
“... when you feeling like a lady...”
Robert Hamblin
Solo-uitstalling
“Djy ganie ons onner die brug kom afneem nie, ons is ladies …”
In 2006 hou Robert Hamblin ’n uitstalling by ABSA KKNK – Binary Farm (Gender) wat openlik handel oor geslagsverandering en hy kyk na vrae om patriargie en gender kontinuums.
Hy voltooi ’n sirkel dié jaar by die visuele kunste van die ABSA KKNK met sy nuutste werk in dieselfde luim. In 1998 hou hy sy eerste publieke uitstalling by die ABSA KKNK as jong aspirant-kunstenaar. Die uitstalling Millenium Man vra destyds al vrae oor manlikheid. Die ABSA KKNK het hom gereeld in die jare daarna gesien en was altyd die plek waar hy nuwe paaie begin het.
Na ’n kunstehibernasie van etlike jare is hy terug met drie stelle werk wat manlikheid weereens bekyk vanuit verskillende perspektiewe en hy skop af by die ABSA KKNK met ’n stelwerk wat handel oor ’n ervaring wat hy gehad het met ’n groep straat-trans-mense in Woodstock, Kaapstad.
|
|
When You Feeling Like a Lady |
Hy beskryf die reeks werke as “bewegende maskers”. Die foto’s is kontemporêr en hy werk vanuit ’n nie-realistiese perspektief, al fotografeer hy mense wat relatief verband hou met die onderwerp van manlikheid en trans-identiteite.
Hy beskryf die werk as volg: “’n Versameling van my ervarings met ’n groep trans-gender sekswerkers. Hulle behoort almal aan ’n steungroep en hulle is nie-polities. Die aansoekverwagting is eenvoudig: ‘You belong with us if they think you are a man but you are feeling like a lady.’
“Ek noem dit ervarings omdat ek dit op ’n konsultasiebasis met hulle aangepak het en sodoende die voyeurisme van fotografie probeer verdun het. Ek het die konsep aan hulle verduidelik en gevra hoe hulle hulself sou wou uitbeeld. Die oorgrootte meerderheid van hulle is homeless en kom vanuit besonder arm agtergronde. Hulle identiteit was van kleins af ’n uitdaging vir hul skole en families en die meeste het op straat grootgeword sedert hulle puberteitsjare.
“Tydens konsultasie oor die fotosessies het ek gevind dat hulle, net soos enige ander mens, eerder ’n persoonlike ervaring sal verkies wat fokus op hulle beste en nie op hulle swaarkry nie.
“Die fokus het geval op vroulikheid, beweging en ’n duidelike bewustheid van hulle manlike liggame, ten spyte van die determinasie om hulle vroulike identiteite te laat deurskemer.
“Die proses het tog hulle kwesbaarheid vasgevang en universeel die kwesbaarheid van die menslike liggaam.”
Na aanleiding van die sensitiewe en moontlik eksplisiete natuur van die uitstalling is daar ’n ouderdomsbeperking van 18.
Gratis daagliks, Prince Vincent-gebou, Baron van Rheedestraat
Geen virtuele kunsgalery tans beskikbaar.
Gaan terug na die kunstenaarlys
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.


