Kat-astrofe

  • 0

Bloot op grond van die vrugbare ou tradisie om 'n Nederlandse boek vir matrikulante voor te skryf, weet die  meeste afgestudeerde Afrikaans leerlinge  reeds dat 'n hele boel van die oënskynlike ooreenkomste tussen Afrikaans en Nederlands misleidend  is en wedersyds  groot kat-astrofes en verleentheid kan veroorsaak.

Kortom, iemand kan so maklik  die kat (sic) aan die stert beet  kry en ewe lustig saamsing aan die volksliedjie: " Ja die kat kom terug/hy kon nie langer wag" soos wanneer die Nederlandse huisvrou byvoorbeeld boodschappen (inkopies) gaan doen of van haar buurman houdt! (Die buurman liefhet!)

Nederlanders voel verder  ons Afrikaanse  apologetiese  uitdrukking: "Verskoon my!" as vreemd en vermetel aan, tensy hulle bewus is van en ingelig sou wees oor  oud-minister Adriaan Vlok se voetewas- kampanje nadat hierdie kat met skerp naels oor  die Vlakplaas-doenighede by die Waarheids- en Versoeningskommissie deur wyle Dirk Coetzee uit die sak gelaat is!

Nederlanders verwonder hulle ook aan die verwarrend-meervoudige gebruik van "baie"  as oa veel/vele mensen, zeer mooi, en zo voorts asook die Maleise of Engelse name van vrugte soos piesangs, sambal, pynappels, lemoene, blatjang of  verkleurmannetjie in Afrikaans. En die besoeker aan Nederland is  geskok en afwysend wanneer hy by die Albert Heyn supermark  gehakt vlees vir maalvleis of runder vlees vir beesvleis te koop aangebied word.

Eerder om in LitNet,  soos in "Vat jou goed en trek Ferreira", te swaar die een akademiese kant van die verhouding Afrikaans en Nederlands te wil oor-dra, wil ek veel liewer  hier die belang van Nederlands op skool positief bepleit  en wil daarom my ou klasmaat in die oorkantste matriekklasbank Frik, as akteur in die taaldrama van Afrikaans teenoor Nederlands in  herinnering roep.

Dit was deur die toedoen van ons humeurige Afrikaans-onderwyser, bygenaamd "Lammetjie", dat  elke matrikulant onvoorbereid 'n paragraaf uit ons voorgeskrewe Nederlandse boek hardop in die klas moes lees.

Aan die seunskant van die klaskamer, waar elke letterkunde-periode daarmee begin is, was die meeste van  ons wawyd  wakker, opgeskerp  en ingestel  om reeds vroeg, indien nie die hele leesstuk tuis nie,  na te gaan en aan te dui of daar nie dalk in jou leesbeurt een of meer van die onhebbelike en onbruikbare Nederlandse  woorde sou voorkom nie.

Of Frikman  summier ongeërg of onverskillig was, kon nie een van ons, seun of dogter, later met sekerheid getuig nie maar hy het ewe vlot en vol selfvertroue aan sy paragraaf begin lees en mooi gevorder toe hy eensklaps met groot oë en  bleek soos 'n laken gestop het.

En ons almal eensklaps  die ironiese  gevolge vermoed wat ons  by voorbaat verwag het, naamlik dat  Frikman nie voorbereid was vir hierdie taaltoets nie:  Hy het eers soos 'n haan wat verwurg word  keel skoongemaak, sy wange   soos  ballonne opgeblaas  en met sy vuis tevergeefs vir uitkoms  teen sy voorkop gekap toe hy weer probeer voortgaan het: "En Peter was zeer geheg aan zijn ... pe- pe- pre-proes" - tot ek ten einde raad hom uit sy dilemma probeer red het deur hom hardop as 'n soort souffleur voor te sê: "Dis 'n kat Frik! Sê kat!" En toe herhaal hy: "Peter was zeer gehegd aan zijn ki- ki- kat Ophelia."

Op die punt het Lammetjie reeds soos 'n gekweste leeu van woede begin  brul en ek het geweet dat te midde van die histeriese lagbui van die hele klas,  ek duur sou betaal vir hierdie ongevraagde inmenging in Frik se  voordrag van  die poëtiese beskrywing van Peter se  Persiese kat.

Meer nog: Op pad kantoor toe het ek geweet  dat nie die kat nie maar die kats  terug en byderhand sou wees vir  Lammetjie om  my benoude boude bloedig en blou as nagedagtenis van my konfrontasie met Nederlands kunstig te borduur en versier!

Humphries du Randt

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top