Kies vir jou 'n taal: Engels, liberale ideologie en rassisme
2003

  • 0

Deel 1: Agtergrond

A. Inleiding

In hierdie driedelige artikel eksploreer ek die retoriese en ideologiese interaksie tussen alledaagse liberale konsepsies oor taal en veeltaligheid en wat ek, in navolging van Slavoj Zizek (2000), “refleksiewe” rassisme sal noem. Zizek gee ’n nuttige definisie hiervan in ’n bespreking van die liberale Westerse fassinasie, veral in die vroeë 1990’s, met etniese geweld en volksmoord in die Balkan:

Dan is daar “refleksiewe” Polities Korrekte rassisme: die multikulturele persepsie van die Balkan as die terrein van etniese verskrikking en onverdraagsaamheid, van primitiewe irrasionele strydende passies, gestel teenoor die post-nasiestaat liberaal-demokratiese proses van probleemoplossing deur rasionele onderhandeling, kompromie en wedersydse respek. Hier word rassisme as ‘t ware tot die tweede mag verhef: dit word toegeskryf aan die Ander, terwyl ons die gemaklike posisie van ’n neutrale, goedgesinde waarnemer inneem ... (Zizek 2000:9, my vertaling).

My fokus, soos reeds gesuggereer, is nie op formele filosofiese en polities-teoretiese argumente nie, maar wel op die alledaagse gesprekke van ’n groep leerders aan ’n veelrassige sekondêre skool in die Oos-Kaap. Ek voer aan dat ’n “liberale” beklemtoning van individuele regte, en veral die reg om te kan kies, deur die deelnemers in my studie gebruik is om die dominansie van Engels in die publieke ruimte waaroor hulle praat, hulle skool, te naturaliseer, en dat hierdie genaturaliseerde posisie saamhang met ’n konstruksie van die taal as neutraal ten opsigte van etnisiteit en ras. (Ek gaan nie in hierdie artikel in op klaskonstruksies rondom taal nie, maar sal dit wel in ’n volgende artikel bespreek.)

Deur ander tale (nie die apolitiese Engels nie) en ras verder retories te verbind is veeltaligheid deur veral Engelssprekendes, maar ook deur Afrikaans- en isiXhosasprekendes, telkens as ’n onoorkomelike probleem voorgestel - omdat dit inbreuk maak op die reg op vrye keuse en, belangriker, omdat dit “misverstand” en uiteindelik “rassisme” veroorsaak. Die deelnemers in my studie, hierdie “alledaagse politieke filosowe”, kry dit dus reg om die liberale waarde van vrye keuse te onderskryf selfs wanneer hulle slegs Engels voorstaan as openbare taal. Die reg om ’n ander taal te kies word hierdeur verplaas na private ruimtes - die huis en die gesin - ten gunste van ’n inklusiewe en neutrale publieke ruimte wat vry sal wees van misverstand en rassisme.

Wat ons hier het, is natuurlik ’n baie basiese penskets van die klassieke liberale benadering tot die politiek; wat ek in my artikel probeer doen, is bloot om te illustreer hoe hierdie beginsels uitgespeel word op die vlak van alledaagse politieke argumente.

In Deel 1 van die artikel skets ek kortliks die konteks van die studie waarop hierdie artikel gegrond is, sowel as die analitiese benadering wat ek gevolg het. In Dele 2 en 3 analiseer ek die argumente van my deelnemers oor taal en veeltaligheid in hulle skool en in Suid-Afrika in meer besonderhede.

B. Metode

  • Konteks
    Die studie waarop ek hierdie artikel baseer, is in 2001 by ’n stedelike hoërskool in die Oos-Kaap uitgevoer. Die meerderheid leerders het in daardie stadium van die omliggende tradisioneel wit, werkersklas-woonbuurt gekom. Hulle was Engels- en Afrikaanssprekend, met eersgenoemde in die meerderheid. Die skool was offisieel tweetalig, selfs al was Engels heelwat beter verteenwoordig in die onderrigsituasie en die daaglikse administrasie en bestuur van die skool as Afrikaans.

    Sedert die middel 1990’s het die aantal swart, meestal isiXhosasprekende leerders in die skool begin toeneem, alhoewel hulle ten tye van die studie steeds verreweg in die minderheid was. Die teenwoordigheid van isiXhosasprekende leerders het op daardie stadium geen invloed gehad op die status quo rondom taal in die skool nie. Ten spyte daarvan dat isiXhosa as ’n derde taal aangebied is, het die taal geen rol in die daaglikse administrasie en publieke bedrywighede van die skool gespeel nie. Trouens, leerders is op verskillende maniere, en in die naam van “dissipline”, aktief daarvan weerhou om isiXhosa hoegenaamd tydens die skooldag te praat.

     

  • Deelnemers en prosedure
    Die data waarop my analise gebaseer is, bestaan uit drie groepbesprekings met Graad 12-leerders: een elk onderskeidelik met groepe Afrikaans- en Engelssprekers en een met ’n gemengde groep Afrikaans- en Engelssprekendes. Gesprekke met isiXhosasprekende leerders het belangrike ander temas opgelewer, en word dus in ’n opvolgartikel bespreek.

