
Foto: Canva
Kasteel van bloed
Daar staan dit.
Die rooi kasteel.
Diep binne my,
waar die grond swart is
en wortels
nie leef nie, maar ook nie sterf nie.
’n Verlore, verlate kasteel
met torings van gebreekte tande,
vensters leeg, blind en swart,
mure klam van jare
se sweet, skaamte en smart.
Die maan skyn nie hier nie,
jou naam ook nie.
Jy weet beter.
Hier binne
is dit altyd drie minute na middernag.
En as ek draai,
teen my,
gaan die deure oop.
Kraak.
Die gange begin fluister
in ’n bekende stem.
My stem, sonder veiligheid en troos,
aantygings,
geswets
boos
Dieselfde stem
wat alles onthou
wat ek wens ek kon vergeet.
’n Rekord van mislukking en gebrokenheid,
leuens, manipulasie en trots.
En ek hoor
die musiek begin speel.
’n Verdomde muur van klank
swaar kitare,
verwringde gromme,
dromme soos ’n dodemars
in die kelders van my bloedkasteel,
wat klop en klop en klop
en doef en doef en doef
’n kakofonie van kerm en skreeu,
’n oorlog in my kop.
Doef en doef en doef
en klop en klop en klop.
Die hart.
Die musiekkamer.
Of wat daarvan oor is.
Ek hardloop deur die sale,
dierlik,
probeer ek my skaduwee ontvlug.
Naalde lê
soos klein silwersleutels.
Elke sleutel
maak ’n ander deur oop.
Elke deur
lei na dieselfde kamer van skuld,
waarin die stemme van geliefdes
pleit in verlore kanse.
Ek was beskonke
in hierdie kasteel.
Beteuterd.
Verdwaal.
Verlore.
’n Intieme optog
van begeerte en vernietiging,
tussen wat ek wil hê
en wat ek nodig het.
My liggaam:
’n masjien wat moet werk,
’n os wat moet ploeg,
’n bloedslaaf
met die emosieduiwel as meester.
’n Ding wat maar moet bloei
solank dit net aanhou beweeg.
En wanneer die onversadigbare honger kom,
wat eintlik altyd daar is,
voer ek dit.
Wanneer die onkwesbare eensaamheid kom,
wat eintlik altyd daar is
voer ek dit.
Wanneer die alomvattende vrees en onsekerheid
sy lang vingers om my keel vou,
soos dit altyd doen,
probeer ek harder,
begeer ek harder,
lieg ek harder.
’n Bloedfasade
oor ’n bloedfasade
oor ’n bloedfasade.
Elke steen, ’n keuse.
Elke gang, ’n gewoonte.
Elke kamer, gebou in skuld.
En in my slaapkamer
voel liefde soos verlies.
Soos lustigheid
sonder rustigheid.
Dit is ’n spieëlsaal
waar elke weerkaatsing
my kleiner maak,
en in die lang, donker gang
probeer ek myself nie verlaat nie.
En doef en doef en doef,
en nog en nog en nog,
en harder en harder en harder,
en klop en klop en klop.
Kraak.
En die musiek stop
en my stem breek,
gebroke,
begin dit verstik
aan die eensaamheid.
In die middel van die bloedpaleis,
gehurk, wag hy,
die man wat weet
dat liefde en hoop
selfs in gebrokenheid
aan mekaar verbind is.
Hy is bloedloos,
beteuterd,
geduldig
en sonder oordeel.
Nugter glimlag hy gerusstellend
en steek sy hand uit
na my hand.
Hy sê:
Hou vas.
Staan stil.
Luister.
En die bloed
op die mure
was syne,
was myne.
Ek sit my hand
teen die rooi muur
en voel
die kasteel asemhaal.
Klop.
Ek luister.
Klop.
Ek luister.
Klop.
Ek luister.
Nog ’n keer.
Die oorlogsdrom
was al die tyd
’n hart
wat in ’n vervloekte bors
steeds nederig dien.
En ek sien:
Die kasteel
was ’n gevangenis
van bloed en vrees.
Die bloed aan die mure
was Syne.
Was myne.
En iewers
in die bloed
in die donker
bly lewe.
Klop.

