Kaalvoet deur die Waterberg

  • 2

The past is a foreign country – L.P. Hartley

Dit was ’n kaalvoettyd. ’n Tyd van dorings en van slange, die nagadder wat sku in die gras langs ’n plaasdam wag en ’n vuurkooltjie aan my enkel pik dat ek ’n gil gee wat veel erger is as wat my broer ooit uit my kon boelie. ’n Tyd van skurwe hakskene en van modder wat in die tamatielande se nat leivore tussen die tone deurkrul.

Vandag beteken die Waterberg wildplase, safari’s en toeriste. Destyds was dit die hemel. Waar die Dwarsrivier as ’n helder stroompie in die kloof begin, het ons met kaal voete en dikwels kaal lywe grootgeword. Daar was waterhondjies en klein vissies, paddavisse en erdwurms, miswurms en vlinders. Ek klim teen ’n rots op en word toegetakel deur ’n nes rooi perdebye. ’n By reis saam in die pas geoeste heuningkoek en piets my broer op sy hand. ’n Hond keer ’n slang weg en loop vir altyd mank.

Ons pluk stamvrugte en suurpruime en mispels en wilde perskes. Vrank moepels moet mens in kookwater laat lê anders trek dit jou mond op ’n knop. Smerige swartpers poerabessies smaak soos stinkgogga. Groot veldsampioene in botter gebraai is koningskos, ook geelvinke of tiptolle wat ons met mieliepap in ’n wip vang. Ons pluk ook proteas, suikerbosblomme wat soos fluweel ruik en sag soos ’n perd se neus voel.

Ver op in die kloof, tussen stamvrug, rotsvy en papierbas, trap ’n hond in ’n slagyster wat iemand vir die luiperd gestel het. Op die plaas se hoogste punt, so hoog soos Johannesburg, is ’n radiotoring van waar mens ver oor die berge en plase kan sien – Donkerkloof, Weltevrede, Slagtkraal, Vrijmansrust. In die grasvelde dans soms bloukraanvoëls met ’n krakende geroep. Saans is dit die jakkalse wat sing.

In Laerskool Elandsbosch is daar ’n stuk of dertig kinders, drie klaskamers vol, klein genoeg om één rugbyspan en één korfbalspan vol te maak. Ons speel teen Vaalwater, Alma, Melkrivier, Bulgerivier, op stowwerige bane en vaal rugbyvelde. Halftyd eet ons skywe soet lemoen.

Dertig kilometer wes lê Vaalwater. Dorp. Dit is waarheen ons gaan vir meel en suiker, koffie en toiletpapier. Die tannie by die Spar se naam is Gladys. Sy het ’n persgrys perm en waarsku ons teen Chappies kou. Soms is die eienaar self daar, ’n oud-Rhodesiër en kampioenvisserman. Teen die mure hang daar visvangtrofeë en hengelgerei.

Een van die hoofredes vir ’n besoek aan die dorp is die koöperasie of NTK. In die groot skure ruik dit na kunsmis, teerpale en voer. Ons speel op die gestapelde sakke tot ons bene en arms vuil is van die stof en meel. In ’n oomblik van opgewondenheid struikel my broer oor ’n stapel sinkplate en sny sy knie oop. Die dokter is uithuisig en hy moet die litteken van Pa se beesnaald en vislyn dra.

Vir mindere kwale is daar jamaikagemmer, Milk of Magnesia en Horse Embrocation. Ernstiger gevalle het ’n dokter nodig – bilharzia, waterpokkies, beenfrakture. Meer as een maal word ons in die nag opgeklop deur benoude plaaswerkers, want “die kind wil nie kom nie”.

Saterdag is tennisdag. Die bane is tussen spoorweghuise by die stasie. Terwyl ons ouers agter die balle aan hardloop, speel ons in die lang gras tot ons jeuk, maak oorbelle van sekelbospeule of loop versigtig oor die spoorlyn kafee toe. Met ’n week se sakgeld kan mens ’n Crunchie koop of ’n hand vol Wilson-toffies. Ná tennis versit ons na die Vaalwater-hotel vir ’n lafenissie. Op die televisie in die portaal kyk ons Wieliewalie, Haas Das of Buck Rogers terwyl die ysmasjien rinkel en daar soms ’n geroep van die snoekerspelers in die kroeg opklink. Later jare sal Ricky agter die dameskroeg se toonbank hom blind hou vir die feit dat ons nog ’n aantal jare kort is van agtien en ons toelaat om deugdelik saam met die ouer garde te sit en teug aan ons limonade of Coke.
Voordat ons die terugtog aanpak, koop ons slaptjips en Russians by Gabriel se kafee. Die reuk van sout en asyn vul die hele knus ruimte van die motor. Soms ry ons op die grondpad ’n haas dood wat deur die motor se ligte verblind is. My ma maak manjifieke haaspastei.

