Keur 2 deur Christine le Roux: 'n resensie

  • 0

Keur 2
Christine le Roux
Human & Rousseau
ISBN: 9780798174718

Afrikaanse liefdesverhale in die 1990's. Mak of nie so mak nie?

Met die keuse van die skrywersnaam Christine le Roux maak die uitgewer 'n definitiewe keuse vir die genre van die romanse of liefdesverhaal binne Eleanor Baker (oorlede 2002) se uitgebreide oeuvre. Mens kan na die verhale kyk binne die genre en buite die polemiek rondom die res van haar werk. Sy het 25 liefdesverhale gepubliseer. Die eerste twee in Keur 2 was deur Perskor uitgegee en drie het in Rooi Rose verskyn. Hulle verskil genoeg van mekaar om ‘n gesellige variasie te bied.

Keur 2 val in die kategorie: eietydse romantiese verhale. Dit laaste drie is moontlik oorspronklik volgens die uitgewer se voorskrifte geskryf, aangesien die tweede verhaal in die kompendium, “Liefdesvallei”, 'n stewige stuk erotiek wat, volgens wat ek vermoed, te veel gepeper sou wees vir Rooi Rose.  

Die verteller praat uit oogpunt van die vrou en raak nie aan politiek of godsdiens nie en weerspieël die teikengehoor se morele waardes.

Die helde in die verhale is, volgens die reëls van die genre, aantreklik, stil, sterk, welaf, professioneel en met een of ander stryd wat hom weghou van 'n romantiese verbintenis. Hierdie verbintenis kan tot 'n huwelik lei. ‘n Dik kuif op die voorkop en gespierde bolyf en arms sal jou ook na die asem laat snak. Die emosionele ontwikkeling van die held vorm nietemin die kern van die vertellings.

Voorbeelde van helde in hierdie kompendium is:

  • Roland (“Verborge liefde”) begin as 'n werkolis wat nie vrede het met sy ongelukkige kinderlewe nie. Hy kom tot die insig dat die lewe soveel meer bied.
  • Gerard (“Liefdesvallei”) staan sonder veel entoesiasme op trou met 'n jeugvriendin. Hy is skielik jaloers wanneer 'n ou vriend van die heldin, ‘n gas op sy plaas, daar opdaag. Sy idee van die liefde en die huwelik verander.
  • Reinard (“Tot in ewigheid”): hier word effens van die patroon afgewyk met die antiheld wat aan die begin as die held figureer totdat dit blyk hy kan nie verander nie. Reinard is 'n skamerige kollega maar spring in om die heldin by te staan as dinge verkeerd loop. So verander sy terughoudenheid na kragdadigheid en hy verower haar hart.
  • Andre (“Uitdraai na Ukuthula”) is 'n veearts met 'n gasteplaas. Sy verloofde se hart is nie saam met hom daarin nie en sy verbreek die verlowing wanneer 'n beter geleentheid hom voordoen. Andre besef die binneversierder het baie meer met hom gemeen en hy soek haar op.
  • Leon (“'n Hele nuwe mens”) is 'n ontnugterde wewenaar met 'n baba met wie hy geen verhouding het nie. Van verdwaas en geslote ontwikkel hy tot ‘n liefhebbende vader en vind ware liefde.

Heldinne

Die heldinne het eienskappe wat by die leser simpatie sal ontlok en by wie die leser aanklank sal vind. ‘n Ongelukkige verlede en positiewe persoonlikheidseienskappe dra hiertoe by. Hulle is mooi, suksesvol, en talentvol, en het tipiese vroulike eienskappe soos versorger en tuisteskepper wees. Hierdie talente word in ‘n beroep suksesvol toegepas.

In teenstelling met die onbeholpe popperige en kuise vroue soos in die liefdesverhale van die sewentigs, is almal in Keur 2 selfstandige, onafhanklike vroue.

In die verhale word hulle tot selfontdekking gelei.

In “Verborge liefde” as voorbeeld ontdek Victoria sy kan as die kuise onbetrokke metgesel met ‘n wantroue teenoor mans, tog ‘n liefdevolle huweliksmaat word.

Die karakters in al die verhale is geloofwaardig en ontwikkel volgens die voorskrif van die genre deur die liefde tot sterker en beter mense.

Seksuele spanning word geskep deur die helde se sintuie te betrek. Die gewoonlik konserwatiewe Kirsten lok haar held soos 'n mot na die kers met 'n vleiende laaguitgesnyde rok (“Verborge liefde”). Julia word betrap waar sy kaal onder 'n waterval staan (“Liefdesvallei”). En Reinard moet 'n nat Kirsten wat in die swembad geval het, help droog aantrek (“Tot in ewigheid”). Hulle word ook deur middel van hulle emosies gelok: Julia (“Liefdesvallei”) lok uit met 'n mondgeveg en in teenstelling daarmee haar weerloosheid na ‘n aanval; Kirsten (“Verborge liefde”) ontsluit die vermoë tot vrygewigheid en dankbaarheid; Leon (“'n Hele nuwe mens”) ontdek empatie met sy kind en raak verlief op die oppasser.

Dit stuur alles op die verwagte ontknoping af, wanneer die twee hoofkarakters mekaar emosioneel en fisiek vind.

Die dialoog is pittig en realisties. Die skrywer weet ook hoe om die einde van hoofstuk op hoë spanningsnoot te laat eindig: “... voordat sy uitloop met die wasgoed. Juffrou weet nog niks nie. Heeltemal niks nie” (358).

Hofmakery is subtiel en sensitief dog sonder terughouding.

Die genre bestaan al lank en is veral in Amerika vir die massas beskikbaar gestel. Mills en Boon wat al in 1930 hiermee begin het, word steeds gelees – ook deur Afrikaanse vrouelesers. Een respondent met wie daar gesels is, vertel sy lees die verhale al vir 30 jaar. ‘n Ander bely dit was al geslagsvoorligting wat sy as tiener gekry het.

Die netjiese uitleg van die boek word belemmer deur die kantlyne wat in die middel te nou is. Die boek is moeilik om te lees en te hanteer.

Die lesers van liefdesverhale wat hierdie stories langs die pad misgeloop het, sal dit geniet – miskien hulle dogters en kleindogters ook.

*

Bronne

Dyer, Lucinda. 2008. Romantic Writers of America.

Maclean, Sarah. Books 25/2/2014.

Mills & Boon https://www.millsandboon.co.uk; http://www.liefdesverhale.co.za/Books/19959

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top