Josef

  • 3

Foto: Canva

Josef

Josef was die laaste van ’n werpsel.
Oortrek met vlooie.
Vel en been, met hare wat in alle windrigtings gestaan het.

Sniffles.
Onderontwikkelde longe.
Onaansienlik.

Die veearts het gesê dit is beter om hom aan die slaap te maak.
Ek het hom huis toe geneem.
Ek het vir hom ’n kombersie, ’n warm bed en speelgoed gekoop.

Een keer per maand het ons veearts toe gegaan.
Josef het siek gebly.

Ons het Onderstepoort toe gegaan.
Die veearts daar het Doxy-stroop voorgeskryf.

Ek het Fancy Feast gekoop.
Hills.
Hy het sy bed gelos.

Elke aand het ek ’n liedjie vir hom gesing terwyl ek sy koppie gemasseer het.
Hy het op my kussing begin slaap.
Josef het beter geword.

Eers was daar net een week per maand waarin hy kon speel.
Later al hoe beter.
Hy het begin buite loop.

Na ’n jaar het hy elke middag by die motorhuisdeur gewag.
Hy het op my skouer gelê wanneer ons huis toe gestap het.
Ek het net my handsak neergesit.
Dan met die trappe af.

Ons het deur die tuine gestap.
Josef het voor geloop.
Met die selfvertroue van ’n leeu.
Sy waaierstert regop.
Soos ’n volstruisveer.

By die laaste boom het hy twee spronge gegee.
Toe het hy omgekyk na my.
Ek het hande geklap soos by ’n skoolkonsert en geroep: “Hoera!”

Woensdag was KFC-dag.
Hy het op my skouer in die motor gelê.
Saterdag was roomysdag.

Sy grootste prestasie was die siek, verwaarloosde maatjies wat hy huis toe gebring het.
Sy hartjie was van goud.

Hy het net ses jaar geleef.
Daar is ’n paar mense vir wie ek baie lief is.
Maar vir Josef was ek
erg,
baie,
verskriklik
lief.

Op planeet Aarde
sal daar nooit weer iemand wees
vir wie ek só lief is nie.

  • 3

Kommentaar

  • Martin Labuschagne

    Roer 'n hartsnaar en tog ook hartverskeurend. Hou van die gesels-agtige styl van die gedig.

  • As Picatto maar sóveel liefde en versorging gegun is, voordat hy na etlike maande eenvoudig onverklaarbaar verdwyn het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top