ABSA KKNK 2013 Kuns: Amper Almal

  • 0

Amper Almal


Alex Hamilton
Solo-uitstalling

Alex Hamilton het vier jaar gelede ’n projek begin waarin hy die geskiedenis van internasionale popkultuur en “celebrity”-kultuur vertel deur die medium van handgesnyde stensilportrette. Vir die uitstalling Amper Almal konsentreer hy op die top Suid-Afrikaanse ikone en beeld hy die komplekse en diverse karakters van Suid-Afrika se geskiedkundige en populêre kultuur uit.

Straatkuns, graffiti en klassieke pop-kuns is die inspirasie vir elke helder-gekleurde 7,5 x 11 cm hout-ikoon met die handgesnyde stensilportret daarop. Hierdie groot versameling kunswerke spreek tot ’n baie wye gehoor, aangesien elke vorm van populêre kultuur verteenwoordig is. Die uitstalling ondersoek verskeie aspekte van kulturele gedrag, insluitend die kompulsiewe versameldrang en die obsessie met navorsing en ontdekking. En dit beklemtoon die feit dat ons samelewing verenig is deur ons bekoring met roem.

Hierdie ikone is ’n sterk gesprek-aanknopingspunt: die kykers deel dikwels stories van kollektiewe herinneringe, positiewe nostalgie en helde-aanbidding. As ’n versameling bied dit ’n fassinerende en opvoedkundige visuele biblioteek van ons geskiedenis. Van skoonheidskoninginne en die Sophiatown-sangers tot die Sestigers en vryheidsvegters, openbaar al die kategorieë in die uitstalling die diepgewortelde talent en karakter van ons ryk Suid-Afrikaners.

 

Besoek die virtuele kunsgalery

 

Gaan terug na die kunstenaarlys

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top