Die datum 12 September behoort na dese permanent in vetgedrukte letters in ons geheues opgeteken te wees.
Eerstens is dit die dag waarop een van ons land se belowendste leiers, Steve Biko, in aanhouding gesterf het.
Suid-Afrika sal altyd wonder: “Wat as …?”. Wat as Biko die president van die land geword het? Wat as diegene wat ’n onreg teenoor Biko en die mensdom gepleeg het, hul fout kon regstel? Wat as Chris Hani nie vermoor is nie? Wat as Basil D’Oliviera wel vir sy geboorteland kon gespeel het en nie uit pure frustrasie vir Engeland gaan speel het nie? Wat as Adam Small die Hertzogprys geweier het?
Tweedens – en dis ook die doel van hierdie rubriek – sal 12 September onthou word as die dag waarop die Hertzogprys aan Adam Small toegeken is. Want anders as met Steve Biko en Chris Hani, was hier ’n geleentheid om die onreg van die verlede reg te stel.
Vir die oningeligtes, net weer ’n paar minder bekende feite: Adam Small is – soos die uwe – op Wellington gebore. Die huis waarin hy en sy ouers gewoon het, Terracestraat 23, staan net agter die Wellingtonse NG Sendingkerk op die hoek van Pentzstraat.
Sy familie aan vaderskant is Christelik-Gereformeerd en dié aan moederskant is Islamities. Dié invloede prent by hom vroeg reeds kulturele en godsdienstige verdraagsaamheid in. (Hierdie lewenswyse is aan my bekend omdat my moeder se grootmaakma, Auntie Rasool, die suster was van Adam se moeder. Ook sy was getroud met ’n Christenman, Boeta Japie Adams, ook ’n skoolhoof.)
Small het sy vormingsjare op die plaas Goree buite Robertson deurgebring, waar sy pa skoolhoof, gemeenskapsleier en lekeprediker vir die plaaswerkers was. Sy vroegste herinneringe aan hierdie gebied is die eenvoud en die armoede van die mense.
Sy vader word later skoolhoof in Retreat op die Kaapse Vlakte. Dit is hier waar Small die eerste keer kennis maak met Kaaps, die spreektaal van werkersklasmense wat hy so treffend in sy werk aanwend.
Na matriek skryf hy by die Universiteit van Kaapstad in vir ’n graad in tale en filosofie. In 1963 verwerf hy sy MA (cum laude) met ’n skripsie oor die filosofie van Friedrich Nietzsche. In hierdie tyd studeer hy ook aan die Universiteite van Londen en Oxford, onder andere onder die wêreldbekende wetenskapsfilosoof Karl Popper.
In 1959 word Small dosent in filosofie aan die Universiteit van Fort Hare, en in 1960 word hy een van die akademiese grondleggers van die Universiteit van Wes-Kaapland toe hy as die eerste hoof van die Departement Filosofie aangestel word.
Hy publiseer etlikke digbundels en dramas en ’n hoorbeeld in Engels, maar raak veral bekend vir die drama Kanna hy kô hystoe, wat JC Kannemeyer saam met werke van die voorste dramaturge in die wêreld vermeld het. Maar ’n groot onreg word Small aangedoen, want anders as wat algemeen verwag is, ontvang hy nie in 1965 die Hertzogprys vir Kanna nie.
In die vroeë sewentigs raak Small betrokke by die Swartbewussynsbeweging en word daar nog ’n onreg teenoor hom gepleeg deurdat hy gedwing word om as een van die intellektuele en segspersone van hierdie beweging by die UWK te bedank. Die rede? Omdat hy met die studente simpatiseer.
Die onreg teenoor Small hou egter nie hier op nie. Wanneer Kanna later deur Truk in Pretoria opgevoer word met wit spelers – want bruin spelers is verbode in die Staatsteater – word Small verplig om aansoek te doen om ’n permit om na sy eie werk te gaan kyk! Ek sou nog baie ander voorbeelde kon aanhaal, maar my ruimte is beperk.
