Kan mens letterkunde uit 'n klip tap?

  • 0

Blood flows from my eyes, my nostrils, and my mouth. Do not abandon me. Defend my cause. Georges Limbour, 1924

Het komt voor dat ik mij mijn nachtelijke dromen herinner. Ik herinner ze mij met grote vreugde. Het is als een overwinning voor mij, wanneer het mij lukt mijn droomwereld terug te halen. René Magritte

Grote genugtig! Los die klein genugtiggies en vergeet van hulle. Maar die grote noop my tot ‘n reaksie (‘n kritiese kuggie) op iets wat u resensent vir die heel laaste paragraaf van haar artikel gebêre het (die agterkant is ook mos ‘n deur). Alhoewel ek nie die boek gelees het nie, en derhalwe nie iets oor die meriete van die resensie kan kwytraak nie, het ek duidelikheid oor ‘n aspek nodig. Helize van Vuuren los ‘n gewigtige klip in die bos, tensy ons hier met ‘n onkarakteristieke ligsinnige gebaar te doen het. Ek haal die slotparagraaf van haar resensie van Attwell en Attridge (reds) se The Cambridge History of South African Literature aan: “One hiatus might be the ‘narrative’ of rock art, also called ‘the dream writing on the rocks’ (Johan van Wyk, Alternation 1, 1992) and suggested by Van Coller in the present volume as ‘part of South African literature’ (2012:263).”

Dít is dan die belangrike aap wat uitspring: die (teleologies verwagte?) subsumpsie (hetsy diskreet, hetsy slobberend) van Boesmanrotskuns onder Suid-Afrikaanse letterkunde volgens die siening van twee van die kanoniseerders van hierdie letterkunde, nl Van Coller en Van Vuuren. Dit laat my wonder of daar ‘n presedent iewers bestaan vir die inkorporering van pikturale kuns uit die preskrif-verlede by enige hedendaagse kultuurgroepering se letterkunde. Mens kan hier dink aan bekende rotskunswerke soos by Lascaux of Altamira of die geogliewe in Peru. Sal die Franse Akademie dit oorweeg om rotskuns op Franse bodem as letterkunde te herdefinieer? Sal Van Coller ‘n nuwe hoofstuk tot Perspektief en profiel oor Suid-Afrika se prentjiesberge inisieer? Sal dit polities korrek wees? Soos “regstellende aksie”?

Die “dream writing” waarna Van Vuuren verwys, bestaan inderwaarheid uit verfbeelde en gravures op klip – nie die soort skepping wat as skryfwerk of literatuur kan deurgaan nie. Die Boesmanwerke is nie pikto- of ideografiese artefakte nie. Daar is nie ’n kode volgens Jakobson se definisie wat ons kan dekodeer om by die sin van die gewaande narratief uit te kom nie. André Breton en die twintig ondertekenaars van die Tweede Manifes van Surrealisme (1930) het hul wel met “dream writing” opgehou. En iemand soos Magritte met “dream painting”.

Die moontlike leemte wat Van Vuuren vermoedelik opgemerk het in The Cambridge History of South African Literature bly iets enigmaties, soos literatuur uit ‘n klip.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top