    Deelname aan die groepbesprekings was ten volle vrywillig, en om hierdie rede het ek nie in die keuse van deelnemers gekontroleer vir geslag en ras nie. Ten spyte hiervan het die twee “eentalige” groepe uit twee manlike en twee vroulike deelnemers elk bestaan, terwyl die gemengde groep bestaan het uit drie manlike en een vroulike deelnemer. Al die deelnemers aan die Engelse groepbespreking was wit, terwyl daar in die Afrikaanse groep een bruin vroulike deelnemer en in die gemengde groep twee bruin, Engelssprekende manlike deelnemers was.

    Om die groepe toe te laat om in die taal van hulle keuse te praat was geen onderhoudvoerder teenwoordig tydens die gesprekke nie. Elke groep is van ’n lys vrae en onderwerpe voorsien en gevra om dit op hulle eie tyd en in enige volgorde te beantwoord en te bespreek. Alhoewel geen groepleiers aangewys is nie, het iemand in die meeste gevalle die leiding geneem in die voorlees van vrae en onderwerpe, in die parafrasering en herhaling van vrae, en ook om die gesprek op koers te hou. Hierdie gesprekke is op band opgeneem, met die toestemming van die deelnemers, en later volledig getranskribeer (sien Transkripsiekonvensies aan die einde van Deel 3). Om anonimiteit en vertroulikheid te verseker is aan elke deelnemer ’n skuilnaam toegeken.

    Dit is noemenswaardig dat die gesprekke in die Afrikaanse en isiXhosa-groepe grootliks in Engels gevoer is. Die rede hiervoor kan wees dat die geskrewe vrae en onderwerpe wat aan hulle verskaf is, in Engels geskryf was, of dat hulle aangeneem het dat die navorsers Engels was - my navorsingsassistent, wat in hierdie tyd by die betrokke skool gewerk het en die deelnemers gewerf het, is Engelssprekend, en die leerders was bewus dat die projek met die Rhodes Universiteit geaffilieer was. Wat die rede ook is, dit spreek reeds boekdele oor die bykans onbevraagtekende status wat Engels by hierdie leerders het as ’n taal van algemene omgang.

     

  • Analitiese benadering
    Analities was ek geïnteresseerd in hoe leerders van verskillende taalagtergronde sin maak van taaldiversiteit in hulle skool en in Suid-Afrika in die algemeen. Ten einde hulle teorieë en representasies van taaldiversiteit en verskillende tale krities in breër diskoerse te situeer (of anders gestel: ten einde die ideologiese effekte van hulle argumente en opinies te ondersoek), volg my analise die retories-ideologiese benadering van die sosiale sielkundige Michael Billig (1987, 1991). Hierdie benadering laat analise op verskillende vlakke toe:

    die retoriese analise van spesifieke argumente en strategieë van legitimering in gesprekke;

    die inhoudelike analise van gedeelde betekenisse, beelde of diskoerse waarop sprekers hulle beroep;

    en by wyse van ’n fokus op ideologie en “ideologiese dilemmas” (Billig et al, 1988):

    3. ’n kritiese analise van die politieke effekte van hierdie diskoerse - met ander woorde, wie word bevoordeel/benadeel, ingesluit/uitgesluit, ens, deur hierdie maniere van praat.

    C. Analise en bespreking

    Volgens Wetherell en Potter (1992:189) is

    om iets as gedwonge te beskryf, in terme van die liberale diskoers van vryheid en menseregte, om dit negatief te definieer (my vertaling).

    In my data het dwang en die teendeel daarvan, vryheid van keuse, ’n belangrike rol gespeel in die propagering van ’n status quo waarin Engels ’n bykans hegemoniese posisie het - of ten minste behoort te verkry. Hierdie soort argument skep natuurlik ’n teenstrydigheid, of wat Billig en sy kollegas (Billig et al 1988) ’n ideologiese dilemma noem. Dit is ’n dilemma wat dikwels teengekom word in subtiele rassismes: mense gebruik liberale idees op maniere wat hulle klaarblyklik vrykoop van aanklagte van rassisme, maar argumenteer dan voorts vir posisies wat ’n rassistiese status quo implisiet onderskryf.

    In Wetherell en Potter (1992) se studie oor rassistiese diskoerse in Nieu-Seeland het deelnemers hierdie soort dilemma opgelos deur verskillende “praktiese probleme” te opper as kwalifikasie by hulle aanvanklike ondersteuning van liberale politieke waardes en agendas. Die deelnemers in my studie het egter ’n ander benadering gevolg, naamlik om Engels, klaarblyklik heel natuurlik, voor te stel as ’n taal van rasionele keuse. Dit het hule grootliks reggekry deur Engels as universeel te konstrueer - en hiermee geassosieer: neutraal, verenigend, en (polities en ekonomies) noodsaaklik.


    Deel 2: Voorkeurtale

    Ek begin my analise met ’n uittreksel uit ’n gesprek tussen ’n groep wit Engelssprekendes. Die uittreksel bied ’n goeie voorbeeld van hoe deelnemers liberale idees mobiliseer om hulself van rassisme te distansieer, of in hierdie geval meer spesifiek van die geskiedenis van apartheid, terwyl hulle terselfdertyd vir ’n posisie argumenteer wat die status quo wat tydens apartheid gegeld het, wesenlik in stand hou.

