterf, dié sterf glo nie meer:
Daar waar jy nou is, sou hul weet
hoe ons ondermaans
wanhopig, verdrietig, onvredig
ons verlies en verlange
in subjunktiewe vertaal?
Maar dit was geskryf op varkensblaar,
jou lot ook vooruit bepaal.
As ek nog net eenmaal, net eenmaal
jou om my kantoordeur kon sien loer
of jou voetstappe in die gang
kon hoor klink,
terwyl jy laggend aanmeld,
sou ek vol kon staan:
die mens is metafoor èn dus vermeld.
Voor jou deur
In wit-en-swart hou
Antjie Krog
die wag: ’n foto
is ook totem
teen die smart,
om wat jý, net jý eenmalig,
éénmaal, enkeld was te eer
én die bose af te weer.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top