Jou woorde eet

  • 0

Praatjie gelewer by die Woordfees 2008: Filosofiekafee (ondersteun deur De Kat)

Skrywers word maklik bestempel as storiespinnners. Asof verbeelding ons enigste werktuig is (en dan moet 'n mens daai woord verbeelding tussen aanhalingstekens sit om te wys dat dit wat ons skryf, in werklikheid net 'n afbeelding, 'n beeltenis, van die werklikheid is). Daar word beweer ons vat die werklikheid en ons interpreteer dit, ons kleur dit in met bywoorde en byvoeglike naamwoorde en ons dis dit op as woordkuns. Kritici gebruik terme soos geloofbaarheid, universele toepasbaarheid, feitelike korrektheid, projeksiepotensiaal, werklikheidsweerspieëling as maatstawwe om ons werk mee te beoordeel. Ai man, dis hoekom skrywers so swaar kry – ons word nog met geloof gemeet, terwyl ons lank reeds weet dat ons die skeppers is van veelvoudige heelalle.

Neem nou maar die idiomatiese uitdrukking Jou woorde eet. 'n Skrywer sal byvoorbeeld binne ’n oogknip iets kan skryf soos:

Dit was vir oom Jan maklik om vir Fransiena te belowe: "Jy sal in die lewe nooit 'n man kry nie. Word eers maer, jou vetgat." Maar dit was nie vir oom Jan maklik toe hy drie maande na Fransiena se troue gedagvaar word vir daardie selfde paar woorde nie. Nog moeiliker was dit toe die regter na 'n uitgerekte hofgeding beveel dat oom Jan binne die volgende vyftien dae elke iedere een van sy vyftien woorde ter publieke aanskoue op groentemarkplein sou eet. Dié soort ding trek groot skares, veral wanneer daar lewendige soortnaamwoorde tussenin is – woorde soos vetgat,wat kan skree wanneer hulle geslag word.

Oom Jan was bitter spyt dat hy nie eerder net gesê het nie: "Jy sal nie man kry nie, vetgat, nie maer nie, nie man nie, nie jy nie.". Want dan kon hy al die verdubbelings op een dag in dieselfde pot gaargemaak het vir eet: Agt nie's, twee 'n's, twee man'e, twee jy's; hy sou kon weggekom het met net sewe dae. Minder as die helfte van die tyd! En die helfte van die kooktyd, want die hof het by implikasie ook beveel dat hy self die energie verskaf waarmee hy die woorde voorberei vir die groot eet. En krag is mos maar duur ...

Of so iets. Dis die dinge waarmee ons ons besig, hou, ons wat fiksie skryf. En dit klink vir baie mense na louter snert. Om jou woorde te eet. Fiksieskrywers word gekategoriseer as dié wat skisofrenies die vermoë verloor om te onderskei tussen die letterlike en die figuurlike. Die waarheid en die werklikheid.

MAAR …
 
Die kritici wat skrywers so graag by die vaste reëls van sogenaamde bestaan wil hou, moet in aanmerking neem dat daar oor die afgelope paar dekades merkwaardige dinge gebeur het met die manier waarop ons almal na dinge behoort te kyk. Dis net dat dit soms vrek lank vat om kennis in die praktyk om te sit.

En jy het dalk nie daarvan gehoor oor die nuus of in die dagblaaie daarvan gelees nie, maar dis dinge wat die manier waarop daar na ons as fiksieskrywers gekyk word, vir ewig verander het.
 
Een daarvan het byvoorbeeld te doen met die fisikus Richard Feynman, wat in sy heyday 'n eksperiment uitgevoer wat huidiglik nog beskou word as een van die heel belangrikste deurbrake in die denke van die twintigste eeu. Hy het klinkklaar bewys dat onder sekere omstandighede verander die kwantumgedrag van subatomiese golfies in die gedrag van subatomiese deeltjies.

Sien? Nou baie los en liberaal vertaal impliseer dit dat daar binne die klank en die hardop lees van die woord vetgat dus die potensiaal skuil vir die werklike bestaan van 'n dikdy vrou wat vol belofte in 'n trourok voor 'n kansel staan.

In die mikrokosmos van die kwantumfisika word woorde sulke tasbare werklikhede dat jy hulle kan eet en alles wat daarmee saamgaan tot niet maak, uitwis asof dit nooit daar was nie.

Die probleem is net om die reëls waarvolgens ons geleer is om te dink, te verbreek. Letterlike word figuurlike en figuurlike word die tasbare werklikheid. Dis nie so moeilik om jou brein daarom te vou nie.

En intussen is die bal lankal aan die rol met kwantumfisici dwarsoor die wêreld wat probeer bewys dat jy die verlede kan verander omdat woorde eetbaar is. Wis dit uit, eet dit op.

Die Londense fisikus David Bohm het by implikasie gepostuleer dat jou woordeskat deel uitmaak van die superhologram wat soos 'n kosmiese spens dien as die matriks wat geboorte gegee het aan alles wat reeds bestaan en alles wat moontlik is om nog verwoord te word. Laat daar lig wees en daar was lig. Daarom moet jy jou woorde tel, anders gaan jy dit moet eet.

Maar dis nie net die fisici wat bewyse vind dat woorde eetbaar is nie. Op die gebied van breinnavorsing is daar Karl Pribram, neurofisioloog. Sy eksperimente bewys dat die menslike brein net 'n vertolkingmeganisme is. Ons breine het die vermoë ontwikkel om  wiskundig kosmiese frekwensies te transformeer in iets wat sintuiglik waarneembaar is.  Lesers weet dit net nie, maar hulle het almal die vermoë om sensoriese persepsies wat hulle uit skrywers se boeke haal, te transformeer tot konkrete persepsies. Eetbare woorde!

Skaars 2 000 jaar gelede was so 'n eetmaal nog 'n algemene ding. In die jare 299 tot 353 vC staan daar in die Torah dat Rava die eerste meester en stigter was van die Babiloniese akademie in Mechuza. Aan hom word die legende toegeskryf dat hy per geleentheid met sy woorde 'n kalf geskep het en dit toe geslag en geëet het. Daar word ook verwys na Jakob se seuns wat diere en vroue met woorde geskep het, en in Genesis in die Bybel rapporteer Dawid dat sy broers die vleis van 'n lewende dier eet. Die ou Jode het na die woorde verwekte diere as lewende diere verwys.

Om saam te vat: Dis dus nie die brein wat verantwoordelik is vir die mens se bewussyn nie, dit is die bewussyn wat die bestaan van die brein as fisies interpreteer.

Binne so 'n holografiese bestel is daar geen beperking op die potensiaal van ons woorde se skeppingskrag nie. Wat ons beleef as die werklikheid, is net 'n skoon bladsy waarop ons enigiets kan skryf wat ons wil. Perskes, pere of appels. En as jy nie hou van wat jou woorde tot stand bring nie, eet hulle op, want skepping en die vernietiging daarvan is ons almal se geboortgereg.
 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top