Vanaf 2 tot 13 Oktober is dit weer die gebruiklike Kinderboekenweek in Nederland. Dit is ’n spesiale leesweek vir kinders tot twaalf jaar. Vanjaar se organiseerder, Stichting Collectieve Propaganda van het Nederlandse Boek (CPNB), het goed nagedink oor die tema: sport. Die onderliggende rede hiervoor is waarskynlik ’n toenemende besorgdheid oor die afname in lesersgetalle, veral onder seuns. Seuns wil van sport, oorlog, helde, humor en “grieselverhalen” lees, volgens die NRC-Handelsblad van 27 September. Op die vooraand van die Kinderboekenweek is die Gouden Griffel 2013 toegeken aan Simon van der Geest. Van der Geest skryf vir seuns. Spinder (2012, Querido) is van hoogstaande literêre gehalte. Dis die tweede keer dat Van der Geest die Gouden Griffel wen. In 2011 het sy jeugboek Dissus (’n Odysseebewerking) dieselfde prys ingepalm.
Dit is tans vir baie ouer Nederlandse lesers ’n raaisel waarom die jeug soveel minder lees as wat hulle self vroeër gelees het. Dat Nederlanders met ’n leeskultuur grootgeword het, staan soos ’n paal bo water. Mens hoef net te luister na die aantal voorgeskrewe boeke wat hulle aan die einde van die sewentigerjare verpligtend moes lees en dit dan vergelyk met jou eie Afrikaanse ervaring. In 1978 moes my wederhelf byvoorbeeld twintig Nederlandse romans lees. Hy kon sy keuses saamstel uit ’n groot leeslys. Tydens boekbesprekings en -verslae is leerlinge se eie menings oor wat hulle gelees het, individueel beoordeel, sonder ’n uitspraak oor reg of verkeerd. Blykbaar was sulke aktiwiteite rondom boeke ’n lewendige besigheid. Dit het lees buite die klaskamer verder gestimuleer.
Selfs vandag nog moet die 17-jarige Suid-Afrikaanse Janneke Scheeres, wat nou in Drunen bly en op dieselfde onderwysvlak is as my man destyds, tien Nederlandse boeke in haar matriekjaar lees. Die hoeveelheid verpligte leeswerk het in Nederland dus noemenswaardig afgeneem die afgelope dertig jaar, maar tog! Hoe vergelyk dit met die aantal verpligte Afrikaanse boeke vir ’n matrikulant in Suid-Afrika?
Solet Scheeres, ma van Janneke en self ’n Afrikaanse jeugboekskrywer uit eie reg, som die klimaat in die Nederlandse literêre jeugwêreld so op:
Die Nederlandse onderwyssisteem is wraggies nie daarop gerig om kinders literêr besig te hou nie. Dit is 'n land waar “begrypend lezen” veral beteken dat jy ingewikkelde, dikwels niksseggende, swaar artikels moet beoordeel aan die hand van vyftig meerkeuse vrae. Ek het nog altyd die lekker boeke uitgesnuffel en agter my kinders aangedra om te lees – vir geld. Nou is hulle lief vir lees, maar die Nederlandse onderwys het niks daarmee te make gehad nie. Wat die kinders wél goed leer, is om analities te dink oor tekste. My kinders lees elke dag die koerant en kan leesstof baie diepsinniger ontleed as wat my ervaring is van hulle Suid-Afrikaanse tydgenote. Hulle word van kleins af geleer om tekste te bevraagteken, om nie alles vir soetkoek op te eet nie en om hulleself duidelik en gestruktureerd uit te druk in argumente.
Twee vrae wat spontaan ontstaan na Scheeres se ontleding van die huidige leesklimaat is die volgende: Is die swaar-verworwe vaardigheid om analities te lees en na te dink na aanleiding van ’n roman, ná twee geslagte in Nederland ingekort tot ’n 50-punt-vraelys? En word dit regtig net op koerantartikels toegepas? Toegegee, die gehalte van koerantartikels in ’n byna geweldlose samelewing is ligjare beter leer- en leesstof as in ’n gewelddadige samelewing. Tog sou dit ’n kwade dag van vervlakking wees vir die tipies eiesinnige en onafhanklike meningsvorming van Nederlanders as dít waar was!
