Julius – ’n Suid-Afrikaanse sprokie

  • 0

Die mense wat al ’n rukkie lank hul tyd hier op SêNet verwyl sal onthou dat ek Julius Malema al in die verlede ’n nar genoem het. Ek dink nog steeds so, maar op die oomblik voel ek vir hom jammer ook.

Dink bietjie daaroor. Julius word president van ANCYL – ’n jongerige man wat ten beste ’n gemiddelde intellek het en nog boonop al die charisma van ’n besondere stout vyfjarige seuntjie wat aan ’n aandagsteuring ly besit. Dit sou onmoontlik kon gebeur sonder die instemming van daai manne wat in die agterkamers van die ANC lang sigare sit en rook en diep planne beraam. Dit is dieselfde manne wat die ANC genoeg gedestabiliseer het om ontslae te raak van Thabo Mbeki.

Julius word verhef. Hy help Zuma, en die res is geskiedenis. Behalwe ... dit is nie, want Julius, topstudent wat hy is, begin dink dat hy deur sy eie politieke intellek en kommunikasie gawes verhef is. En selfs die geld wat hom toekom vanaf tenders en sy posisie in die ANC is nie genoeg vir hom nie. Hy begin in homself glo. Is dit nie hy, Julius Malema, die arm seuntjie van Lebowa wat Zuma aan bewind gekry het nie? Die ANC en Zuma en die land skuld hom. Die J Walker proe lekker, die sushi en sashimi (met ’n effense Carron's Poivre-nasmakie) ook, maar wat nog beter is, wat hom laat fyndraai in sy nagkabaai, is die gevoel van mag. Julius wat nie eens verkies is tot klaskaptein nie kan skielik gerekende joernaliste uit perskonferensies jaag. En hy het vir Floyd. Skielik kan hy artikuleer, hy kan revolusioneer en almal maar almal neem notisie. En hy het vir Floyd.

Behalwe dis ook nie die hele storie nie. Daai manne in die agterkamer se portefeulje krimp elke keer wat Julius sy mond oopmaak. Mens kan dink dat hulle eers n afgevaardigde stuur, "Julius, kyk, hier’s meer geld, enige posisie wat jy wil hê. Dalk later die presidentskap, maar moenie so hard praat nie. Ons besigheid is geheim. Mense gaan begin vrae vra Julius. Hou jou in Julius, ens, ens."

Maar Julius kan nie. Hy is dan nou ’n groot man, ’n man na wie mense luister. Hulle neem notisie van Julius. Julius bereken, Julius beplan, Julius bespreek. En almal neem notisie van die klein seuntjie uit Lebowa.

Die manne ontmoet, hulle drink tee, hulle drink KWV, hulle rook sigare. Julius is uit. Julius gaan tronk toe. Julius se moer.

En dit is hoekom ek vir hom jammer is.

’n Klein seuntjie wat gemanipuleer is deur omstandighede en gesiglose beramers, die varke in die agterkamers. Geskiedenis herhaal en lag.

Groete,

"koos sas"

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top