     

  • Uittreksel 1

    Nick: In the apartheid era they were all forced to learn Afrikaans, so, like, it was quite unfair.
    Tanya: Yes, well, it’s unfair that they score all the jobs, and we have to suffer (.) in the future. You know that they ask for Xhosa-speaking people, and some of the English people don’t even know it, and we’re losing out on the jobs.
    David: Most of the bosses are black now also.

    Die ongeregtigheid van ’n vorige orde, waarin swart mense (“they”) gedwing was om Afrikaans te leer, word hier direk in verband gebring met die huidige (en, belangrik, verwagte toekomstige) situasie van ’n omgekeerde rassisme. Apartheid was, volgens hierdie sprekers, ’n ongeregtigheid omdat dit individue se reg om te kies ingeperk het - in hierdie spesifieke voorbeeld deur ’n taal op mense af te dwing - en hierdie ongeregtigheid word nou eenvoudig omgekeer in die voorkeurbehandeling wat isiXhosasprekers en swart mense in die werkplek ontvang (“they ask for Xhosa-speaking people”; “the bosses are black now also”).

    Tot sover dus: ’n oorbekende stukkie Suid-Afrikaanse retoriek.

    Behalwe dat hierdie voorstelling herinner aan die geykte manier waarop sosiale verandering in Suid-Afrika dikwels teengestaan word deur dit gelyk te stel aan apartheid en dus aan ’n vorm van “omgekeerde rassisme”, illustreer dit ook hoe idees oor taal (veral oor Afrikaans) en rassisme retories oorvleuel en verstrengel raak.

    Hierdie retoriese verstrengeling onderlê minstens drie implisiete argumente, almal belangrike onderdele van die liberale argument teen eentaligheid wat ek in hierdie artikel beskryf:

    1. Omdat die ongeregtigheid van “gedwonge Afrikaans” hier behandel word as retoriese ekwivalent van apartheid en rassisme in die algemeen, kan die werklikheid van ’n omgekeerde rassisme of apartheid aangedui word selfs in die afwesigheid van ’n ooreenstemmende afdwinging, of selfs net bevoordeling, van isiXhosa - dit is genoeg om te argumenteer vir ’n algemene bevoorregting van swart mense. Terselfdertyd maak die retoriek van omgekeerde rassisme of apartheid ’n soort ideologiese vertekening moontlik van wat as taal-diskriminasie beskryf kan word. Die enigste taaldiskriminasie wat volgens die apartheid/omgekeerde legitiem verwoord kan word, is die historiese afdwinging van Afrikaans en die spieëlbeeld daarvan: gedwonge isiXhosa. Die feit dat isiXhosa nié afgedwing word nie, met ander woorde, die feit dat dit ’n ideologiese ruimte is wat leeg staan, maak nie saak nie. Omgekeerde rassisme, die rassisme van die ander, tree hier op as ’n ideologiese plekhouer.

    2. Dit bemoontlik die fassinerende en oënskynlik seepgladde skuif van die neutrale “they” na die taalkategorie “Xhosa-speaking”, en uiteindelik na die rassekategorie “black”. Alhoewel die onderwerp van bespreking hier klaarblyklik taal is, en apartheid slegs bygebring word in verband met ’n bepaalde taalbeleid, glip die bespreking dus soomloos van taal na rassisme. (Hier is dit relevant om te sê dat apartheid of rassisme nêrens eksplisiet in die vrae en onderwerpe wat die deelnemers moes bespreek, gefigureer het nie.) Alhoewel daar niks natuurlik aan hierdie retoriese gelykstelling is nie (dit is maklik om aan voorbeelde te dink waar taalpolitiek geen verband hou met rassisme nie) is dit maklik om te verstaan hoe dit, gegewe die Suid-Afrikaanse verlede, moontlik is om die taalorde so te konstrueer. Méér interessant is dus die uitsondering op hierdie reël, naamlik, hoe Engels buite hierdie moreel-politiese orde geplaas word. Hieraan gee ek later in meer besonderhede aandag.

    3. Die retoriese ekwivalensie tussen Afrikaans, Afrikaanssprekendes en apartheid beteken dat Engelssprekendes, selfs al erken hulle die ongeregtigheid van apartheid, hulself nie as agente van onderdrukking hoef te posisioneer nie. Ek wil so ver gaan as om te sê: selfs wanneer hulle in die konteks van ’n taaldebat oor rassisme praat, word hulle witheid deursigtig gemaak deur ’n verwysing na die Afrikaansheid, en gepaargaande rassisme, van die ander. Om die waarheid te sê, deur rassisme op hierdie manier met Afrikaans in verband te bring kan Engelssprekendes selfs aanspraak maak op ’n sekere slagofferskap - in die verlede, omdat ook hulle onderwerp was aan gedwonge Afrikaans (’n tema wat dikwels in die gesprekke voorgekom het), en tans, weens omgekeerde rassisme. Deur vir die Engelssprekende ’n passiewe, amper naïewe (“some of the English people don’t even know it”) posisie tussen die irrasionaliteit van twee soorte rassisme - dié van die Afrikaners en dié van die swart mense - te gee, word hulle deur die spreker hier egter geposisioneer vir ’n belangriker eietydse rol: om hulself, hul taal en hulle kultuur aan te bied as neutraal en inklusief genoeg om Suid-Afrikaansheid te omvat.

