
Fotobron: Wikipedia
karoo-reis
’n mens moet dikwels ver en
gly-gly reis om grond te vat en
huis te haal
soms deur dik sneeu teen ’n
steil berg op
totdat die wit greep verslap en
jy afsak in die maanlandskap
van ’n nat karoo
met modderpoele en ysterklip
wat die ewewig en velling
heelpad dreig
die nag se gordel stywer om
jou span op ’n pad wat eindeloos
strek
tot skielik sy stem: dat niks
hier onbekend of onberese is
nie
dat elke poel en klip, hoek en
draai met eie voet getoets is
geen vreemde ster die uitvaart
kan versteur
’n 1956-Pontiac steeds met ’n
yslike brul die laaste bult sal
oorbeur


Kommentaar
Watter meesleurende Karoo-beelde Carel - vanaf 'n pad wat eindeloos strek tot by 'n maanlandskap!
Dankie Carel!