Jou liefde op kladpapier

  • 0

Titel: Kladboek
Outeur: Joan Hambidge
Uitgewer: Protea
Datum: 2008
ISBN: 978 1 86919 1082 8
Prys: R145
Bladsye: 176

Joan Hambidge se Kladboek is in die eerste plek ’n verhaal oor die liefde. Dit handel oor die liefde tussen mense en die liefde vir skryf.

Het ons dus te doen met ’n tradisionele liefdesroman? Wel, nee.

Die “tradisionele” liefdesroman

Het julle al opgelet? Die meeste “liefdesromans” handel oor daardie verliefde tyd vóór die liefde inskop. Eintlik is hulle dus verliefdheidsromans.

Die tradisionele liefdesromans hou op daar waar die twee vir ewig trou sweer aan mekaar. Daar word niks, maar niks, gesê oor die lewe ná die twee se besluit om af te haak nie. Wie kook? Wie was die skottelgoed? Wie doen die inkopies? Wat as die ander een nie lus is vir seks nie? Nee, o hemel, nee! Daardie goed word nie in “liefdesverhale” behandel nie.

Die plot van ’n tradisionele liefdesroman lyk so: ontmoet, vassit, baklei, seks, vassit, blomme, seks, seks, uitmaak, opmaak, seks, ewige-liefde-word-belowe.

In van die ouer romans kan jy dié rympie herhaal en gewoon “amperseks” search en replace vir “seks”.

Maar is dít waaroor die liefde gaan? Is dít waaroor die lewe gaan? Hoekom gaan romans nie oor die liefde ná die opmaaksoen nie?

Moenie ’n fout maak nie, die “ernstige” skrywers (wat dít ook al mag beteken) is maar te dankbaar vir die stringe liefdesromans wat jaarliks gepubliseer word. Nóg NB nóg Lapa sou kan bestaan as die liefdesromans nie die huur betaal nie.

Daar is ook ’n aantal uitstekende romans wat ook, toevallig, liefdesromans is. Een voorbeeld is Irma Joubert se Tussen stasies wat in die eerste plek ’n uitstekende, meesleurende román is, en in die tweede plek ’n baie mooi liefdesverhaal vertel.

En dan is daar goeie romans, soos dié wat telkens uit die pen van Marita van der Vyver verskyn, wat wel bereid is om skaamteloos die verskillende aspekte van die liefde te ondersoek.

Maar, nee, Kladboek pas nie hier in nie.

Die “roman”

Ek glo nie Joan sal kwaad wees as ek sou beweer dat haar Kladboek nie ’n “tradisionele roman” is nie.

In die “tradisionele” roman ontvou die storie stadig voor jou. Jy leer die karakters ken teen ’n kulturele en fisiese agtergrond, jy kyk na die tyd waarin die roman afspeel en uiteindelik kan jy die intrige mooi, soos ’n vrou se bors, skets. Jy kan selfs betrokke raak by die karakters. Jy kan hulle leer liefkry, of haat. Partykeer huil ek as ’n karakter doodgaan, of ek word só geprikkel deur ’n mooi liefdestoneel dat ek ook op aandag kom vir die klimaks.

Daar is selfs voorskrifte verbonde aan die skryf van goeie, sterk karakters. Ons almal ken die ou storie van “ronde” of “plat” karakters, maar dié soort voorskrifte gaan selfs verder terug. Die ou Grieke (wat sou ons letterkunde sonder hulle wees?) het aan voornemende skrywers van die tragedie gesê die held moet genoeg sterkpunte hê sodat die gehoor van hom (dit was meestal ’n hom) kan hou, maar ook genoeg swakpunte sodat die gehoor die uiteindelike val sal aanvaar. Jy moet hartseer wees as die held sterf, anders roer die storie jou nie.


Terug na Kladboek

Kladboek is glad nie ’n tragedie nie, maar dis ook nie ’n tradisionele liefdesroman nie. Dit is wel ’n roman vol tragiese eerlikheid oor iemand se soeke na die ideale liefdesverhaal. Kladboek is dus ’n roman wat handel oor die skryf van ’n geskrif oor die liefde.

Dis ’n mondvol. Dus?

· Kladboek gaan oor skryf.
· Kladboek gaan oor die liefde.
· Kladboek gaan ook oor die liefde vir skryf.

Hier word geskryf oor die séér én die soet van die liefde. Wat meer is, Kladboek gaan oor ’n liefde waarvan die einde (dalk) al in sig is.

