Kennis is mag (en sukses, welvaart, rugstekery, ondergrawery en korrupsie)

  • 1


Titel: Kennis is mag
Skrywer: Malene Breytenbach
Uitgewer: Rosslyn-Pers, 2013
ISBN: 9780992197841

Malene Breytenbach het reeds 29 romanses en vyf romans op haar kerfstok, wat afspeel in plekke soos Argentinië, Kenia, Oudtshoorn en Mpumalanga. Kennis is mag, haar eerste publikasie by Rosslyn-pers, speel af in ’n akademiese omgewing, naamlik die fiktiewe Universiteit van Utopia (wat baie raakpunte met Stellenbosch het). Dit begin met ’n aanhaling deur die Nobelpryswenner en diplomaat Henry Kissinger, wat ook later in die boek aangehaal word: “University politics makes me long for the simplicity of the Middle East. Academic politics are so vicious because the stakes are so low.” Die akademie is natuurlik ’n baie bekende omgewing vir Breytenbach, wat self onder andere drie meestersgrade en ’n DPhil-graad agter haar naam het en boonop self by die Universiteit Stellenbosch in diens was. Hierdie agtergrond span sy goed in, en die leser kry ’n goeie kykie (hoewel  effens oordrewe, danksy die satiriese inslag) in die ratwerk van ’n groot akademiese instelling.

Die drama skop reeds in die openingstoneel af wanneer ’n ongeïdentifiseerde karakter ’n dreigbrief ontvang. In die volgende toneel jaag ’n motor vieruur in die oggend met skreeuende bande weg, en die volgende dag word die dinamiese en gewilde rektor, Josef Herholdt, dood aangetref in sy stoorkamer. Almal vermoed gemene spel en die polisie ondersoek ’n saak van moord. Kaptein Anna Steyn, wat al die luuksheid en oordaad van die rektorskantore as buitestander beoordeel, wonder wie voordeel kon trek uit die rektor, wat sy met ’n koning vergelyk, se dood.

Die verhaal spring dan ’n jaar terug, toe Julia de Ville die eerste keer haar opwagting by Utopia gemaak het vir haar onderhoud vir die pos van viserektor: navorsing en internasionale betrekkinge. Die verhaal verloop dan chronologies op haar pad van onversadigbare ambisie met haar aanstelling as viserektor tot kort na die dood van die rektor. Omdat ’n mens van die begin af reeds weet dat die rektor onder suspisieuse omstandighede dood is, ontleed die leser deurentyd elke nuwe karakter en situasie om vas te stel wie die moontlike skuldige is. Maar die einde is tog onvoorspelbaar, met ’n ekstra kinkel ...

Soos in Pluimprinse, staan die uiterlike vertoon van welvaart sentraal tot die verhaal. Welvaart dui hier op akademiese sukses en mag – nie net van die Universiteit van Utopia nie, maar ook van die karakters. Daar is luukse sportmotors, viertrekvoertuie en ’n seiljag, etes in duur restaurante, oorsese reise. Maar wanneer daar dieper gedelf word, het die universiteit, ten spyte van die oënskynlike welvaart, finansiële probleme wat aan onder andere wanbestuur toegeskryf kan word. Ook die karakters met hulle ontwerpersklere, gemanikuurde hande en perfek-gestileerde haarkapsels, versteek allerhande onheil agter die fasades van sukses en welvaart – rugstekery, jaloesie, ondergrawery, korrupsie. Verhoudings tussen verskillende rassegroepe, wat op die oog af netjies vlot, is ook nie wat dit voorgee om te wees nie. Dus ’n geval van “van bo blink, van onder stink”.

Ten spyte van die boeiende verhaal, het ek tog gevoel dat die teks nie heeltemal afgerond is nie. Om mee te begin: hoewel mens nie ’n boek op sy buiteblad behoort te takseer nie, lyk die omslagontwerp nietemin onprofessioneel (die foto van ’n universiteitsgebou lyk of dit sommer met ’n selfoon geneem is). Dan is daar kwessies wat met ’n swaarder redigeerhand uitgestryk kon gewees het: die beampte en nagwag, Denver Julius, is skynbaar 24 uur per dag aan diens; Julia de Ville se vlammende rooi hare en groen oë word bykans in elke hoofstuk waarin sy figureer, gemeld; en die leser moet minstens drie keer lees van Shawn Adams se leeu-oë. Of drie van die manlike karakters nou met die linkerhand kolf of nie, word ook gereeld gewonder deur verskeie ander karakters. Lesers wat ’n speurverhaal verwag, sal teleurgesteld wees – kaptein Anna Steyn, wat vroeg in die verhaal as fokaliseerder optree, en van wie mens dus kan verwag dat sy ’n belangrike rol in die verhaal speel, verdwyn heeltemal en verskyn eers weer aan die einde om die leierskap van die universiteit in te lig oor die resultate van die polisie se ondersoek.

Die kritiek ter syde is die boek – anders as die karakters – pretensieloos, en lesers wat ’n storie met baie intriges geniet, sal daarvan hou.


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.
 

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Wannie Carstens

    Ek het Marike van der Watt se kommentaar op hierdie boek gelees. Die breë strekking daarvan, dat die boek lekker lees, is waar. Ek het dit self gelees en omdat ek self aan 'n universiteit verbonde is, dit interessant gevind en dit ook geniet sonder om iets meer verborge te soek. Ek het vir Malene laat weet sy kan die Afrikaanse David Lodge, wat bekend is oor sy boeke oor die akademiese konteks, word. Dis bloot sosiale kommentaar oor 'n fenomeen - die lewe van akademici. Malene, skryf gerus nog hiervan. Ek sal graag wil hoor hoe Julia de Ville vaar as rektor van die universiteit ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top