Jy is ...
Jy's my slaptjips in koerant gevou
My cashew-neute wat ek naby hou
Jy's my worsrolletjie met tamatie en uie
Jy bekoor my uit my slegte buie
Jy's my kerrieboontjies met rys en rosyne
My Vicks Vaporub vir my skete en pyne
Jy's my vetkoek, my donut met ’n ring
En jy laat my hart so lekker sing ...
Jy's my Milo op ’n koue nag
En die pannekoek waarna ek smag
Jy's my boontjiesop, my gebraaide snoek
My Chappies-gum van die café op die hoek
Jy's my sherbet en my soet suigstokkie
’n Bloedrooi een is jy my bokkie
Jy's my vyekonfyt op warm brood
My Marula-drankie vir ’n lus so groot
Jy's my shakalaka en poetoepap
My Coke en my kiwivrugtesap
Jy's my biltong en my bottel Carling
Dis hoe ek jou smaak my darling
Jy's my appeltert met wolkwit room
My gemmerbierdrankie onder ’n boom
Jy's my roomys met ’n choc-mint-geur
Net een happie dan soek ek meer
Jy's my Smarties wat ek een-een suig
My wortelkoek wat die knie laat buig
My sjokolade – donker en bitter
My granaat met al die pitte
Jy's my kweper met ’n greintjie sout
My kapokaartappels met ’n groot lamsboud
Soos frikkadelle en pasta is jy
Jy laat my altyd lekker kry
Jy's my groentesop met skenkelbeen
Jy neem my na die hoogstes heen
’n Bunny Chow is jy vir my
Op die Durban-strand – met melk daarby
Ek wil hierdie liedjie vir jou sing
Want jy is en bly ’n lekker ding
Jy's alles wat ek smaak
En meer daarby
Jy is net die een vir my
Jy is ... ja jy is ... jy is, is, is!
![]() |