Nie alle liefdes is vir ewig nie. Nie alle liefdes is gelyk aan 2,2 kinders en ’n huislening nie. Partykeer maak die liefde seer.

Die spanning in Kladboek gaan dus oor die vraag of hulle weer bymekaar gaan uitkom. Wil hulle? Die leser bly dus omblaai om die einde te sien, die klimaks te beleef ... Tradisioneel, dus? Nee, maar wat behoort die klimaks te wees? Behoort daar hoegenaamd ’n klimaks te wees?

In die Zen word dikwels gesê dat die reis self belangrik is en nie bloot daar is om die eindbestemming te haal nie. In die liefde is daar ook só iets ter sprake. En Kladboek handel oor reise. In Kladboek reis die verteller baie. Sy reis na ander lande en sy reis na binne.

In Kladboek word die leser saamgenooi op die reis. Die leser sien die halfvoltooide roman(s) uitpeul uit die kladboek, soos vuil klere uit ’n tas na ’n lang reis. Die leser word saamgeneem, ingenooi in die hotelkamers van die reisende verteller. Die leser word genooi om oor die skrywende verteller se skouer te loer om te kyk hoe die roman vorder.


’n Reis na binne

Kladboek begin met ’n novelle genaamd Being Joan Hambidge. Nie net die titel nie, maar ook die vele verwysings daarna, skakel hierdie teks, en dus die res van Kladboek, direk aan die film Being John Malkovich.

In die film ontdek ’n marionetmeester, Craig Schwartz (gespeel deur John Cusack), ’n deur (hulle noem dit ’n “portal”) na die brein van John Malkovich. John Malkovich, die ware akteur, speel John Horatio Malkovich in Being John Malkovich.

Op ’n stadium klim John Horatio Malkovich, gespeel deur John Malkovich, in die kop van John Horatio Malkovich. Dan is die hele wêreld vir vyftien minute lank verskillende aspekte van John Horatio Malkovich, almal gespeel deur John Malkovich.

Gaan kyk die film as die vorige paragraaf nie sin maak nie.

Maar kom ons staan vir ’n oomblik stil by dié vraag. Wie is Joan Hambidge? Sy is ’n digter, resensent, skrywer, reisjoernalis, akademikus, kritikus en kusser van ander vroue.

Joan is baie in die nuus. Sy is een van ons landjie se bekendste handelsmerke. In ’n land waar akteurs aan hulle sepiename geken word, is die persona/handelsmerk Joan Hambidge onder haar eie naam bekend.

Joan stook ook gereeld die kwaad, soos wanneer sy inklim onder die bloggers en briefskrywers op LitNet.

Maar wie is Joan Hambidge? Is sy ’n manlike weergawe van Steve Hofmeyr? (Waar kom dié sin vandaan?) Die verteller in Being Joan Hambidge skyn ook probleme te hê om Joan Hambidge te definieer.

Die roman/novelle/kladboekstuk word boonop op ’n draagbare rekenaar geskryf en ander kry toegang tot die manuskrip. Hulle kraak haar kode en begin foeter met die roman. Een van die krakers los die volgende boodskap: “So, my arme ou skrywertjie dink sy skryf ’n koherente roman, maar ek sal sorg dat die leser geen kop of stert kan uitmaak nie en mateloos geïrriteerd raak met die pretensieuse verwysings (wat ek al uit my kop ken)” (p 34).

En dit raak dit nie beter nie, want die res van Kladboek bestaan uit aantekeninge wat Being Joan Hambidge verduidelik / aanvat / in konteks plaas / ondergrawe.


Die leser as voyeur

In Being John Malcovich raak Craig Schwartz en sy vrou albei gelyktydig verlief op Maxine Lund. Maxine begin egter ’n stomende affair met John Horatio Malchovich, deels omdat sy met Lotte wil liefde maak, maar sy is slegs aangetrokke tot Lotte as Lotte met haar liefde maak in die lyf van John Horatio Malkovich. Lotte is mal daaroor om in John te wees tydens die seks, maar eintlik kýk Lotte net na die seks, en ervaar dit dus tweedehands.

Craig Schwartz probeer dan ook, as voyeur, liefde maak met Maxine Lund. Op dié manier kom hy wel tereg tussen daardie sexy bene van Maxine Lund (iets wat hy as Craig nie kon doen nie).

