Kersvieringe deesdae (my ervaring)

  • 0

Gaan loop maar van begin November in die winkels rond, dan hoor jy oral "Jingle Bells”. Blink papier, liggies, klokkies hang oral rond. Mense word aangemoedig om te koop, koop, koop.

Kinders sien die speelgoed, kerm by Pa en Ma. Om te kan Kersfees hou, moet ons koop, feesvier en partytjie hou. Dis die einde van die jaar, ons het hard gewerk, verdien om onsself te geniet. Kersbome, liggies. Oral waar jy kyk

So loop ek eendag in ʼn Pep-stores in Uniondale, Kaap. Elkeen koop iets mooi, elke kind moet nuwe klere kry. Speelgoed ook. En elke Kersfees moet een vertrek in die huis nuut geverf word vir Christmas. “Wat is Christmas, Mamma?”

In Sandton loop ʼn Ma met haar ontwerpersklere en perfekte grimering in die winkelsentrum rond, opsoek na iets duur en belangrik om te koop vir haar kinders wat die hele jaar by Sara moet bly, dat sy kan werk. Hulle gaan na ʼn uitgelese partytjie waarheen net die “Who’s who” en hulle kinders genooi word. Kaviaar en sjampanje en duur geskenke is nie vir haar en haar man en haar kinders vreemd nie. Maar, hoe verbeter ʼn mens op verlede jaar se self-aangedrewe karre en poppe? Waarvan sou die kinders deesdae hou? Sara sal weet, maar sy is nie nou hier nie.

In Mosselbaai sak die Gautengers toe op die Langeberg Mall. Almal naarstiglik op soek na geskenke, braaivleis en drank. “Kinders, moenie nou kerm oor ice-cream nie, ons koop Kersgeskenke, wees bly! Pa het ʼn bonus gekry!”

In Soweto kom ’n mama van die werk af, tot Oukersaand gewerk om die “madam” te help om haar huis mooi netjies te kry. Darem met ʼn pakkie koekies en ʼn “Krismis-bonus” en bietjie vleis om te braai. “Mama, wat is Christmas?”

Die ma alleen in die ouetehuis hoop om hierdie jaar van haar kinders te hoor oor Kersfees. Hulle het darem so twee, drie jaar gelede gebel om te sê: “ Happy Christmas, Ma!”

Weet ons waaroor gaan Kersfees, of is dit net ʼn amptelike vakansietyd? Waarom dit dan nie hou in Maart en die Seun van God se geboorte vier nie? Waarom hierdie dolle gejaag om te “rus” aan die einde van die jaar? Noem dit dan sommer net “Summer Holiday”!

Elsabe de Beer, Desember 2017

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top