ABSA KKNK 2013 Kuns: Vergete verledes

  • 0

Vergete verledes

Cobus van Bosch
Solo-uitstalling

Kgosi Toto en onderdane na hul oorgawe aan Kaapse koloniale magte naby die Langeberg in 1897 – Olie op doek

Die geskiedenis van Suid-Afrika is deurspek met gebeurtenisse en werklikhede wat groot nuuswaarde en impak op die destydse tydsgees gehad het. Baie daarvan het egter “vergete” geraak, of is oorskadu deur later gebeure, soos die Anglo-Boereoorlog en die opkoms van georganiseerde swart verset.

In Vergete verledes word deur olieskilderye onder meer gefokus op die geskiedenis van Suid-Afrikaanse minderheidsgroepe, soos die Nama, Griekwa en ander groepe wat later kollektief as “kleurlinge” geklassifiseer is, asook dié van kleiner swart groeperinge (Bathlaping, ens) in Suid-Afrika.

Van dié geskiedenisse sluit in die Bathlaping se verset teen die Kaapse koloniste in die Kimberley-omgewing, die opstand en onderdrukking van die sogenaamde Israeliete by Bulshoek, die vestiging van die Rehoboth-Basters suid van Windhoek en die Herero’s se dorstrek deur die Kalahari van die destydse Duitswes-Afrika na die Transvaal. Ook die destydse dorslandtrekke van Afrikaners van die ou Transvaal na Duitswes en Angola was ’n belangrike gebeurtenis van sy tyd.

Die reeks is sterk gewortel in die portret- en landskapkuns, en gegrond op historiese swart-wit argiefmateriaal (19de eeu) uit museum- en biblioteekversamelings. Die ondersoek is veral gefokus op lyftaal en hoe die impak van ingrypende gebeure daarin weerspieël word. Die meeste van hierdie foto’s is geneem in ’n tyd toe fotografie relatief nuut was. Daar was nog nie ’n gevestigde kultuur van posering vir die kamera nie, veral nie hoe dit vandag bestaan in populêre en politiek-geïnspireerde tradisies van self-voorstelling nie. Daar is straks dus 'n “ander waarheid” wat straal uit die lyftaal van mense wat die vroeë Suid-Afrikaanse konflik tussen kulturele groepe en ekonomiese belange moes trotseer, sonder die sielkundige steun van nasionale bevrydingsbewegings en internasionale simpatie. Terselfdertyd, veral tydens rare onbewaakte oomblikke voor die kamera, bevestig hulle hoe menslikheid deur die eeue onveranderd gebly het.

Gratis daagliks, Prince Vincent-gebou, Baron van Rheedestraat

 

Geen virtuele kunsgalery tans beskikbaar.

Gaan terug na die kunstenaarlys
 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top