"Jou terugkoms" deur Annami Simon

  • 0

Jou terugkoms

Jou terugkoms was
in die blou, blou lug;
’n vraagteken
wat kom land het.
’n Rooi angelier,
skielik onnodig,
en bagasie
wat ons terugbring na die aarde.

Jou terugkoms was
duskant Stellenbosch
met die son in ons wyn
en bloed.
My hand in joune
streel en klem
asof ek jou weer moet groet.

Jou terugkoms was
parfuum uit Parys,
foto's,
die akkerboom wat bot.
’n Kers oorbrug uiteindelik
die vreemde
en brand homself uit
in ons.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top