![]() |
|
Simon van der Geest(Foto: Chris van Houts)
|
Die Kinderboekenweek is egter gerig op kinders tot twaalf jaar. Ondanks pragtige Nederlandse prente- en kinderboeke en ’n tradisie van voorlees daal die aantal lesers (veral onder seuns) dramaties. Baie dinge word daarvoor die skuld gegee: ouers wat nie meer tyd het of maak om voor te lees nie; min mansonderwysers in klasse; te veel boeke met meisieagtige temas soos vriendskap, verliefdheid, humor en diere; rekenaars en rekenaarspeletjies; ure lange televisiekyk elke dag; en die grootste en nuutste gogga: die sosiale media!
Kinders wat onafskeidbaar is van hulle selfone en voortdurend Facebook, What’s App en Twitter, raak verslaaf daaraan én hulle word vet. Die wetenskaplikes noem dit socialbesitas. Daarom het die CPNB vanjaar se tema – sport – slim gekies. Dit is ’n poging om die Nederlandse kinders weg te kry van al die elektronika af, vetsug te bestry en veral seuns aan die lees te kry. Al die ge-What’s App, ge-Facebook en ge-Twitter lei ook tot ’n kort aandagspan. Kinders wat aan socialbesitas ly, is nouliks in staat om ’n boek deur te lees.
Al hoe meer ouers word bewus van hulle kinders se verknogtheid aan sosiale media. ’n Ma beskryf in die NRC-Handelsblad van 2 Oktober haar 12-jarige se gedrag: “Er zit wel iets verslavends in het telefoongebruik van mijn dochter. Toen ik hem [die selfoon] een keer had afgenomen, werd ze kwaad. Alsof ik een junk zijn drugs afnam.”
Selfs die wetenskapsbylae van NRC-Handelsblad op 11 September het hierdie Kinderboekenweek ondersteun, met die volgende teks by ’n foto: “Er zijn weinig bezigheden die zo inactief zijn als tv-kijken. Zelfs het lezen van een boek is beter.”
Simon van der Geest se Gouden Griffel-wenner sal hopelik sneeubal met hoë verkoopsyfers tot in die klaskamers. Die verhaal gaan oor twee broers wat stry oor hulle huis se kelder. Die hoofkarakter, Spinder, wil sy terrarium met insekte daar aanhou. Sy broer, Jeppe, wil sy tromstel daar bêre. Spinder word as ’n “grimmige broederstrijd” en “bloedstollend” beskryf. Van der Geest sê in ’n onderhoud met Thomas de Veen oor sokker: “Ik vind sport als Kinderboekenweekthema heel goed, maar ik las ergens: ’Leg je boek maar aan de kant …’ Nee, dat moet dus niet! Lezen is niet de tegenovergestelde van voetbal. … Net als een intensieve, fanatieke voetbalwedstrijd zijn boeken ook een manier om te oefenen met grote emoties. Dingen die je niet echt in zou willen meemaken kun je wel in een boek ervaren.”
Die Kinderboekenweek-geskenk is egter ’n blaps van die CPNB. Hulle word daarvoor kwalik geneem dat hulle honderdduisend eksemplare gedruk het van Je bent super ... Jan. Die gehalte van hierdie gratis boekie (ná die aankoop van ’n kinderboek van tien euro en meer) word deur De Veen beskryf as “ongeïnspireerd” en “rommel”. Ten spyte daarvan bly die Kinderboekeweek en organisasies soos Schrijver School Samenleving en Stichting Lezen wonderlik vir die leesbevordering van die Nederlandse kind. Socialbesitas en hoe ’n goeie boek dit kan bestry, word in Nederland met arendsoë gevolg.
Klaar voor de start is ’n video vir kinders oor sport en is gemaak in samewerking met die Kinderboekenweek.