    Die volgende uittreksel werp meer lig op hierdie proses:

     

  • Uittreksel 2

    Tanya: What are the problems? Okay, for instance, okay black people, umm (.) they will find a problem because their life, their whole life, they’ve been learning how to speak Xhosa. They know how to speak English because it is generally all around us. Afrikaans, I mean, it’s just, they’ve been forced to learn Afrikaans, whereas we (.) I think we’re much luckier because we are not forced to take Xhosa. Did you know, I actually think they’re gonna be making it compulsory in schools soon?
    David: Thank God we’re going!
    Tanya: Ja, that they have to start learning Xhosa, because it is now a part of the national language, like, the language of the country.

    Die liberale retoriek van keuse versus dwang speel weer eens ’n belangrike rol in Tanya se argument. Alhoewel sy aanvanklik die vraag probeer beantwoord op die vlak van die ervarings van isiXhosasprekers - deur hulle as ‘t ware as talig minder bevoorreg te sien - is dit merkwaardig dat sy hulle probleme nie met die rol van Engels in verband bring nie. Die probleem is nie, byvoorbeeld, die hegemonie van Engels of die marginalisering van isiXhosa nie. Terwyl dit duidelik is dat veeltaligheid hier as “problematies” gekonstrueer word (wat ’n ideologiese keuse is: dit sou immers ook as “hulpbron” of “rykdom” gekonstrueer kon wees), is Engels nie deel van die “probleem” nie. Hoe kán dit ook wees, as isiXhosasprekers uitgebeeld word asof hulle, nes die res van ons, Engels amper van nature kan praat (“it is generally all around us”)?

    In teenstelling met hierdie algemene onderdompeling in Engels is selfs hulle eerste taal, isiXhosa, iets wat aktief geleer moes word (“their whole life, they’ve been learning how to speak Xhosa”).

    (Terloops, in ’n ander studie van my is Engels as deursigtig en lig gekonstrueer, teenoor Afrikaans en isiXhosa, wat voorgestel is as iets wat swaar, hard, en ondeurdringbaar is, iets wat in die keel vassit - met Engels is dit letterlik ’n geval van “all that is solid melts into air ...”)

    Hoewel dit mag lyk na ’n triviale punt, is dit nogtans iets wat redelik gereeld in die data voorkom, en wat myns insiens van belang is: swart leerders se probleme met taal word toegeskryf aan die obstruksies wat tale anders as Engels voor hulle plaas - hulle eie taal, wat hulle nou al hulle hele lewe lank leer; en Afrikaans, wat hulle gedwing was om te leer.

    Op ’n eerste, klaarblyklike vlak is die “probleem” met taaldiversiteit dus, soos Tanya dit hier verwoord, die feit dat mense gedwing word om tale anders as dié van hulle keuse te praat; met ander woorde, die skending van individuele regte. Op ’n dieper vlak, egter, verset die deelnemers hulle hier teen die moontlikheid dat Engelssprekendes gedwing sal word om isiXhosa aan te leer, en daardeur weer eens onderwerp sal word aan ’n eenvoudige ommekeer van een van die ongeregtighede van apartheid - gedwonge Afrikaans. Die vooropstel van swart leerders se taalprobleme verdoesel dus ’n meer fundamentele rede om veeltaligheid teen te staan, naamlik ’n destabilisering van die posisie van Engels in die taalorde. Op hierdie manier kry Tanya dit reg om iets heeltemal anders te doen as die argument waarmee sy begin het: die teenwoordigheid van isiXhosa en Afrikaans in die publieke ruimte van die skool word vir beide wit en swart leerders geproblematiseer. Engels self is eenvoudig dáár: mense word nie gedwing om dit te leer nie - hulle het nie eens nodig gehad om dit aktief te leer nie.

    Ek wil selfs meer lees in hierdie kort uittreksel. Terwyl Tanya taaldiversiteit aanvanklik as ’n probleem vir spesifiek swart mense voorstel, word dit uiteindelik deur haar uitgebrei en gekonstrueer as ’n probleem vir “ons”. Wie is “ons”? Wanneer sy sê Engels is “generally all around us”, klink die gebruik van “ons” baie inklusief - miskien verrassend in ’n analise wat rassistiese taalgebruik ondersoek en waar mens dalk sal verwag dat die subtiele prosesse van uitsluiting hulle juis hier sou openbaar. Ek wil egter tog argumenteer dat “ons” hier besonder inklusief gebruik word, en dat dit juis hierdie inklusiwiteit is wat die liberale, refleksief-rassistiese weerstand teen Afrikaans en isiXhosa as publieke tale, en veeltaligheid in die algemeen, moontlik maak. Anders gestel: dit is juis hierdie breë inklusiwiteit wat enige oortreding van die “ons” ’n kandidaat maak vir die aanklag van irrasionele etnosentrisme of rassisme; “ons” is dus ’n paradoksale konstruksie wat die partikuliere marginaliseer juis deur inklusiwiteit te universaliseer.

    Die argument werk só: Eerder as die kategoriese “ons en hulle” wat ’n oorblyfsel van apartheid is en deur Afrikaans en isiXhosa, en die etniese en kulturele komplekse wat hulle simboliseer, aan die lewe gehou word, word Engels geassosieer met ’n “ons” wat hierdie soort verskille verbystreef. Presies waar die grense van die “ons” lê, word onthul in die “conspiracy theory” dat isiXhosa verpligtend gaan word - en dat dit voortaan die nasionale taal, of die “taal van die land”, sal wees. Die nasionale ons, so ’n bekende troop, nie net in die postapartheidsdiskoers van nasiebou en versoening nie, maar ook histories in die marginalisering van minderheidstale en -kulture, word dus direk geassosieer met Engels - en dit is dus niks minder nie as nasionale eenheid wat bedreig word wanneer tale illegitiem afgedwing word.

