Kennis van sensuur
2004

  • 1

Met die jongste heruitgawe van Kennis van die Aand in Human & Rousseau se Klassiek-reeks kan ek dit eintlik nie verhelp om terug te dink aan die gedoe rondom die verbod op die boek net mooi dertig jaar gelede nie. Vandag is dit moeilik, selfs vir dié wat dit meegemaak het, om jou in te dink in die buitensporigheid van die hele gedoente - wat nog te sê vir 'n hele nuwe generasie vir wie dit veilig in die geskiedenis lê.

Om die konteks te begryp moet mens eers bietjie trustaan na die eerste sensuurwet wat in die jare sestig gepromulgeer is. Hoewel die uitwerking van daardie wet jare lank betreklik "mak" was, omdat gesiene literatore soos prof Gerrit Dekker daarby ingesleep is en die sagte pedal probeer trap het, was dit net 'n kwessie van tyd voordat 'n jonger kabaal die mag sou oorneem en sensuur openlik 'n politieke speelbal sou begin word het.

Maar die woeling in die literêre hoenderhok was vanaf 1963 al aan die gang - trouens vandat Ingrid Jonker se onsalige pa, wyle Abraham H, dit taamlik duidelik gemaak het dat die wet, wat eintlik sy baba in die parlement was, vir hom 'n Trojaanse ryperd was waarop hy as hoofsensor, en wie weet mettertyd minister van binnelandse sake, die magsposisie sou verwerf waaroor hy lank vergeefse nat drome gekoester het. Eintlik het hy homself die genadeslag toegedien met sy berugte uitspraak dat sensuur eintlik in wese 'n goeie ding is en dat selfs William Shakespeare "verbeter" kan word deur die snoeiskêr van kuisheid in te lê. Uitsprake soos dié het van hom 'n openbare gek gemaak, en toe grootkanonne soos Van Wyk Louw en Opperman ook begin inklim (nadat ons eerste kampanje teen sensuur deur Jan Rabie en ander jongeres aangevoor is - toevallig by die einste byeenkoms in Groenpunt in April 1963 waar ek Ingrid vir die eerste keer ontmoet het), was Vader Abraham se doppie geklink.

Woelgeeste was egter toe al aan die woeker. Vandag totaal vergete manne soos dominee Dan de Beer van Aksie Morele Standaarde het hul quixotiese stryd teen die windmeulens van "pornografie" al heftiger begin voer; en dom donners soos Koot Vorster, 'n moderator van die NG Kerk (deesdae moet mens al verduidelik wie en wat hulle was, anders sal niemand weet nie), het 'n skrikbewind begin voorberei teen die "vuilspuite" van Sestig. Deels omdat Oom Koot met sy boetie Oom Jôn hand-op-die-blaas was, wat baie gerieflik Kerk en Staat saam in een onheilige en bloedskandelike bed laat beland het, was dit net 'n kwessie van tyd voordat morele stryders ook die veiligheidspolisie in hul stryd sou inspan. En dit was sekerlik nie toevallig nie dat uit hierdie woeling ook Willem de Klerk se bekende onderskeid tussen "verkramp" en "verlig" 'n verdeling tussen bokke en skape begin bevorder het. Om verkramp te wees, het ook so min of meer beteken om anti-Sestig te wees; die verligtes was dikwels ook juis dié (baie van hulle 'n jonger generasie op universiteit, wat teen daardie tyd al net so gatvol was vir armblankes, droogtes en sprinkane as die kentekens van Groot Literatuur as wat ons jonger skrywers dit was) wat kampvegters vir Sestig geword het.

Nadat die sensors aanvanklik veral Engelse boeke verbied het (miskien omdat die meeste van hulle nie eintlik Engels kon lees nie), beginnende - glo dit as jy wil - met Wilbur Smith se vretende leeu, was die tyd ryp dat 'n Afrikaanse boek ook 'n slag nader getrek word.

