indien “Eerste Mens” net so ver sou kon kom,
oor “Eerste Mens”-status klaarheid, helderheid,
erkentlikheid, van begint af, Khoisan-besigheid,
via mede-Mens, via Skepper, Gesprek inisieer,
oor “Eerste Mens”-bewussyn, needrig te besin,
oor enigiets waarvolgens Mens moet gatkruip,
oor regte wat sedert daai Tyd al vir almal geld,
oor ‘n lewe, natuurlik, zero geld, bietjie geweld,
transfusie van pyn meer uit oorlewingsbehoefte,
anner spesies met alle respek opgeoffer word,
soos eland, verewig op rotsrand, alte duid’lik,
ter wille van Homo Sapiens Sapiens, moes ly,
onderspit moes byt, ter wille van oorlewing,
van Eerste Mens, nageslag, stam, Khoisan,
oorspronklike inwoners van Zabalazania,
sosio-ekonomies heel laaste, agterlik,
nie eens figureer op Mens se statusleer,
nog g’n verteenwoordiging offisieel geïn,
status-herstel noggie naastenby b’gin,
asof’t eeue gelede al verkalaharifiseer,
uitgerangeer, soos oran utang in Ooste,
soos slaaf op plaas, soos Oranianiete,
Self nog aan sjatan versubmissiveer,
ter wille van iets so absurd soos kleur,
ondertrou met mede-rassiste, roeping,
van verpligting versus stam, voorouers,
van apartheid ergens aan’t lewe hou,
in Azania, post-’94, m’t “ras”, “klas”,
met allie kinkels van kapitaalverhaal
amper nie eens meer vreemd, lat “Boesman”,
“Bosjesman”, “Bossiesman”, Boesmannifikasie,
onderdrukking van “Eerste Mens” nog so gedy,
soos ook “isiBhulu”, “Boer-taal”, “amaKwerekwere”,
Hotnots-Holland, Cecil John Rhodes se praal,
Broederbond, Vrymesselaars, nog in beheer,
nes tevore, in stryd om JSE-oorheersing,
nog geensins handdoek ingegooi, oorgegee,
al sing almal in alle tale, in alle massakore,
‘s meerderheid se meerderheid steeds verlore
mede-Menslikheid, Waardigheid, geboortereg,
van allereerste Mens, Homo Prima, Adam,
Eerste Mens, umNtu uCaleni, umCala, ja,
post-Paradyslik, post-Gondwana, post-modern,
alles aangevang, geprakseer, geïdentifiseer,
as stories, stukke van groter Geheel, Storie,
respekvol imbekho, hlonipha, ubuntu,
van een taal na ‘n anner een oordra,
vertaal, vertolk, interpreteer, skets,
al skiet Mens aan Self-respek tekort,
Naaste wat steeds verdierlik word,
g’n afleggingsopsie, uitwegruiming,
vir, van, en uit “Duiwelspiek”-slawerny,
“Self”-destruksie, uit Gewete-loosheid,
Mens, kultuur van struktuurgeweld,
gewoontes, rites, patrone, oorgeërf,
sien Mens Self, stryd sonner fokus,
g’n oorlegpleging, of instemming,
raadpleging, of direk konsultasie,
Codesalik, interaktief beraadslaging,
indoktrinêr bewussynbeslaglegging,
stryd, met alle respek, so laat vaar,
Mens Naaste noggie as gelyk beskou,
stort aluta, stryd, soos Tweelingtorings,
soos Berlynse muur, Mbeki-regime, ineen
indien Mens so kontinueer, mede-Mens pejorativeer,
verafsku, verdierlik, vermink, dekulturifiseer, vermoor,
uitroei, kollateraal innie blik druk, nie-verbaal verniel,
onderdruk, verkrag, beroof, vol agitprop stop, heroplei,
sal Eerste Mens mos vir ewig laaste bly, in Lewe Twee,
nog veel meer pyn as innie Eerste, gedoriewaar, o wee,
Khoisan Bokveld toe, Eerste Mens, umNtu, waaragtig,
sosio-ekonomies, voorheen ultra-benadeeld, steeds so,
heel laaste innie ry, onner anie statuslys, uitgerangeer,
amper nie eens ‘n blip op Gini se koëffisiënt, meetbaar,
of wettiglik aanvaar, erken, as Eerste Mens in geheelprent,
of statutêr gekonsolideer, ruiterlik, gelegitimiseer, herstel,
verlore status uiteindelik herwonne, Paradys-Gewete terug,
leer streef na permanente afwesigheid van “Duiwelspiek”,
demoon-ikoon nie na Kaapstad terug sal keer, so verhewe,
slawerny uiteindelik verby, Gewete weer terug in Mens,
misleiding, mistasting, wanindruk, distorsie van persepsie,
Self-destruksie nie meer op spyskaart, vervang met ubuNtu,
gevoel van Naaste net so Waardig soos Self, mede-Menslik,
rekonstruksie van Gods Waarheid, rasionalisasie, redenasie,
ter wille van meerderheid, van meerderheid, in opvatting,
nie Self-destruktief wil wegskram van Gewete-herwinning
Jacobus Faasen