    Hierdie aandrang op individuele vryhede en regte binne die konteks van ’n soort burgerlike nasionalisme is natuurlik ’n belangrike komponent van die tradisioneel liberale benadering tot minderhede en etniese en kulturele aansprake binne nasionale grense. Die liberale tradisie hou vol (eenvoudig gestel) dat burgers van ’n demokratiese staat slegs as individue vir regte en voorregte uitgesonder kan word. Individuele burgers word dus nie bevoordeel of teen gediskrimineer op grond van hulle lidmaatskap van ’n sosiale kategorie nie; die sanksionering van individuele regte en vryhede laat mobiliteit toe slegs op grond van dinge soos individuele meriete. Terwyl pluraliteit binne die nasiestaat verduur word en godsdienstige, kulturele of etniese assosiasies verdedig word as ’n basiese en universele (individuele) mensereg, word dit ook, so ver moontlik, gerelegeer tot private sfere van bestaan. Die publieke ruimte word gedefinieer deur ’n óf onuitgesproke óf aktief bevorderde nasionale kultuur wat die diversiteit wat dit omsluit, tog ook transendeer.

    Soos May (2001:103) dit baie goed stel, liberalisme

    spreek die persoon aan slegs as a politieke wese met regte en verpligtinge wat verbonde is aan hulle status as burgers. So ’n posisie sanksioneer nie private identiteit, insluitend ’n persoon se kommunale lidmaatskap, as iets wat soortgelyke erkenning verdien nie. Die laasgenoemde dimensies word uitgesluit uit die publieke ruimte omdat hul noodwendige diversiteit sal lei tot die ingewikkelde saak van die staat wat sal moet medieer tussen verskillende konsepsies van “die goeie lewe” (my vertaling).

    Die probleem met hierdie voorstelling is natuurlik dat die nasionale kultuur nie neutraal is nie, maar ’n produk van die historiese hegemonie van die belangepolitiek van die magtigste groep(e) binne die staat, eerder as ’n werklike kombinasie van die kenmerke en waardes wat deur almal gedeel word.

    Die konserwatiewe effek van liberale idees in alledaagse gesprekke oor taal word dus nie verkry deur die tradisie van liberale denke te weerspreek nie. Met ander woorde, dit is nie ten volle die effek van die teenstrydige maar ideologies effektiewe retoriese voetwerk van my deelnemers nie. Dit is eerder, tot ’n groot mate, inherent tot die logika van liberale konsepsies van burgerskap en nasionale kultuur.

    Die effekte van die liberale klem op keuse wanneer dit kom by taal en veeltaligheid, is dus primêr konserwatief: dit laat Engels onaangeraak in ’n amper onbevraagtekende dominante posisie. Die reg om te kies - so ’n maklik verstaanbare ideaal in ’n land waar vryhede so lank ingeperk was - laat Engels stewig, maar byna ongemerk, in plek.

    Hiermee het ek dan, miskien ietwat omslagtig, die basiese ideologiese posisies teen veeltaligheid en vir Engelse hegemonie, soos dit in hierdie alledaagse gesprekke geartikuleer en geïmpliseer is, uiteengesit.

    Deel 3: Konstruksies van Engels en isiXhosa

    Dit is algemeen in huidige liberale diskoerse oor die rol van Engels in die wêreld om te verklaar dat dit nie meer verbonde is aan insulêre oorspronge nie, dat dit nie meer die eiendom van Brittanje, Amerika, Kanada, of Australië is nie; dit is nou die eiendom van die wêreld, besit deur wie ook al kies om dit te praat, ’n taal vir almal om te gebruik in globale kommunikasie. Maar is dit? (Pennycook 1998:190-191, my vertaling.)

    Ek het in Deel 2 van hierdie artikel verwys na die universele pretensies wat konstruksies van Engels onderlê. In Deel 3 ondersoek ek die konstruksie van Engels as ’n universele taal in meer besonderhede. Ek argumenteer dat hierdie status Engels as ’n taal van keuse in publieke domeine normaliseer, ander tale dus relegeer tot private domeine, en op hierdie manier spesifiek isiXhosa gevange hou as ’n vaste rassebetekenaar (“racial signifier”). Anders gestel, eerder as om alle tale voor te stel as wedersyds uitsluitende merkers van etniese identiteit en op hierdie manier regverdiging te bied vir ’n vorm van etnotalige segregasie (wat “kulturele” of “differensiële” rassisme genoem sou kon word), is Engels deur die deelnemers aan my studie gekonstrueer as die taal van inklusiwiteit en gemeenskaplike begrip - “ons” taal. Weerstand teen veeltaligheid is gelegitimeer deur dit te blameer vir die ondermyning van wedersydse begrip en nierassigheid in publieke ruimtes (’n strategie wat “refleksiewe” rassisme genoem kan word: “veeltaligheid is net ’n dekmantel vir hulle rassisme”).

