Kantelpunt deur Sophia Kapp: ’n FMR-resensie

  • 0

Kantelpunt
Sophia Kapp
LAPA Uitgewers
ISBN: 9780799390919

Soos Erla-Mari Diedericks tereg opmerk in haar resensie in Die Burger van 20 Maart 2019 het Sophia Kapp met Kantelpunt ongetwyfeld ’n aar by veral vrouelesers raakgeboor. Soveel so dat dié hibriede teks die toptien gehaal het in die kategorie Volwasse Fiksie van die South African Book Awards wat jaarlikse erkenning gee aan Suid-Afrikaanse boeke wat “tot die mark spreek”. (Rapport Weekliks, 25 Augustus 2019)

Die pragtige voorblad toon ’n treffende verwerking van Sandro Botticelli se bekende Nascita di Venere, oftewel Die geboorte van Venus. In die oorspronklike skildery, wat uit ongeveer 1486 dateer en in die Uffizi-galery bewaar word, arriveer Venus, die godin van liefde wat uit die seesproei gebore is, op die eiland Siprus waar sy deur lente verwelkom word. Sy staan poedelnaak op ’n skulp wat deur wind voortgeblaas word terwyl sy beskeie probeer om haar vrouedele met haar hande te bedek.

In die eietydse populêre kultuur het Botticelli se Venus egter, soos Marilyn Monroe, ’n gewilde en misbruikte kommersiële ikoon geword wat al enigiets van Reebok-tekkies tot Lady Gaga se musiekvideo’s moes verkoop. Sodoende word die ikoon van liefde ’n kragtige simbool van vroue-uitbuiting. Insgelyks is is die skroomvallige godin op die voorblad van Kantelpunt vervang met ’n middeljarige vrou in professionele kantoordrag wat die kyker met gevoude arms en ’n uitdagende blik stip in die oë kyk en is die duidelike boodskap dat die inskiklike, onderdanige “mevroutjie” in hierdie boek as ’n selfgeldende, onafhanklike en bevryde mens as ’t ware “wedergebore” gaan word.

In die proloog, getiteld “Vrywaring” word die leser gewaarsku dat Kantelpunt nie romantiese fiksie wil wees nie, maar wel die boekstawing by wyse van ’n hipomnemata van Nellie van der Merwe se wederopstanding. As verduideliking word Michel Foucault se interpretasie van dié term gegee, naamlik ’n versameling van diverse tekste in ’n soort “lewensboek” vir latere oorpeinsing en moontlike aanwending.

Sophia Kapp is in 1965 gebore as enigste kind van Matthys en Gertina Swart, onderskeidelik ’n prokureur en Afrikaansonderwyseres. Ná haar grootwordjare in Durban en studies aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat doseer sy eers Afrikaans en later Vertaal- en Tolkstudie aan die Noordwes-Universiteit. Tans werk sy voltyds as taaladviseur vir die Virtuele Instituut vir Afrikaans en dien sy sedert 2013 in die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Volgens haar het sy begin skryf om die sleur van redigering en vertaalwerk te breek en net so 'n slag weer gebalanseerd en emosioneel mens te raak. Sy debuteer in 2007 met Die erflating en wen sedertdien bykans elke jaar die ATKVeertjie vir Liefdesroman van die Jaar.

Aanhangers van Kapp se romantiese oeuvre se rooskleurige leesbrille mag egter summier toewasem by die lees van die openingsin in Kantelpunt, wat só lui: “Daar is onteenseglik kakker ervarings in hierdie lewe as ’n besoek aan die ginekoloog, dink Nellie, maar in die halfuur wat sy vir die man moes sit en wag (en haar bes gedoen het om nié te dink aan waarmee hy nou besig is nie) kon sy wragtig nie een daarvan onthou nie.” Maar binnekort sal hul tot vroulike samehorigheid verlei word wanneer Nellie, die sardoniese fokalisator haar soos volg oor ongenaakbare ginekologiese ondersoeprosedures en die onreg van manlike bevoorregting uitlaat:

“Die twee sakkies waarmee hulle geslag gesinjaleer word, is klein en onopsigtelik genoeg dat dit gerieflik in ’n onderbroek pas. Dit mag hang of skud of swaai nes dit wil. Dit hoef nie aan een of ander gemaakte norm van skoonheid te voldoen nie, en dis nie vir hulle nodig om die goed in ’n kontrepsie te verpak van rebar en ’n materiaal wat deur NASA ontwerp is om ruimtevaarder die heelal in te slinger, net om in die openbaar te kan verskyn nie, Hulle kan mans wees en they can just hang. Vrouens kan nooit net hang nie.”