Vreemd en selfs naïef soos dit vandag mag klink, het ons Afrikaanse skrywers in 'n valse gevoel van veiligheid ons ding gedoen: ons het nie régtig gedink ons staan in die vuurlinie nie. Selfs ná die dwarrelwinde rondom Sewe dae by die Silbersteins (toe een Mevrou Dominee mos getel het hoeveel keer - was dit 69? - sy seksueel beroer is deur die boek, en verkondig het dat die heel ergste van dié roman nie dit was wat in die hoofstukke geskryf staan nie, maar dit wat mens jou kon verbeel tússen die hoofstukke op die plaas Welgevonden plaasvind …), het ons nie werklik geglo iets soos 'n verbod sou ons tref nie. Ons was mos darem Afrikaans, dan nie? En al het die establishment ons verpes, in die parlement teen ons gepraat, van preekstoele teen ons gepreek, op markpleine ons boeke verbrand (ja, hoor!), was ons mos tog darem "familie" dan nie? Maar eintlik moet ons geweet het dat as familie die dag begin baklei, dit viesliker en vreesliker as enige ander baklei kan word.

Party van ons het ook oor onssélf moerig begin raak. By die Kaapse Somerskoolberaad aan die begin van Sewentig, waar al die Sestigers op 'n knop gejaag is en Breyten ook sy seën- en vloekwoord gespreek het, was daar van ons wat begin vra het: As dit dan nou so is dat daar regtig nog niks in Afrikaans verbied is nie, is dit nie dalkies nét omdat ons nog niks geskryf het wat regtig die banvloek verdien nie …?

Nee, die tyd was soos 'n goeie vy aan die ryp word.

En toe Kennis dus sy verskyning maak - 'n boek wat die "gevestigde" uitgewers nie met 'n tang wou aanvat nie en waar Daantjie Saayman se steeds onvolprese klein uitgewerytjie Buren gewaag het waar die belangriker menere nie voor kans gesien het nie (net soos, ironies, die toe nog klein uitgewerytjie Human & Rousseau in 1962 dit gewaag het om dinge soos Silbersteins en Lobola te publiseer toe Nasionale Boekhandel dit nie durf waag het nie …) - was die tafel gedek, die gaste aangesete; en net die gemeste kalf het nog ontbreek.

En daar kap Oom Jannie Kruger - nie die grootste gees wat die literatuur in hierdie land al gesien het nie - toe vir Kennis. Gee bietjie hier, sê hy, laat ons kyk. Al wat koerant is, begin spekuleer. Omtrent al wat leser is, begin briewe skryf. En al wat nuuskierig is, begin lees. Net, helaas: die boek is nou uit druk en Daantjie Saayman kan dit nie waag om die boek te herdruk voor uitspraak gelewer is nie, anders sit hy dalk met 'n outydse kleinhuisie vol onverkoopte eksemplare in sy stoorkamer, en boekhandelaars en biblioteke stuur terug, en 'n hele klomp riool slaat die fan.

Ter wille van Daantjie se finansies bel ek oom Jannie om te verneem na die welstand van my boek.

Nee, seg hy, die sensors se meule maal, soos God s'n, fyn, en ons moet maar geduld gebruik.

Maar wanneer kan ek ten minste wéét of die boek verbied is of nie? vra ek.

Het jy die boek by die sensors aangekla? vra hy.

Nog nie eintlik daaraan gedink nie, erken ek ruiterlik.

Dan kan jy nie weet voor dit in die Staatskoerant gepubliseer is nie, lig hy my welwillend in. En voeg meesmuilend by: Of vind uit by Rapport - hulle weet mos altyd alles.

Bliksem, dag ek. Moenie my dare nie. En wetend dat die boek in elk geval klaar uit 'n hele paar oorde aangekla is en dat 'n Komitee besig is om dit te oorweeg, bel ek 'n goeie vriend en hy reël met sy sekretaresse dat sy óók die boek aankla. En sy doen dit. En so teen die Vrydag, as ek reg onthou, word sy toe, soos die ander klaers (almal voorlopig nog anoniem), vertroulik verwittig dat die boek wel verbied gaan word, al kom dit eers volgende week in die Staatskoerant. En die sekretaresse sê vir haar baas, en haar baas sê vir my, en ek sê vir Coenie Slabber by Rapport. En Sondag, soos oom Jannie nydig voorspel het, maar nooit in sy wildste drome verwag het nie, toe staan dit inderdaad in Rapport.

En toe bars die hel los.

'n Burlesk. Maar ook nie net snaaks nie.