    Alistair Pennycook (1994:11) skryf:

    … die siening van die uitbreiding van Engels as natuurlik, neutraal en voordelig is sentraal in die diskoers van Engels as ’n internasionale taal (my vertaling).

    Hierdie oordeel is by uitstek van toepassing op die beelde van Engels wat in my data aangetref word, en is beslis nie beperk tot Engelssprekende deelnemers nie; ook Afrikaans- en isiXhosasprekende deelnemers onderskryf, meestal sonder protes, die dominansie van Engels op grond van die taal se internasionale status. Trouens, eerder as “internasionaal” word Engels emfaties gekonstrueer as “universeel”.

     

  • Uittreksel 5

    Tanya: Okay obviously we need to learn to speak Xhosa, English and Afrikaans. Not in this world, just in this country. To live in South Africa you have to know how to speak English.

     

  • Uittreksel 6

    Tanya: Our language is a universal language, and I mean, most or many people around the world speak English. Black people, I mean in South Africa for example, you won’t find many people who can’t speak English. And it’s like very seldom that you actually, like very seldom, come across a black that can’t speak English.

    In beide hierdie uittreksels word Engels as terselfdertyd globaal en nasionaal gekonstrueer. In die lig van die taal se globale status word die noodsaaklikheid van veeltaligheid gekwalifiseer as slegs ’n plaaslike vereiste (Uittreksel 5). Op grond van dieselfde konstruksie, naamlik dat Engels oral is en dat almal dit kan praat, word egter ook geargumenteer dat dit selfs hiér, in Suid-Afrika, onmoontlik is om oor die weg te kom sonder kennis van Engels. Tog, alhoewel Engels dus noodsaaklik is, word niemand gedwing om dit te praat nie: die meeste Suid-Afrikaners, ook swart Suid-Afrikaners, deel ten minste een kenmerk met mekaar en met die meeste ander mense in die wêreld: hulle (ons?) kan almal (alreeds) Engels praat (Uittreksel 5).

    Ten spyte daarvan dat sy haar universele aanspraak versag met die kwalifikasie “or many” (Uittreksel 6), is die algemene strekking van Tanya se argument dat Engels ’n vanselfsprekende gegewe is. Die aanvanklike vanselfsprekendheid van veeltaligheid word dus byna onmiddellik ondergeskik gestel aan die meer fundamentele vanselfsprekendheid van Engels en op hierdie manier eintlik onnodig gemaak. Soos later gesien sal word, is dit maar ’n kort tree van hierdie onnodigheid van veeltaligheid na die onwenslikheid daarvan.

     

  • Uittreksel 7

    Susan: Oh well, they are more than us so obviously the, the main language in the class is English, so having lots of different languages is (.) it’s basically just out on the playground where we have different languages.

     

  • Uittreksel 8

    Marc: Okay, you can’t expect everyone to speak one
    language.
    Andrew: We don’t actually speak many languages at school. I mean, the black people (.) the black people will speak to each other in Xhosa and they’ll basically know how to speak one other language, let’s say English and they’ll speak to everyone else in English.
    Charmaine: What about the Afrikaans kids?
    Andrew: The Afrikaans kids only really speak to their family in Afrikaans basically and to everyone else =
    Charmaine: = ja I know but =
    Andrew: = but that’s only here though.
    Wayne: Ja, but there are schools where the Xhosas just stick to themselves and talk Xhosa and the whites and everyone else stick to themselves and talk English and Afrikaans.

    Ten spyte van die liberale sentiment in Uittreksel 8 dat daar nie van almal verwag kan word om dieselfde taal te praat nie, word die dominansie van Engels in die skool tog in beide bostaande uittreksels erken en verdedig - en hier is dit relevant om te noem dat Susan (Uittreksel 7) ’n wit Afrikaanssprekende is. Die verdediging van hierdie dominansie berus myns insiens op ’n retoriese onderskeiding wat deur die sprekers tussen publieke en private taalfunksies of -domeine getref word. In publieke funksies of domeine (“in the class”; “at school”) word Engels bevestig as die natuurlike medium; of, om weer aan te sluit by die terminologie wat in Deel 2 gebruik is, as die taal van keuse. Afrikaans en isiXhosa word hierteenoor uitgeskuif na private funksies of domeine (“on the playground”; “family”).

    Ek wil nie die indruk wek van eenstemmigheid rondom hierdie konstruksies nie, dus bespreek ek kortliks die reaksie op Susan se huiwerende weerstand (“ja I know but”) teen die normalisering van ’n Engels-dominante taalorde.

    Andrew reageer deur sy stelling oor Afrikaans te kwalifiseer as geldig “only here”. Hierdie strategie is op meer as een geleentheid in die gesprekke gebruik, naamlik om vir die dominansie van Afrikaans élders in Suid-Afrika te argumenteer. Hierdie “eldersheid” was gewoonlik redelik arbitrêr, soos ander skole, dorpe of provinsies.

    Deur ’n plaaslike uitsondering op die universele norm te identifiseer kry Engelssprekendes egter minstens drie dinge reg: (i) Hulle ontlont enige kritiek dat hulle die universele aansprake vir Engels te ver voer; (ii) hulle kan Afrikaanse aansprake vir meer taalregte afweer deur dit elders te rig; en (iii) hulle kan Afrikaans ietwat bó isiXhosa plaas - laasgenoemde is nooit enige soortgelyke uitsonderings op die reël van universele Engels gegun nie.