En die kyker? Wel, die kyker, as voyeur, geniet elke oomblik daarvan om ook ’n proeseltjie van Maxine Lund te sien te kry. Heerlik, heerlik!

Net so kan die leser vir Joan Hambidge afloer in Kladboek. En sy (Joan) is bewus daarvan: “Voyeurisme as oerdrif. Die mens as koekeloerder ... Jy weet wat sal kom!” (p 71).

Craig Schwartz, marionetmeester, besef egter dat hy nie passief hoef te wees nie. Hy kan ook vir John Horatio Malkovich manipuleer. Skielik hou hy op om gewoon voyeur te wees; hy begin aktief deelneem aan die seks.

Dink ’n bietjie aan hierdie heerlike ((nie so) fiktiewe) storie op die lamppale:

· LESBIËR IN SOP OOR SEKSDADE (Die Burger)
· KAAPSE SKRYWER IN VERKRAGSAAK (Beeld)
· HAMBIDGE GEVINGER (Volksblad)
· UCT VROU RAPES ANNER VROU (Son)

Lekker, nè? Die koerante sal van die rakke af vlieg.

Kladboek handel ook oor die leser, as voyeur, se obsessie met Joan Hambidge se sekslewe. Die teks vra ook waar die voyeur ophou en waar die leser, as geldstotende marionetmeester van die media, begin om die lewe te manipuleer.

Weer roep Kladboek ’n film op om dié proses te verduidelik: Stanley Kubrick se Eyes wide shut. Kubrick het glo ingebly by die Cruise-Kidman-egpaar, hulle dopgehou en hulle toe, as regisseur, gemanipuleer om ’n lekker seksfilm te maak.

Die media was nog altyd gefassineer deur Cruise en Kidman. Kubrick het die voyeur (ons) in die (fiktiewe) paartjie se binnekamer ingenooi om te sien hoe die (regte) paartjie liefde maak.

Kladboek se verteller skep ’n persona, ’n skrywer (Joan Hambidge), wat die leser nooi om deel te hê aan van die intieme oomblikke tussen haar en Die Vrou, asook tussen haar en die Geliefde. Die verteller is baie bewus van die manipulasie wat plaasvind: “Die Skrywer, soos ek na haar verwys, gebruik en misbruik mense ter wille van ’n storie” (p 35).


Kladpapier

’n Kladboek is ’n notaboek, dikwels gemaak van goedkoop papier. Maar kladpapier had natuurlik ook die belangrike funksie om onnodige ink op te droog nadat iemand met ’n vulpen geskryf het.

Kladpapier is dus ’n geduldige versamelaar van losse woorde wat later netjies oorgeskryf kan word, maar kladpapier is ook ’n spons wat probleme geduldig opslurp.

Die sage rondom ’n klag van seksuele teistering wat by geleentheid teen Hambidge gelê is, het seergemaak. Hieroor word berig in Hambidge se roman Die Judaskus. In Kladboek word geskryf oor die soeke na heling, die soeke na nuwe liefde en die poging om te skryf oor daardie tyd – alles onder die starende oë van die honger publiek. “Ons is mense wie se wasgoed in die openbaar uitgehang word en dan patroniserend getroos word met: ‘Die kuns is nie ’n getuigskrif van die werklikheid nie.’ Se moer” (p 105).

Tog is Kladboek meer as vuil wasgoed. Die teks handel ook oor Joan Hambidge (as skrywende karakter) se obsessie om te skryf oor Joan Hambidge (as karakter) se sekslewe: “En al hoe ek tot klaarheid kom, is om gedigte te skryf en dit op LitNet se PoësieNet te plaas, wat aanleiding gee tot briewe, vrae en selfs ’n openbare debat aan ’n ander universiteit oor die kwessie van die aanwesigheid/afwesigheid van die geliefde” (p 89).

Die verteller maak dit ook duidelik dat haar soekende lewens- en skryfwyse daarmee te doen het dat die Kerk haar in haar twintigerjare die rug gekeer het omdat sy gay is (sien p 81). Hiermee sal vele gays kan assosieer. Die soeke na liefde / ’n geliefde / seks en die gepaardgaande verspilling van bloed/woorde/ink kom dus al van ver af (sien p 99).

In Being John Malkovich sien ons John Horatio Malkovich, as marionet, speel met ’n marionet wat lyk soos John Malkovich. Kladboek is tegelyk ’n uitstalruimte van dit wat nog kan gebeur, en ’n begraafplaas van ink en lewens wat in die verlede verspil is.


