In Gerrit Komrij se Verzonken boeken kom ek af of ’n blink samevatting: “De reis gaat verder, maar in de geest is de thuisreis al begonnen. Er wonen twee reizigers in de reiziger: de een gaat heen, de ander terug.” Diegene onder ons wat al met kanker moes afreken, sal weet dat die reis steeds voortgaan, heen en terug, onophoudelik, met altyd die moontlikheid dat die tuiskoms die einde van die lewenspad mag wees.
Dit is ’n eensame reis. Elke mens hanteer dit op sy eie manier. Baie kankerlyers verkondig dit nooit van die dakke af nie. Die vreugde van remissie gee egter soms ook aanleiding tot ’n begeerte om jou insigte te deel. Om dit in ’n boek op te teken.
Uit ondervinding weet ek dat sulke boeke selde die besieling bring wat die outeurs meen dit sal doen. Uit my leeswerk kan ek slegs werke deur Oliver Sacks aanbeveel – spesifiek The mind’s eye en Musicophilia – wat naastenby aansluit by Frances le Roux se Son en suurlemoene, wat met soveel subtiliteit deur Neil Cochrane vir Netwerk24 geresenseer is.
Cochrane doen doktorale navorsing oor siektenarratiewe in Afrikaanse prosa. Sy bespreking van Son en suurlemoene is die eerste groot resensie van 2023 – nie in omvang nie, maar oor die manier waarop hy ’n negatiewe reaksie oordra.
Dit wil nogal gedoen wees, besef mens as jy sien hoe vriendelik Netwerk24 se span was toe hulle ’n opskrif vir die resensie uitgedink het: “’n Unieke bydrae tot siekte-narratief in SA”.
“Uniek” impliseer dat die boek se bydrae enig in sy soort is. As ek Cochrane se resensie in sy geheel beskou, wonder ek of hy dit in ’n positiewe lig bedoel het. Eweneens kan mens “bied ’n insiggewende blik op die borskankerervaring” lees as sou dit dui op die soort insig wat net in hierdie spesifieke borskankerrelaas te vinde is.
Ek neig tot hierdie interpretasie omdat Neil Cochrane ’n paar verdoemende opmerkings oor die boek maak.
Sy aanloop – die kontekstualisering, die beskrywing van Frances le Roux se invalshoek – is só keurig dat ’n mens dit moet herlees om by die kern van sy saak uit te kom:
Aan die positiewe kant:
- Le Roux se getuigskrifpatografie is ’n mengsel van persoonlike indrukke en praktiese inligting.
- Dit sal mense wat chemoterapie ontvang, kan help.
- As fisioterapeut met spesialiskennis van die gebruik van musiek by pynverligting open sy nuwe moontlikhede wat die leser kan ondersoek.
- Le Roux skram nie weg van aaklige besonderhede nie.
- “Die verband tussen musiek en heling is ’n pluspunt.”.
Aan die negatiewe kant:
- Mense wat kanker suksesvol beveg het, is nie noodwendig goeie skrywers nie.
- Die stilistiese aanslag van die boek is laakbaar en die redigering laks.
- Die toon van Le Roux se diskoers, soms neerbuigend, ander kere ligsinnig, is dikwels nie aanvaarbaar nie; die aanslag herinner hom aan dié van ’n onderwyser.
- Cochrane waarsku teen ongenuanseerde stellings en statistieke omdat dit pasiënte onder valse indrukke kan bring.
- Haar verwringing van statistieke oor oorlewingskoerse wek by hom agterdog oor die rol van klassieke musiek in pynverligting – haar benadering is eensydig sonder ’n aanduiding van beperkings of krediet aan ander benaderings.
In sy slot beveel Cochrane ’n viertal boeke aan vir lesers wat op soek is na kritiese perspektiewe, ryker leeservarings en literêre gehalte. Dit is die mooiste moontlike manier waarop hy kon sê dat hy agting het vir Frances le Roux se poging, maar dat daar baie beter boeke as hare is.
Ek kan nie tong-in-die-kies oor hierdie resensie skryf nie. Té naby aan die huis.