Dit kan droog wees in die Waterberg, met die vaal veld oorbewei en die beeste vel en been. Sekelbos en kakiebos gedy. Dan preek die dominee Sondae oor Job of Josef en die boere bid vir reën. Maar dit kan ook nat wees en dan is die berge regtig vol water. Dit stoot uit die grond se porieë soos soet sweet en blink van ver af teen die berge. Fonteine ontspring en damme loop vol. Die veld word geil. Oornag word die rantjies ’n tuin van lila bobbejaanstertblomme. Hoog teen die oewers van riviere hang opdrifsels as latere getuies van oorvloed. Wanneer ’n vloed die laagwaterbruggie op die grondpad skool toe versper, bly ons gretig tuis.

Dan trek ons en “tuis” word Melkrivier, verder noord en wes, min of meer ’n dagreis te perd van Vaalwater aan die suidekant en Marken in die noorde. Die Dwarsrivier het intussen sigself in die Palala gestort en nou is dit ons nuwe water. Ons durf dit aan met opgepompte trekkerbinnebande waarmee ons stroomaf dryf. By die dieper kuile dink ek aan Mabalêl van Eugène Marais en hou alle drywende dinge dop. Een nag verdwyn ’n hond spoorloos.

Melkrivier is wel ’n rivier, maar die Palala is groter en sluk dit ook in. Uiteindelik vloei alles Limpopo toe. Vir ons is Melkrivier ’n algemene handelaar, ’n slaghuis en twee hand-petrolpompe. Ons pos kom hierheen en elke drie maande die biblioteekbus. Hoe salig ruik ’n bus vol boeke waaruit ons stapels vir die depot kan kies.

Melkrivier is ook ’n skool, dié keer effens groter, met ’n koshuis waar verlate stadskinders hele semesters deurbring. ’n Keer of wat ry ons te perd die vyf kilometer skool toe. Die perde wei in die skoolhoof se tuin tot sluittyd. Soms weer is ons dapper genoeg om oor die sandpaaie fiets te trap. Skoene dra is net Maandagoggende met saalopening verpligtend. In die somer is die wilde seringbome op die speelgronde oortrek met mopaniewurms, wat in botter gebraai ’n aardige versnapering is.

Hier en daar begin daar wildheinings verrys. Koedoes seil nog onversteurd bo-oor, horings platgetrek teen die rug, en vlakvarke grawe onderdeur. Duikers en steenbokkies glip ligvoets deur die veld. Op pad terug van ’n skoolfunksie glans ’n luiperd een oneindige oomblik in die motorligte en ons snak na asem. Vir ’n onvergeetlike halfjaar maak ons ’n elandkalf hans groot.

Verder noord en wes kronkel die Palalarivier. Een droë Desember volg ons dit drie en ’n half dae te voet van die oorsprong op Weltevrede tot naby Marken. Met ’n kortpad sny ons ’n kinkel uit en toe ons die rivier weer tref, is daar net staande poele. So gaan dit in die Waterberg. Vir oulaas probeer ons ’n vis vang. In konglomeraatrotse is die spoelklippe van lank gelede se riviere versteen. Onder die brug van ’n voet is dit gladde korrels van ’n ver onthou.

Vandag betree jy die Waterberg met vierwielvoertuie en stapskoene, maar destyds was dit anders. Destyds was ’n kaalvoettyd.

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    johanna fourie

    Wat 'n heeeerlike onthou! Vir my is die onthou Springbokvlakte-wêreld. 'n Wêreld so gelyk en plat, dat die water indien dit reën, nie weet watter kant toe om te loop nie - as jy op die watertenk-stellasie klouter, kan jy die horison met 'n liniaal-streep reg rondom jou trek.

    Nylstroom was ons naaste groot dorp. Holme Park net 'n paar myl van ons af het as poskantoor en depot gedien, vir die boere se room-kanne wat wag vir die spoorwegbus. En natuurlik rakke en rakke vol van alles en nogwat, van suigstokkies tot rolle roksmateriaal, ongebleikte linne, selfs Chamberlain's se hoesmiddel. Die posmeester-en-winkelier was 'n meneer Neser en sy seuntjie Markie Neser. Meneer Neser het die langste en kromste neus denkbaar gehad. Hy kon 'n pennie tussen die punt van sy neus en sy ken vasknyp!

    Atletiektyd was ons die kleinste skool: Lisbon Laerskool.  'n Tweemanskooltjie met my Pa, Meester Spies as die hoof. Ons het teen Tuinplaas, Cressie en Settlers gehardloop. Al was ons die kleinste, ons was die mees gedetermineerdse en het gladnie sleg gevaar nie!

    Op ons stoep was altyd sakke vol perskes, kratte vol eiers wat my ma moes kook om pouses uitgedeel te word. En appels in pers papier toegedraai, wat gladgevryf word en op stapeltjies in die 'longdrop' neergesit word. Ai, soveel onthou wat kan aangaan en aangaan en aangaan...

    Ons adres, wat lankal nie meer bestaan nie, is steeds die trots van my lewe: Mnr J.J, Spies, Pk Holme Park, Oor Nylstroom. 
     
    Dankie vir die onthou, Ilse van Staden, groetnis vanaf Johanna Fourie, destyds Sussie Spies ...

     
  • Avatar
    de Wet Steenkamp

    Wow. Dink ver terug. Wonderlike kinderjare gehad. Ons plaas was naby Rankins Pass en was op Alma op skool. Ek was paar jaar terug saam met my ouboet Kampie by hul Geloftefees.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top