Kô laat ons saamsing

  • 0

In 2011 het die Kanadese filmmaker Jason Bourque ‘n film gemaak oor die rol van musiek in die lewe van Mandela as wapen teen apartheid aan die een kant en as instrument om ‘n gemeenskap te verenig aan die ander kant. Die film het hierdie jaar by internasionale filmfeeste begin draai en het die “audience choice award” gewen by die Amnestie Internasionale Filmfees 2013 in Vancouver. Lees hierdie artikel.

Volgens die film het Mandela se invloed as politieke leier en ikoon vanuit Robbeneiland gegroei onder andere as gevolg van die rol van musiek. Vryheidsliedere wat oraloor in sy naam gesing is, het hom as hierdie ikoon in die publieke geheue gevestig. Ook het Mandela musiek gebruik in die tronk om sy medegevangenes te inspireer en aan te moedig om nie moed te verloor nie. Blykbaar het hy en sy trawante jaarlikse Kerskonserte op Robbeneiland opgevoer. Ook is dit veelbetekend om hierdie gebruik van musiek te plaas binne die konteks van die kulturele verbod op musiek en beelde tydens die apartheidsjare. So het die volgende lied van The Special AKA “Free Nelson Mandela” in 1984 mense regoor die wêreld bewus gemaak van Mandela se gevangenskap en sy vryheidsmissie. Natuurlik was dit, soos soveel ander films, beelde, liedere en boeke, in Suid-Afrika verban. Soos enige ander lied, foto of beeld van Mandela of waarin hy genoem word, is hierdie lied in die geheim in Suid-Afrika versprei.

 

Dit is geen geheim dat Mandela die rol van musiek in sy persoonlike en politieke lewe besonder hoog geag het nie. So het hy eens gesê: "Music is a great blessing. It has the power to elevate and liberate us. It sets people free to dream. It can unite us to sing with one voice. Such is the value of music." Johnny Clegg het in die negentigerjare  sy lied “Asimbonanga” vir Mandela geskryf. Toe hy in 1997 die lied saam met sy orkes in Frankfurt opgevoer het, het Mandela dansend en laggend op die verhoog gestap, en toe die mikrofoon aan hom oorhandig is, gesê dat musiek en dans hom vrede gee met die wêreld en ook vrede met homself.

Daarom is dit besonder van pas om met die dood van Mandela te sing en musiek te gebruik – hetsy ‘n treursang, ‘n lied van vreugde of ‘n lofsang te skryf of te sing.

Een van die mees standhoudende vorme van poësie in die menslike geskiedenis is die treursang, lyksang, weeklag of klaagsang. So eindig die Iliad van Homeros byvoorbeeld met ‘n lamentasie, ‘n treursang deur drie verskillende vroue – Hekuba, Andromache en Helen wat al drie in die publiek oor die dood van die Trojaanse prins Hektor treur en om die beurt probeer om die gemeenskap te inspireer om saam met hulle op singende wyse te rou. In vele orale tradisies is die spontane weeklag van dreunsangers tradisioneel deur vroue opgevoer. So beweer Siobhan McElduff (2012 in die artikel “The right to mourn”) dat die weeklag ‘n vroulike vorm van sosiale protes kan aanneem – ‘n metode waarmee vroue van ‘n tydelike posisie van gesag sosiale kritiek kan uitspreek. Dit het in die Griekse oudheid met sy ongelyke  vroueregte gewys dat vroue nie passief hoef te wees nie – hulle kan juis kragtig wees en ‘n sterk emosionele invloed uitoefen deur hierdie vernuftige gebruik van poësie.

 

Ek is hierdie week besonder getref deur ‘n gedig van Antjie Krog, “Rougesang by die dood van Mandela” wat in Saterdag 7 Desember se Beeld afgedruk is:

“ondergronds het ‘n rif geskuif
die aarde struikel
verward swik die son

toe sy asem hom verlaat het in die nag
het die sterre geduisel
want alles is verstrengel
wurgend aan sy dood
sy dood en die dood alleen

ineens is alles droef
asof ons in ‘n groot skadu staan
asof glas deur ons breek
asof klip in ons splinter
asof ons gedagtes in fluisterende wanhopige groepe rondvlug
soos assegaaie in die grond bly vassteek

trillend

in Qunu weier die beeste vanoggend om uit die kraal te gaan
by Lusikisiki lê die visse na aan die oppervlakte
in Mvezo maak die korhane geen geluid nie [...]”