    Wayne se reaksie is net so onthullend. Hy kontrasteer die beeld wat geskep is van hulle eie skool, wat basies eentalig is, met ander skole waar die veelheid van tale leerders volgens ras verdeel. Die implikasie van hierdie argument is voor die hand liggend: as Engels nie bevestig word as die taal vir algemene kommunikasie nie, ’n soort kulturele gemene deler, sal swart en wit leerders net “stick to themselves”. Dit is natuurlik ’n uiters strategiese manier om retories legitimiteit aan die weerstand teen veeltaligheid en die marginalisering van tale anders as Engels te verleen: deur hierdie priviligering van Engels direk te verbind aan ’n liberale begeerte vir harmonie tussen verskillende groepe.

    Waaraan ek voorts aandag gee is: wat is die effek van hierdie soort konstruksies van Engels en veeltaligheid op isiXhosa?

    Soos reeds genoem, is isiXhosa deurlopend gekonstrueer as ’n “swart” taal. Dit is dus per definisie onmoontlik vir hierdie taal om, soos Engels, op enige soort universaliteit of selfs transkulturaliteit aanspraak te maak. Die noodlot van isiXhosa as ’n publieke of nasionale taal word veel meer as Afrikaans nog afhanklik gemaak van ’n keuse tussen nierassigheid en rassisme. Kortweg, die nierassigheid wat deurlopend met Engels geassosieer is, word retories in stand gehou deur wat self ’n rassistiese strategie is: die voortdurende rassifisering (“racialisation”) van isiXhosa.

     

  • Uittreksel 9

    Michelle: We are an English school.
    Tanya: Ja, this is mainly an English and Afrikaans school. Xhosa is just like a bonus subject that, I mean, black people take.

     

  • Uittreksel 10

    Tanya: Okay, Afrikaans comes either first or second, because it’s an English and Afrikaans-speaking school. Xhosa is obviously a third language …

     

  • Uittreksel 11

    Susan: It doesn’t, it doesn’t work effectively because if for instance in class we have two different // languages
    Johan: // three =
    Susan: = three different languages.

     

  • Uittreksel 12

    Nick: If you know Xhosa, it’s just a bonus because =
    David: = all the black people, most of them, can speak English and Afrikaans, so it doesn’t matter.

    Eerder as dat dit essensieel is, of selfs maar net belangrik, word isiXhosa gekonstrueer as ’n bonus-vak of taal (Uittreksels 9 en 12). Eerder as ’n eerste taal, selfs vir isiXhosasprekers, word dit gekonstrueer as ’n tweede of selfs derde taal (Uittreksel 10). In Uittreksel 11 word daar selfs momenteel van die taal vergeet. Hierdie marginale status van isiXhosa is duidelik verbonde aan die status van die taal as swart: in soveel woorde, isiXhosa is ’n taal wat swart mense praat en leer (Uittreksel 9).

    Verder, aangesien swart mense volgens die deelnemers meestal ander tale, en veral Engels, kan praat, is dit eintlik onnodig vir wit mense om isiXhosa te praat. Soos David dit stel in Uittreksel 12, “all the black people, most of them, can speak English or Afrikaans, so it doesn’t matter”.

    Die implikasie is natuurlik dat wit mense nié sal leer om isiXhosa te praat nie, dat die taal marginaal en met “ras” geassosieer sal bly - en dat isiXhosasprekers veral Engels goed genoeg sal moet bemeester om suksesvol aan die publieke en akademiese lewe deel te neem (iets wat glad nie so vanselfsprekend is soos dit in die gesprekke hier onder bespreking uitgemaak word nie).

    Die konstruksie van Engels as universeel verdoesel, in kort, die wyse waarop hierdie taal geassosieer is met die waardes en belange van baie bepaalde sektore van die bevolking, en dat die taal ’n bydraende faktor kan wees in die voortgesette marginalisering van (veral arm) swart mense. Die deurdringbaarheid van taalgrense (teenoor rassegrense), en die bereidwilligheid van die sprekers om Engels voor te stel as inklusief, verdoesel die feit dat die afdwinging van Engels ’n politieke daad is.

    Presies wat die negatiewe effekte van Engelse eentaligheid vir Suid-Afrika kan wees, is al beter deur ander uiteengesit (byvoorbeeld, Neville Alexander en Gerrit Brand). Ek hoop egter dat ek hier ten minste kon wys hoe suksesvol, en dikwels subtiel, hierdie ideologiese temas alledaagse konstruksies van taal en veeltaligheid struktureer. In die lig hiervan maak ek ten slotte enkele verdere opmerkings oor die voorstelling van isiXhosa as negatief politiserend in die skool.

     

  • Uittreksel 13

    Susan: Ja, it’s not that we are racist. It’s just, you know, that black people and the white people don’t understand one another. You have one out of how many white people who can understand a black person.

     

  • Uittreksel 14

    Johan: Okay well, there are not many people that speak different languages to me. They speak English or Afrikaans, obviously. Those that don’t speak English or Afrikaans, not being racist, they don’t (.) the way they look at you when they talk. You can see they’re talking about you.