Hartverwarmende dinge gebeur. Van heinde en ver word solidariteit bevestig, ook van totaal wildvreemde mense. En toe dit bekend word dat ek en Daantjie hof toe gaan met die saak om die sensors se besluit te betwis, begin die publiek geld skenk om die koste te betaal: honderde en honderde mense, hier tien rand, daar vyf, daar twee. Tot dit 'n aardige bedrag word. En skrywersvriende - Ampie Coetzee, John Miles, Ernst Lindenberg, Chris Barnard … - reël voorlesings en proteste. Alles nogal opwindend.

Máár! - agter al die opwinding is daar iets van 'n verskriklike eensaamheid by die besef van wat dit regtig beteken.

Want as jy in 'n wêreldtaal soos Engels skryf, mag 'n verbod op 'n boek jou steeds soos 'n skop in die maag tref, maar dit hoef nie die einde van jou skrywersloopbaan te beteken nie. In 'n klein en geïsoleerde taal soos Afrikaans kón dit.

En dit was hoekom ek toe besluit het: nou goed, as ek dan in my eie taal stilgemaak word, dan sal ek - die Jirre weet! - in Engels ook begin skryf, net om te sorg dat ek nié stilgemaak sal word nie. En ek spring nog dieselfde dag daaraan om Kennis in Engels te vertaal - met die hulp van dierbare Engelse vriende, want my eie Engels is nog maar onwennig. (Tevore het ek, ook met vriende se raad en daad, Ambassadeur wel in Engrels vertaal, vir 'n uitgawe wat erbarmlik misluk het - ten minste ten dele, glo ek, omdat die Engels so onsekuur was, met die gevolg dat ek dit later moes hérvertaal. Maar dit was in elk geval anders. Dit was 'n keuse, 'n toontoets in die water. Dié keer was dit kan-nie-anders-nie.)

Nog voor die saak behoorlik op dreef kon kom - voor drie regters wat die verbod eenparig sou handhaaf: een omdat hy van die eerste dag af al geen geheim daarvan gemaak het dat hy hierdie donnerse boek gaan laat afkak, maak nie saak wat die reg sê nie; een omdat hy die wet, die hele wet, en niks behalwe die wet nie raaksien; en een omdat hy met die beste wil ter wêreld moet erken dat die Sensuurwet hom nie tóélaat om enigiets anders as nee te sê nie - is die vertaling klaar.

En teen daardie tyd het die publisiteit al so hand uitgeruk dat dit oor die rande van Suid-Afrika in Time en Newsweek en godweetwaaroral inplas. En toe die boek eers in Engels gepubliseer is (in 'n aaklige uitgawe wat lyk soos 'n reklamebord vir 'n masseersalon), begin die boek, soos Ingrid se Kind, deur die wêreld te loop, sonder 'n pas. En dit is direk dááraan toe te skryf dat Kennis se opvolgers dan sedertdien drie en dertig tale geleer praat het. Alles net omdat die sensors probeer het om dit stil te maak. Wat iets sê oor sensuur.

Maar op 'n manier was dit nog net die begin. Want Kennis is om drie stelle redes verbied:

  • omdat dit pornografies is (daar kom seks tussen instemmende volwassenes voor);
  • omdat dit godslasterlik is (iemand sê byvoorbeeld: "God, dis warm", en gebruik derhalwe die naam van die Here ydellik);
  • omdat dit die veiligheid van die Staat in die gedrang bring (onder meer slaap 'n bruin man by 'n wit vrou, en dit diskreditreer regeringsbeleid en stel dus die apartheidsregering en sy beleid in gevaar).