(Lees die res van die gedig hier)

Selfs die aarde struikel, die son swik, die sterre duisel, ons gedagtes is verward en alle diere van die plekke waar Mandela sy jeug deurgebring het, swyg. Hoewel sy dood natuurlik is, is dit asof die hele natuur daarteen rebelleer en dit as iets teennatuurliks sien. Dit is vir my ‘n treursang wat effektief is, omdat dit voldoen aan wat McElduff beweer ‘n goeie treursang is: “An effective lament is one which manages through ambiguity to touch on as many different issues and operate on as many levels as possible.” Nie net Mandela se familie, vriende, kennisse en mede-ANC-lede voel pyn by sy afsterwe nie, maar ons almal – mans, vroue, wit en swart, Suid-Afrikaners, buitelanders, selfs die diere, die natuur, die son en die sterre. Daarom is dit ‘n lykgedig wat op universele vlak tot ons elkeen kan spreek en is dit vir my ‘n gepaste vorm van afskeid van ‘n ikoon.

Soos ek hier skryf, staan ek op die hoek van Madiba- en Hamiltonlaan in Pretoria, deel van ‘n skare wat sedert Woensdag 11 Desember daagliks deel maak van ‘n prosessie terwyl sy liggaam na die Uniegebou vervoer word. By die Uniegebou drom daagliks ellelange rye voor die Uniegebou saam om na sy dooie liggaam te kyk. Nogal ‘n surrealistiese idee: om die dooie liggaam van Mandela as ‘n soort waspop in ‘n kis te sien. Om my sing vroue ‘n verskeidenheid liedere – treurig, vreugdevol, sommige byna histeries, ander dreunend. Miskien kan die vroue se treursang ook ‘n vorm van sosiale protes aanneem? Miskien kan dit iets spreek van ‘n werklike behoefte aan gelyke kanse – iets waarna Mandela gestreef het, maar waarvan nie veel in die huidige politieke bestel gesien kan word nie? In so ‘n geval veroorsaak musiek nie net vrede met die wêreld en met onsself nie, maar kan die vroue se sang ‘n knaende bewys wees van ‘n emosionele verlange na verandering. Meer nog as Madiba se fisiese dooie liggaam, sal hierdie sang van die week my bybly. Mandela wat die krag van musiek in sy persoonlike lewe en politieke loopbaan om verandering te bewerkstellig erken het, sou saam sing. En daarom moet ons ook sing hierdie Kersfees.

Beste Nuwe skrywers, hierdie is my laaste rubriek vir die jaar. Ek wens elkeen van julle ‘n geseënde en gelukkige Kersfees toe. Neem gerus deel aan ons poësiekompetisie Netdigters 2.0 en lees gerus ons eerste inskrywings vir hierdie kompetisie: "Kuberliefde" van Joan Hambidge, "Digitaal" van Rudi Prinsloo, " 'n Flarf-gedig" van Estelleke en "Verbeelde tuiste" van Jaomi Zeeman. Daar lê 'n paar ander gedigte vir die kompetisie in my inbox. Vroeg in 2014 sal ek elke gedig met groot sorg lees en op ons webblad publiseer. Stuur gerus gedigte oor die vakansie aan rentia@litnet.co.za.

Inspirasie nodig vir die poësiekompetisie? Lees gerus twee van my vorige rubrieke: "Netdigters 2.0 is gevaarlik" en "Die digter rewired : raad van Roggenbuck"

Lees gerus ook my top 15 gedigte van 2013 op LitNet en ook my top 15 kortverhale van 2013 op LitNet. Raad nodig met die skryf van kortverhale - veral met die oog op die sluitingsdatum van die Nuwe Stories 3? Ek het in 'n beskeie videorubriek probeer wat raad gee. Ek vra wel onverskoning vir die spelfout wat daarin voorkom. Die video kan nie oor gemaak word nie.

Mag julle hierdie Kersfees geïnspireer word om julle stemme te laat hoor.

Groete

Rentia

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top