Small sou dus so maklik sy rug op Afrikaans kon gedraai en in Engels kon gewerk en gepubliseer het (hy was besonder begaafd in beide tale, soos sy studie aan Ikeys en Oxford getuig), maar hy doen dit nie. Toe die Hertzogprys nou die aand aan hom oorhandig is, sê hy in sy dankwoord, wat sy vrou Rosalie voorgelees het: “Watter sin sou so ’n kleinserige gebaar tog maak? Paradoksaal het ek begrip daarvoor dat die prys nie voor nóú aan my toegeken kon word nie – alles was voorheen deurdrenk van apartheid …”
In dieselfde asem sê hy aan die jong digter Pieter Odendaal, na aanleiding van laasgenoemde se roerende gedig waarin hy Small vra om te aanvaar dat sy pa wat indertyd in die sogenaamde grensoorlog betrokke was, ’n goeie man is. Hieroor sê Small: “Pieter Odendaal, glo my, ek het begrip daarvoor dat goeie mense ingesuig is deur die siekte van apartheid. Ek verstaan.”
Ek wil vandag voorspel dat hierdie gedig van die jong Pieter, en Small se begrip daarvoor, in die toekoms as maatstaf vir versoening gebruik gaan word. Small het nie net Odendaal se pa vergewe nie; hy het ook vir alle ander soortgelyke pa’s ongekwalifiseerde vergifnis aangebied.
Toe Pieter Odendaal op Saterdag 15 September hierdie gedig in die Breytenbach Sentrum voorlees tydens die bekendstelling van die digbundel en CD Vi’ Adam Small, kon ek nie help nie om te sien hoedat ’n paar groot Afrikanermanne ’n traan wegpik. Dit is oomblikke soos dié wat my moed gee vir die toekoms, wat my motiveer om aan te gaan met my werk by die Afrikaanse Taalraad. Want as Small en Mandela en Neville Alexander kan vergewe, wie is die kleinlikes wat so kleinserig is dat hulle nie kan vergewe nie?
In hierdie opsig moet ek ’n lansie breek vir Jacques van der Elst en vir Wannie Carstens, die nuwe voorsitter van die Akademie, wat, weet ek, baie hard gewerk het agter die skerms om hierdie wonder-oomblik vir ons almal waar te maak. Dat ek kon deel hê aan hierdie historiese besluit, en veral deel kon wees van die historiese aand in Stellenbosch, is iets wat ek vir die res van my lewe met my sal saamdra.
Maar die belangrikste les uit die Hertzog-Small-insident is dat Suid-Afrika steeds onreg pleeg teenoor sy burgers, soms sonder dat ons dit besef, en soos in die geval van Biko en Hani, selde of ooit die geleentheid kry om daardie foute reg te maak. Small se Hertzogprys, al kom dit, in sy woorde, “tong in die kies, maar tog – feitlik op (my) sterfbed”, was dus genade.
Maar genade gaan nie altyd ons bas red nie. Suid-Afrika en sy leiers sal baie harder moet werk om te verseker dat sulke foute nóóit weer voorkom nie. Die gevolge mag dalk net te veel wees vir hierdie jong en onervare demokrasie om te hanteer.
Ten slotte: Die Hertzogprys, eens so verdelend, het gesorg vir een van die groot versoeningsoomblikke van ons land. Volgens Small is die samevoeging van die name Hertzog en Small simbolies van versoening. Politieke versoening, sê hy, is belangrik, maar intellektuele versoening – wat slegs deur die filosofie en die kuns gedra kan word - is diepsinniger en die grond van alles. En, verseker Small ons, die toekoms van Afrikaans het lank laas so mooi geblink as nou. Laat ons dus opvrolik.
In daardie ewige woorde van Small: Kô lat ons sing! Vir Small en vir Afrikaans!
Michael le Cordeur is dosent in Afrikaansonderwys aan die Universiteit Stellenbosch en voorsitter van die ATR.