     

  • Uittreksel 15

    Johan: When you get out on the playground you have (.) it causes friction, that’s why it’s not effective, that’s all. Because you get people speaking Xhosa, you don’t understand what they are saying, you think they // are
    Susan: // swearing at you, and you want to beat them up.
    Johan: Ja, but the way they look at (.) they’re looking at you and they’re talking about you.
    Megan: Ja, okay.
    Susan: I was in that situation yesterday and I almost hit them (laughter). Okay, what problems can it cause? Just as we said.
    Johan: Friction.
    Megan: Violence.
    Johan: Lots of violence.
    Susan: And then it becomes // umm
    Johan: // social problems.
    Susan: Umm, no (.) racism.

    Die rol van ontkennings (“disclaimers”) in rassistiese uitsprake, soos eksplisiet gevind word in Uittreksels 13 en 15, is al deur verskeie navorsers aangetoon (Bonilla-Silva, 2002; Bonilla-Silva & Forman, 2000; Van Dijk, 1984). Sulke retoriese ontkennings van rassisme word gebruik om aan te toon dat, volgens die spreker, uitsprake wat oor ander gemaak word, nie bevooroordeeld is nie, maar rasioneel en regverdig. In hierdie uittreksels word swart mense klaarblyklik daarvan beskuldig dat hulle die reëls van algemene ordentlikheid oortree: hulle steek nie die feit weg dat hulle oor jou praat nie; hulle kyk jou op onaanvaarbare maniere aan. Hierdie gebrek aan takt word direk in verband gebring met hulle taalgedrag. Dit is wanneer hulle isiXhosa praat dat misverstand, suspisie, en woede geskep word. Teenoor die sorgsame konstruksie van Engels as neutraal, universeel gedeel, en inklusief van ’n nasionale “ons”, word isiXhosa gesien as uit plek uit: die taal is histories en ideologies gelaai, streeks- en etnies gebonde, en verdelend. Net soos Afrikaans histories gesien is as onliberaal deurdat dit op mense afgedwing was, is isiXhosa nou onliberaal deurdat dit in publieke ruimtes gedwing word waar dit nie hoort nie. Die effek hiervan, van tussen mense kom en misverstande en woede skep, is niks minder nie as geweld en rassisme (Uittreksel 15). Soos so dikwels gebeur in rassistiese spraak, word die slagoffer hier blameer. Wat meer is, hulle word blameer juis vir hulle rassisme.

    Samevatting

    Alhoewel konstruksies van taal, veeltaligheid en rassisme nie as bloot uitruilbaar gereduseer kan word nie, hoop ek dat ek kon illustreer dat hulle, ten minste in hedendaagse Suid-Afrika, ook nie sonder ideologiese konneksies is nie. Interessant genoeg word die rassistiese effekte van bepaalde maniere van praat oor taal en veeltaligheid nie beperk tot konserwatiewe idees oor die onoorskrybare kulturele en etnolinguistiese grense nie. Eerder word liberale konsepsies van individuele regte, en ’n publieke orde gekenmerk deur universele burgerskap, onderskryf en afhanklik gemaak van ’n spesifieke taal, Engels: omdat hierdie taal universeel en toeganklik is. Hierdie soort konstruksie van die politiek van taal in Suid-Afrika mag lyk na die antitese van ’n rassistiese taalorde, maar dit steek rassistiese effekte juis in hierdie liberale terme weg. Dit is om hierdie rede dat die begrip “referensiële” rassisme, soos verwoord deur Zizek (2000), so goed daarop van toepassing is.

    Verwysings

    Billig, M. (1987). Arguing and thinking: A rhetorical approach to social psychology. Cambridge: Cambridge University Press.
    Billig, M. (1991). Ideology and opinions. Londen: Sage.
    Billig, M., Condor, S., Edwards, D., Gane, N., Middleton, D. & Radley, A. (1988). Ideological dilemmas: A social psychology of everyday thinking. Londen: Sage.
    Bonilla-Silva, E., & Forman, T.A. (2000). I’m not racist, but …: Mapping white college students’ racial ideology in the USA. Discourse & Society 11 (1), 50-85.
    Bonilla-Silva, E. (2002). The linguistics of color-blind racism: How to talk about blacks without sounding “racist”. Critical sociology, 28 (1-2), 41-64.
    May, S. (2001). Language and minority rights: Ethnicity, nationalism and the politics of language. Londen: Longman.
    Pennycook, A. (1994). The cultural politics of English as an international language. Londen: Longman.
    Pennycook, A. (1998). English and the discourses of colonialism. Londen: Routledge.
    Van Dijk, T.A. (1984). Prejudice in discourse. Amsterdam: P.J. Benjamins Publishing Co.
    Wetherell, M. & Potter, J. (1992). Mapping the language of racism: Discourse and the legitimation of exploitation. New York: Harvester Wheatsheaf.
    Zizek, S. (2000). The fragile absolute - or, why is the Christian legacy worth fighting for? Londen: Verso.

    Bylaag: Transkripsienotasie

    Die transkripsienotasie is aangepas van Wetherell en Potter (1992).

    //
    =

    (.)
    kursief

    ( )

    Oorvleuelende uitsprake
    ’n Uitspraak wat ’n ander een volg sonder enige pouse, maar sonder om te oorvleuel
    ’n Pouse
    Klem
    ’n Aanduiding dat materiaal uitgelaat is
    Transkribeerder se kommentaar binne ’n uittreksel.

     

Eerste publikasie op LitNet: 2003

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top