Bewustelik fiksie

Kladboek is baie bewustelik ’n stuk fiksie. Ons hoor byvoorbeeld op ’n gegewe oomblik hoe ’n redakteur aanbeveel dat hierdie stuk werk so onafgerond gepubliseer moet word, aangesien Joan Hambidge oorlede is en nie die stuk kan klaarmaak nie (p 166). Soos Franz Schubert se agste simfonie, sal Kladboek dus altyd onklaar wees.

Die outeur is dood. Die voyeur moet nou die verhaal skep.


Kladboek is dus geensins ’n koherente geskrif nie. Dit bestaan uit halfklaar novelles, e-posse, gedigte, resensies, akademiese artikels en reisbeskrywings.

In een van die resensies word Breyten Breytenbach se Woordwerk bespreek, wat ook ’n tipe dagboekroman is. Só tel die leser telkens leidrade op om te probeer verstaan waaroor Kladboek nou eintlik gaan en hoe ons dit moet lees.


Vorige vryers

Natuurlik is hierdie soort geskrif nie nuut nie. Reeds in 1985 publiseer JC Steyn Die verlore vader: Dokumente van die politikus Pieter van den Berg. Dié roman handel oor die wel en wee van ene Pieter van den Berg, maar eintlik is dit veel meer as ’n biografiese roman, want telkens verskyn nuwe tekste wat met die voriges praat. Net soos Kladboek, bevat Die verlore vader stories, gedigte en koerantberigte. Om die waarheid te sê, meer as die helfte van Steyn se roman bestaan uit “die plak- en aantekeningboek oor rassepolitiek” (Steyn 1985:127) wat deur gemelde Van den Berg gehou is. Een van die tekste in dié roman heet selfs Kladboek van ’n ongeluksvoël.

So? Hambidge is ontsettend eerlik dat sy ander se idees steel en gebruik in eie werk. Dit gaan uiteindelik om dít wat jy daarmee maak: “Vir ’n teks om te integreer, moet dit by al sy voorgangers slaap” (p 160). (Hierdie reël kom uit ’n Hambidge-geskrif Opsoek na oorspronklikheid wat opgeneem is in Kladboek.) Ons sou vele ander geskrifte kan noem wat metatekstueel werk. Etienne van Heerden se Asbesmiddag oor die dolende, rekenaarverskrikte akademikus en Johan Rossouw se skisofrene filofiksie, ’n Rooi Z4 en ’n Renaissance-kasteel, oor ’n tiener-voyeur wat ouer vroue bekruip en dan kranig draadtrek, is maar twee resente voorbeeld wat ons kan noem.

Waarom dus nóg so ’n teks? Het ons nie al genoeg van hulle nie? Op bladsy 60 antwoord die verteller: “Nee, ons het nog nooit ’n roman gehad wat die volledige skisofrene en hibridiese aard van die roman ondersoek nie.” Of Hambidge, die akademikus, met haar verteller sou saamstem, weet ek nie, maar aangesien sy onlangs oorlede is, moet ons hierdie soort vrae maar vir onsself hou.

Kladboek is ’n baie mooi, maar soms taai, ondersoek na ’n vrou wat verwond is in haar soeke na haarself, na liefde en na haar spiritualiteit. Dit is geensins ligte fiksie nie en mense wat hou van spookasemboeke moet wegbly. As jy egter bereid is om die deurtjie na Joan Hambidge se kop oop te maak en op ’n skisofrene rit te gaan saam met haar, go for it.

Kladboek sal jy kry op rak sewe en ’n half by enige goeie boekwinkel, en ook op Kalahari.



Verwysings

Hambidge, Joan. 1998. Die Judaskus. Johannesburg: Kagiso.

Kubrick, Stanley (regisseur). 1999. Eyes Wide Shut.

Jonze, Spike (regisseur). 1999. Being John Malkovich.

Joubert, Irma. 2007. Tussen Stasies. Pretoria: Lapa.

Rossouw, Johann. 2007. ’n Rooi Z4 en ’n Renaissance-kasteel. Johannesburg: Zebra Press.

Steyn, JC. 1985. Die verlore vader: Dokumente van die politikus Pieter van den Berg. Kaapstad: Tafelberg.

Van Heerden, Etienne. 2007. Asbesmiddag. Kaapstad: Tafelberg.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top