    En mits dese word die jag toe oopgestel vir die veiligheidspolisie. Wat deur die daaropvolgende jare (totdat ek vir FW sou vra of hy dan nie iets aan die saak gaan doen nie, en hy laat weet hy sal die polisie vra om ondersoek in te stel) alle denkbare vorme sou aanneem: die voor die hand liggende prosedures om my foon te tap en my pos te onderskep (altyd op so 'n manier dat mens wéét dit word gedoen); of om vriende - en studente - om te koop of af te dreig om op my te spioeneer; om my huis te deursoek, my manuskripte en selfs my tikmasjiene te konfiskeer ("Ons sal hierdie huis afbreek," sê die kolonel wat later hand sou bysit om Steve Biko te vermoor, "tot daar nie twee bakstene op mekaar bly staan nie"); om my op die wondbaarste ure van die nag te bel en met die dood te dreig; om my en my familie oral en altyd, selfs op vakansie, en selfs oorsee, te agtervolg; om my motor te probeer opblaas; om my huis te probeer afbrand …. Ensovoorts, ensovoorts, ensovoorts. Tot mens geen enkele aand vir jou kinders kan nag sê in die seker wete dat jy môreoggend nog saam met hulle gaan wakker word nie. En dit alles net, onthou asseblief, oor 'n boek. Nie oor ek 'n bom geplant het of 'n kragstasie opgeblaas het of 'n landmyn gelê het nie.

    Dit laat mens dink, onder andere, oor boeke.

    Dit tap 'n mens se energie.

    Maar daar is kompensasies. Jy ontdek wie jou eintlike vriende is. Wie deur dik en dun by jou sal staan. En jy maak ontelbare nuwe vriende, waarskynlik die meeste van hulle lankal nie meer wit nie. En jy kry kans om in tientalle lande van die wêreld apartheid aan die kaak te gaan stel. En bowenal: jy kry elke dag opnuut die versekering dat wat jy doen, op die een of ander (dikwels obskure) manier die moeite werd moet wees - anders sal die bliksems jou nie so onnodig ernstig opneem nie.

    Wat is, te midde van dit alles, die heel moeilikste?

    Om met elke boek wat jy skryf, in die diepste diepte van jou gewete te probeer luister na wat daardie boek self vir jou sê oor hoe hy geskryf wil en moet word: om nie enigiets sagter te stel om volgende keer by die sensors te probeer verbykom nie; maar om ook nie moedswillig enigiets stérker te stel net om hulle uit te tart nie. Want skryf is 'n donners moeilike - en gevaarlike - ambag. En as jy nie bereid is om dáármee eerlik te wees nie, moet jy liewer nooit die pen opneem nie.

     

    * * *

    Dit was nog nie die einde nie. 'n Paar jaar later, soos wat die wet voorskryf, het ons weer die boek voorgelê om te toets of die sensors al intussen van snaar verander het. O, en daar's vriende wat nou binne-in die bedeling sit en belowe om jou saak dié keer te steun - selfs al weet almal dat weinig betoë hond haar-af gaan maak by die jongste hoofsensor, die onillustere regter Lammie Snyman. (Iemand het gevra: Kan mens 'n béter naam vir 'n sensor bedink as Sny-man?) Daar is 'n literator van faam wat sê hy gaan dit op literêre meriete "stoot" - maar wat dan, op die kritieke moment, nie meer kan stoot soos in sy jeug nie. 'n Man van God wat jou voor die Here belowe jou saak is in veilige hande: hy gaan met volle morele oortuiging die boek se saak steun. En wat dit agterna tog ietwat moeilik vind om te verduidelik hoe die hervoorlegging dan toe eenparig verwerp is?

    Maar dan, op 'n tyd dat dit skaars nog saak maak, is daar wéér 'n verskyning voor die Raad. Dié keer is dit Koos Human self wat die appèl loods en wat van die beste regslui in die land inspan. En heel belangrik: nadat die Raad met die skandalige verbod op Stephen le Roux se Magersfontein o Magersfontein sy gat gesien het (in die oorspronklike betekenis van die uitdrukking), verdwyn die Sny-man uit sy pos en die veel oopkoppiger Kobus van Rooyen neem oor. En bowenal: teen dié tyd is literêre sensuur in Suid-Afrika regtig nie eintlik meer van belang nie, omdat die apartheidsregering op soveel ánder fronte moet bontstaan om die dyke van verspoeling te red: vakbonde, kerke, universiteite, internasionale sanksies … En mits dese is die Kennis-hoofstuk dan toe ook min of meer, godlof, afgesluit.

    Eerste publikasie op LitNet: 4 Augustus 2004

  • 1

Kommentaar

  • Een prachtig verhaal, waarbij ik heb zitten grinniken van plezier.  Al zal het voor de auteur in die tijd allesbehalve plezierig zijn geweest.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top