Kalkbaai

  • 0

By Kalkbaai
hengel vroegoggend ek en my vrou
vanaf die hawemuur

Sy aan sy staan ons, kyk die stuwing
— wit flardes in groen — voluit
in die breek

Kaats dan gestringde sinker en aas
sekuur na waar die son bo die waterlyn
nog net ’n gedagte is

Nou is dit wag se beurt
— vinger op die lyn — die tyd veranker
met die sleurslag van branders
teen rots
terwyl die son minder terloops word
en die visserskuite in die hawe
agter ons
ingepakte sardiens

Dan die pluk en kap, die inkatrol
maar nee, weer probeer, en weer
daglank
tot uiteindelik deur die water
’n blinklyf naderkriewel, die uitlig
die skepnet
die oopbuig van die hoek
dan weer, die loslaat van ure
om vry te gaan

as flardes wit in groen
terwyl ons op die muur bly staan
— ek en jy —

met ’n wye see voor ons
en ’n nog wyer hawe
alomheen

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top