"Kanaan du Plessis" deur Jaco du Plessis

  • 0

Kanaan

Yster slyp yster
Diamante vorm die res
Vriende is net stukke glas
Wat gesny word in die proses
Jou woorde skryf swart stories
Wat Die Bybel na ’n kinderboek laat lyk
Blou kringe om my oë herinner
Ek het dalk net so bietjie seer gekry
My gedagtes het ek opgesluit
In my brein se dode-sel
My siel dans op die grens rond
Van die hemel en die hel

Volgende jaar in Kanaan
Ontmoet ons dalk mense wat ons minder verveel
Volgende jaar in Kanaan
Kan ons dit staak om mekaar te deel
Volgende jaar in Kanaan ...
Volgende jaar in Kanaan
Daar kan
Ons mekaar uiteindelik laat aangaan

Van eeue en sekondes af
Glo mens in genade van daar bo
Maar eers toe ek jou asem voel
Kon ek in melk en heuning glo
Uit die sprokies van ons kinderdae
Het ons so baie geleer
Hoe om te lewe en te eet
Op te staan en weer probeer
Maar deur die tye wat verby is
Het tyd ook net versnel
en nou dans my siel rond op die grense
Van die hemel en die hel

Volgende jaar in Kanaan
Ontmoet ons dalk mense wat ons minder verveel
Volgende jaar in Kanaan
Kan ons dit staak om mekaar te deel
Volgende jaar in Kanaan ...
Volgende jaar in Kanaan
Daar kan
Ons mekaar uiteindelik net laat gaan

Maar daar was winters en woestyne
Waaroor ons nog moes swem
En winde wat dwarsdeur jou waai
Skerper as ’n lem
Ek’t anderkant in Kanaan alleen uitgespoel
Alleen was melk dik en heuning het bitter geproe
Daar is so baie hier
So baie wat ek jou wil vertel
My siel is in die hemel
My hart soek jou in die hel

Nog ’n jaar in Kanaan
Het ek my tog dood verveel
Nog ’n jaar in Kanaan
Kon ek jou nie eers meer deel
Nog ’n jaar in Kanaan ...
O, nog ’n jaar in Kanaan
Hier gaan
Ek alleen saam met die tyd verby gaan
Aangaan
Jou weer moet gaan soek by die sekelmaan

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top