Outeur: Riana Scheepers
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 978-0-7981-5107-8
Bladsye: 203
Prys: R159
Klik hier en koop Katvoet nou by kalahari.net!
Katte is sintuiglik, slim en slu … ’n Vrou is soos ’n kat. Jy kan haar nooit besit nie.
Só het die skrywer self tydens een van haar boekbekendstellings gesê.
Reeds op die voorblad van hierdie tiende kortverhaalbundel van Riana Scheepers blyk die verband tussen vrouwees en katwees duidelik. Die vrou neem verskillende gedaantes aan: sy gee raad, sy beskerm, sy vier haar seksualiteit. Maar sy is ook die vrou wie se wortels op ’n plaas en in Afrika lê, een wat die lof van die natuur besing. Só: “Die plaas lê soos ’n vrouebors in sagte deinings en koeltes …”
Die kat kom ook in verskillende gedaantes voor. Daar is ’n skuurkat, gemmerkat, groukat en rooikat wat later luiperd, roofdier, jakkals en wolf word. Die wolf roep Clarissa Pinkola Estés se verhaal Women who Run with the Wolves na vore. Die vrou, sterk en waaghalsig.
Maar daar is nóg ’n dimensie: die psigiese, waarvan die katsimbool ’n versinnebeelding is. Die bo-natuurlike element neem verskillende vorme aan, soos lewe ná die dood, voorspellings en karakters wat genesende vermoëns het.
Deur sommige verhale loop ’n religieuse draad, soos in “Wonderwerk” en “’n Oog wat nie wyk”.
’n Ander tema is die verskrikking van druk op die vrou oor die ideale liggaamsvorm, soos in “Vonkelfontein”, waarin ’n oorvloedige vrou voorkom en in “My naam is Anastasia”,wat oor ’n anorektiese meisie handel.
Met die verhaal “Katvoet” word die kat-tema as’t ware saamgevat en tot ’n hoogtepunt gevoer.
Die meeste van Scheepers se verhale is dig verweef. Die skynbaar gewone gebeure word mettertyd ongewoon. Dis in haar manier van kyk dat haar sukses as skrywer lê. Die stories vra herlees sodat jy elke simbool ten volle kan herken en beleef. Soos die watersimbool wat dwarsdeur “vloei”. Daar’s swembadwater, maar ook vrugwater, die oerbeeld vir ontstaan, bestaan. Water is ook die een ding waarvan katte nie hou nie.
Scheepers weet presies op watter einde haar verhale moet afstuur en dis waarheen sy met mening en ’n missie skryf.
Daar is die verhale op een vlak wat byval behoort te vind by lesers wat hou van ’n gewone, maar goeie vertelling. “Riano”, “Die skoolhoof luister” en “Daardie nag met die katte toe ons so brandewyn gedrink en sjokolade geëet het” is sulke verhale.
Dis moeilik om die beste digverweefde verhaal te kies. Ek is aan die hart geruk deur “Verskoning (2)”, waarin vergifnis die hooftema is. “Kris”, waarin geestelike letsels seerder maak as die fisieke, is meesterlik geskryf en die wyse waarop die skrywer die verplettering van verkragting uitbeeld in “Ry, en ry, en ry” is slim en bewonderenswaardig.
Die uiteensetting en verloop van gebeure maak “Drenkeling” my gunsteling. Dit handel oor Madame Xena, ’n ongewone bejaarde wat geestelike pyn het om te verwerk.
Die taal van dié meesterkortverhaalskrywer is nóg ’n rede om die bundel te herlees. Haar taal proe ouwêrelds. Sy skryf: “Die geur van melk, die dik, geel room wat in ’n dun straaltjie uit die tuit van die erdebeker inloop, is deurdringend om haar; beesmelk en die vars geur van ’n gesmeerde misvloer omring haar, maar daarvan is sy nie bewus nie.”
Die skrywer gebruik dikwels ouwêreldse woorde wat mens deesdae min hoor, soos kiertjies, krakeel, skromelik, flakker, mispels en fantoom.
Haar beelde is besonder visueel. Gesnyde biltong word “’n boekie biltong” en ’n rooikat kronkel “koperkapel” om ’n voorarm.
Soms is haar taal besonder beskrywend, soos “... ’n stem waarin amber gloei” of “… die duisternis om hulle die kleur van donkerpers pruime, soet en geurig en intens …” ’n Lang man se asem moes “’n lang pad gaan voordat dit uiteindelik by hom uitgekom het”.
As mens wil kritiseer, moet jy ver soek. Vir my het die skrywer verby die einde van “Gesondheid, Souf!” geskryf. Die verhaal sou meer treffend gewees het as dit geëindig het met “maar onthou net, jou dag sal óók kom!” Dan hinder die gebruik van woorde soos lieflik, oulik en mooiste. Daar ís beter plaasvervangers. Hier en daar pla dit ook dat die skrywer te veel vertél waar sy eerder kon gewýs het.
In geheel gesien doen hierdie dinge egter nie afbreuk aan een van Scheepers se beste kortverhaalbundels nie. Hoop net haar lesers hoef nie nóg tien jaar te wag voor die volgende een nie.

