Karoo Kitchen 'n gunsteling by die Franschhoek Literêre Fees

  • 0

Terwyl die meeste lede van die gehoor 'n innemende gesprek oor kolwyntjies, tuisgebakte pasteie en swierige slaaie verwag het, moes hulle hard sluk aan die werklikhede waarop Suid-Afrika se voorste koskenners hulle bedag wou maak.

Die meeste huishoudings in ons land kan dalk een keer per week 'n sak sopbene of afval bekostig. 'n Hoender en koolkop op 'n Sondag is 'n feesmaal. Dis veel makliker, en boonop goedkoper, om geprosesseerde en gemorskos te eet.

Dít was Sydda Essop se herinnering aan die uitgesoekte gehoor wat die Cooking up a storm-gesprek tydens vanjaar se Franschhoek Literêre Fees bygewoon het.

Drie uiteenlopende figure uit die koswêreld het saam gesels en Abigail Donnelly het die vrae gevra. Sy het haar goed van haar taak gekwyt, want Sydda Essop, Jane-Ann Hobbs en Hilary Biller het elkeen waardevolle bydraes tot die gesprek gelewer.

Die Sunday Times se kosredakteur, Hilary, se selfgepubliseerde boek bied maklike resepte uit vorige rubrieke en koerantuitgawes – en dit vir onder R100. "Ons lees elke week soveel slegte nuus dat ek met die Sunday Times se Food Weekly 'n ligter kykie na die lewe en verligting vir die beursie wou bied."

Jane-Anne, skrywer van die bekende kosblog Scrumptious, het ook onlangs 'n resepteboek die lig laat sien. Sy het passievol gesels oor die positiewe en negatiewe aspekte van kosblogs en die internet – en 'n oproep gemaak dat bloggers akkurate resepte en goeie skryfwerk moet lewer. Dit was duidelik uit die gesprek dat Jane-Anne se blog in 'n ander klas as die meeste kosblogs daar buite is. En sy jok nie as sy sê haar gemmerbierresep is wêreldwyd die gewildste nie ('n eenvoudige Google-soek vir "home made gingerbeer" sal dit bevestig).

Karoo Kitchen
Sydda Essop
Quivertree Publications, 2012
ISBN: 9780986981326
Prys: R450

 Koop Karoo Kitchen van Kalahari.com.

Dit was egter Sydda se kultuur-historiese kosboek Karoo Kitchen (uitgegee deur Quivertree) waaroor die paneel nie uitgepraat kon raak nie. Die boek is 'n huldeblyk aan Karoo-kookkuns en bevat 80 eenvoudige resepte uit die hartjie van die Karoo. Karoo Kitchen bevat resepte vir granaatstroop, skaapkop, afvalbredie, gebakte rissel (krimpvarkievleis), skilpadjies en springboktong.
Dis immers hier waar Sydda grootgeword het, en daarom is die boek meer as 'n produk van drie en 'n halwe jaar se navorsing oor die eetkultuur en resepte van die Karoo-mense. Karoo Kitchen kan beskou word as 'n belangrike geskiedkundige dokument, meen Jane-Anne. "Elke resep is van onskatbare waarde en hierdie boek is een van die grotes onder Suid-Afrikaanse resepteboeke."
Sydda het verskeie toekennings, onder andere 'n Ghoema en Spesiale Toekenning van die minister van kuns en kultuur, Ivan Meyer, vir haar bydrae tot die kultuurerfenis van die Karoo gewen. Dit is die eerste boek van sy soort, wat erkenning aan die diverse kulture van die Karoo gee.

Sydda het talle resepte wat dikwels net mondeling van een geslag na die volgende oorgedra is, neergepen. Sy het meer as 70 kokke en tradisionele geneeshere besoek en dit was soms 'n onbegonne taak, vertel sy, want die kokke kon nie altyd onthou watter bestanddele en hoeveel daarvan hulle gebruik nie.

Die boek bevat ook kosbare kultuurskatte, soos 'n Somaliese tee-resep wat deel van Karoo-kookkuns geword het.

Hilary het Sydda geprys vir die werklike weerspieëling wat die boek van hierdie gebied en sy mense skets. Jane-Ann meen die boek maak helde van elke gewone mens wat Sydda in hulle eie kombuise besoek het.

Sydda het onder andere armoede, waterbeperkings en ander sosiale kwessies genoem as dit wat veroorsaak dat Karoo-kookkuns oor die jare gekwyn het. "Hierdie tradisies is besig om te sterf, want mense kan nie meer vleis bekostig nie en hulle is dikwels lui of onbevoeg om groente te kweek." Sydda meen dit is onwaarskynlik dat die ou kostradisies nog gered kan word. Volgens haar is gemorskos te goedkoop en bekombaar en jongmense stel nie belang om hierdie kookvaardighede by hul ouers te leer nie.

Die paneel het ook die belangrikheid van huishoudkunde as vak en lewensvaardigheid bespreek, en daar is ernstig besin oor die aanleer van "werklike kookvaardighede " buite die ontoeganklike wêreld van Jamie Oliver, Nigella Lawson en MasterChef.

"Back to basics" is dié formidabele vroue se roep. En alhoewel dit goed en wel is om jou eie konfyt te kan kook en brood te bak, behoort daar altyd plek te wees vir 'n pakkie bruin uiesop in elke Suid-Afrikaanse kombuis – of dit nou in Constantia of die Karoo is.

 

Abigail Donnelly, Sydda Essop, Jane-Anne Hobbs en Hilary Biller.

Abigail Donnelly en Sydda Essop

Sydda Essop teken eksemplare na die gesprek.

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top