Karin Cronjé se Alles mooi weer ʼn sterk en oorspronklike roman

  • 0

Titel: Alles mooi weer
Skrywer: Karin Cronjé
Uitgewer: Genugtig!
ISBN: 9780980260687
Publikasiedatum: May 2008
Bladsye: 232

 

Karin Cronjé se vorige roman, Vir 'n pers huis, het vertel van die vroulike hooffiguur se moeisame transformasie vanaf selfhaat tot selfaanvaarding. Hierteenoor teken haar jongste roman, Alles mooi weer, wat onlangs by Genugtig! Uitgewers verskyn het, 'n vroulike hooffiguur wat besig is psigies ineen te stort.

Vanaf die eerste bladsy van die roman straal die hoofkarakter, Hillette Barend, professor in die Departement Antropologie en Ontwikkelingstudies aan die Universiteit van Johannesburg, 'n soort gespanne energie uit. Sy het 'n hele aantal dinge wat haar besighou: haar voorsitterskap van 'n taakspan wat aanbevelings moet maak oor die deïnstitusionalisering van geestesinrigtings, haar soektog na die verdwene Stikland-pasiënt Pearl Poplin, van wie sy 'n gevallestudie gemaak het, haar verhouding met die vreemde Klaus Hufnagels, die versorging van haar bedlêende ma en die professorale intreerede wat sy besig is om voor te berei. Onder hierdie oppervlak huiwer daar 'n verlede waarin sy onnoembare psigiese skade opgedoen het.

Hillette Barend se psigiese verbrokkeling word gereflekteer in die roman se struktuur en die taalgebruik wat wissel van Afrikaans na Engels, van akademies-realisties tot surrealisties-poëties, van intellektueel tot rou liggaamlik. Hillette is vir die grootste gedeelte van die roman aan die woord in 'n ek-vertelling wat 'n soort gesprek met haarself verteenwoordig: sy spot met haarself, vermaan haarself, moedig haarself aan en lewer kommentaar op ander. Alhoewel hierdie self-gesprek met sy wisselende luime aanvanklik moeilik is om te volg, kom die leser weldra agter dat dit insae bied in 'n gemoed wat tot breekpunt gespan is. Deurgaans in die ek-vertelling verskyn daar ook "baniere" wat byna soos die opskrifte in strokiesprente funksioneer deurdat dit vanaf 'n soort buitestandersperspektief 'n opsomming of beskrywing van 'n situasie gee.

Die selfgesprek word verder onderbreek deur grepe uit die traumatiese kindertyd wat Hillette so sorgvuldig probeer onderdruk ten einde normaal te kan funksioneer. Die verlede word opgeroep in flardes poëtiese taal wat byna surrealisties voorkom (byvoorbeeld in die verwysings na bloedige blomkelke, 'n piet-my-vrou, die aardbol wat draai, 'n bal wat hop en die formule MUCG AXR PV, om maar enkeles te noem).

Soos wat 'n mens kan verwag, speel Hillette se familie, bestaande uit pa, ma en boetie, 'n belangrike rol in hierdie flitse uit die verlede. Van hulle is dit skynbaar net haar ma wat ten tye van die vertelling nog aanwesig is, alhoewel die leser mettertyd begin wonder of sy nie net 'n skim in Hillette se verbeelding is nie. Die ma is 'n bedlêende wat eintlik nog net snorkgeluide kan voortbring en onder haar arm die handsak waarin die inligting oor Hillette se verlede opgeteken is, soos 'n bloedblaas vasknyp. Soos wat Hillette se psigiese disintegrasie vorder, word dit duidelik watter rol elkeen van hierdie elemente en figure in haar verlede gespeel het.

Die ek-vertelling word ook afgewissel met aanhalings uit Pearl Poplin se dagboek waarin sy in 'n gebroke Engels die droewige verhaal van haar lewe vertel. Algaande word dit duidelik dat Hillette se obsessie met Pearl iets te doen het met die feit dat daar bepaalde ooreenkomste tussen hulle is: hulle beleef beide traumatiese kinderjare (Pearl se onbeholpe uitspraak, "I did not have a wonderful child wood", sirkuleer soos 'n refrein deur die roman); beide is die slagoffers van ongevoelige psigiatriese behandeling; beide soek na liefde; en beide vlug by geleentheid uit hulle lewens uit. Die soektog na Pearl neem Hillette na ʼn Karoo-dorp waar sy 'n ineenstorting beleef wat die voorloper is van haar finale disintegrasie in die slot.

Interessant genoeg word daar voor in die roman gesê dat die gedeeltes deur Pearl deur 'n anonieme persoon geskryf is, iets wat interessante vrae oor die ontstaansgeskiedenis van die roman oproep.

Naas die fokus op Hillette se persoonlike geskiedenis, skenk die roman ook aandag aan 'n groter sosiale problematiek. Die taakspan waarin sy dien, konfronteer haar met allerlei rasse-spanninge en haar eie vooroordele teenoor ander. Verder gee dit haar die geleentheid om kommentaar te lewer op die institusionalisering van en sorg vir sielsiekes, 'n aspek wat dalk verder ontwikkel sou kon geword het in die roman. Hillette se betrokkenheid by Pearl maak haar ook bewus van die bepalende rol wat armoede speel in die wyse waarop 'n psigiatriese pasiënt soos Pearl, wat "kansloos gebore" is, se lewe verloop. Mettertyd blyk dit dat Hillette ook op hierdie vlak met Pearl kan identifiseer, omdat haar eie trauma onder andere verband hou met die armoedigheid van haar familie wat vir ander weggesteek word.

Alhoewel die roman mettertyd vir die leser groter duidelikheid bring oor wat in Hillette se verlede gebeur het, gee dit ten slotte nie voor dat 'n mens haar toestand ooit volledig sal kan verstaan nie. Die roman handhaaf dus 'n fyn balans tussen verklarende onthulling en 'n element van ondeursigtigheid of onverstaanbaarheid. Indien al die drade netjies afgebind en elke detail verklaar was, sou dit 'n onoortuigende beeld van 'n psigies versteurde karakter geskep het. Verder word die vertelling van Hillette se naderende ineenstorting wel netjies in die hand gehou deur die sekure plasing van bepaalde herhalende motiewe en die tempo waarteen dit gedoen word.

Verdere sterkpunte van hierdie roman is die noukeurig-gedetailleerde waarnemings van situasies, die skep van unieke karakters, die oorspronklike taalgebruik, die poëtiese beelding en die wyse waarop dit spanning opbou. Die skerp fokus op die liggaam en liggaamsfunksies beklemtoon ook dat die psige nie losgedink kan word van wat met die liggaam gebeur nie. Indien 'n mens Hillette se akademiese diskoers moes gebruik, sou jy sê dat dit beklemtoon in welke mate (haar) subjektiwiteit be-liggaam is.

Ten spyte van die feit dat die roman op 'n afgryslike en waansinnige hoogtepunt eindig, is die slot nie sonder hoop nie. Na haar finale vergeldingsdaad word Hillette oorweldig deur 'n "bruin verpulpte uitskeidingsgolf" wat die hele wêreld oorspoel. Tog is daar sprake van 'n nuwe begin: terwyl die "grondryke aarde" tydsaam om sy as draai, sien sy dat daar uit haar naeltjie 'n sprietjie met "moedige wasgroen blaartjies" in die lig van die nuwe maan groei. So maak die skrywer Karin Cronjé in hierdie sterk en oorspronklike roman uiteindelik sin uit 'n verhaal van psigiese aftakeling en wanhoop.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top