Saam met Nellie, die inskiklike wederhelf van ’n manipulerende mansmens in ’n patriargale stelsel, ervaar die leser haar emosionele stropingsproses – by wyse van ’n miskraam, egskeiding, kinders wat haar huis en land verlaat en verspeelde kanse op ware liefde – totdat ’n histerektomie die metaforiese kantelpunt word wat haar “lossny” van die tradisionele vrouerol as vrugbare voortplanter, gedienstige eggenoot, stoere Calvinis en sosiale slagoffer om haarself opnuut te vind en haar rol in die sameleweing te herdefinieer terwyl sy die slaggate van militante feminisme, moraliserende lekeprediking, en selfopgelegde slagofferskap probeer vermy. Onderweg kan sy haar nuwe vroulikheid meet aan haar “mannehatende, lesbiese vriendin Selma”, ’n skoonma wat grootgemaak is om selfs na haar skoonseun te luister in ruil vir die jaarlikse White Linen op Moedersdag, en ’n Australiese skoondogter wat vierkantig op haar man se kop sit.

Die ginekoloog wat Nellie van haar eertydse vrouwees bevry, se ontvangsdame, Gaia, tree op as begeleier op Nellie se reis na selfontdekking. Gou besef die leser sy is inderwaarheid die oermoeder Gaia, die dogter van Chaos, uit die Griekse mitologie wie se seun, Kronos (Tyd), sy wrede vader, Uranos (die hemelruim) ontman en die testikels in die see gegooi het, wat dan die seeskuim veroorsaak het waaruit Afrodite (die Griekse eweknie van die Romeinse Venus) verrys het. Sodoende is Gaia dan die vroedvrou by die mitiese geboorte van die nuwe Nellie.

Elke hoofstuk word voorafgegaan deur ’n verskeidenheid aanhalings wat lesers, volgens sommige resensente, “mag vervreem”. In ’n gesprek met Naomi Meyer (LitNet Skrywersonderhoude, 21 September 2018) verduidelik Kapp dit egter só: “Kantelpunt is Nellie se hipomnemata, met ander woorde die rou materiaal waarmee sy later 'n behoorlike verhandeling oor haar eie stryd gaan skryf. Die aanhalings is daar sodat die leser weet niks wat Nellie ervaar en geen reaksie wat Nellie het, is ongeldig nie. Daar is 'n rede waarom sy voel wat sy voel, dink wat sy dink, en optree soos sy optree. Dit beteken nie sy is altyd reg nie, maar dit beteken haar reaksie is geldig.” Leser kan dus self kies óf en watter aanhalings hul wil lees aldan nie, hoewel dit tog Nellie se optrede en denkprosesse motiveer.

In dieselfde gesprek erken Kapp dat Kantelpunt uit haar eie woede en frustrasie met “mense se behoefte om ander minder te maak, kleiner te maak sodat hulle in beheer kan bly” spruit. Net so sal menige vrouelesers hul eie frustrasies en woede in Nellie s’n herken wanneer sy telkens moet terugstaan vir die eise van haar manlike onderwyskollegas en skoolhoof wanneer die gebruik van skoolvoertuie ter sprake kom en sy moet besluit of sy kan bekostig om griewe-prosedures aan te pak. Of haar doodse leegheid wanneer sy besef  Hendrik, haar man, “hou gewoon nie van haar nie. Dit wat sy geword het, dit wat sy is, is vir hom afstootlik.” En “saam met dié besef voel sy dit. Laag in haar buk, presies daar waar haar baarmoeder gesit het: ’n Niksheid.” En uiteindelik haar vrees om weer in ’n verhouding wat indruis teen alle tradisionele konvensies, betrokke te raak – totdat die wyse Gaia haar verseker:

 “Jy was nie verkeerd om te gee nie, Nellie. Jy was nie verkeerd om van jouself te gee nie. Jy was nie verkeerd om die koffie te maak nie. Jy het net die koffie vir die verkeerde mens gegee.”

Kantelpunt is nie net prikkelende leesstof vir die denkende vrou nie; dit is ook die ideale geskenk vir elke man wat tot nou toe gedink het dat hy reeds alles het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top