Iemand braai vleis. Naby, sê die rokie wat om my draai op pad kar toe. Binne-in die motor klou die vetdeurtrekte doringhoutgeur aan my vas en laat my maag ’n sekonde lank ruk. ’n Motor swaai om die hoek en gooi sy hoofligte oor my; gryp die honger weg ... soos Joop se oë, netnou.
“Hulle gee my elke aand ’n nightcap...” Sy stem bewe soos sy hande om die lakenbondel op sy bors.
“Dis nice, oom Joop.” Is ’n lepelvol alkohol nog lekker as die dood reeds vir jou sit en wag?
“Ja, hulle sorg goed vir my hier.” Maar sy oê vra vrae – bang vrae. Hoe gaan mens dood, dominee? vra hulle. Is dit seer, dominee? Die nattigheid in sy oê steek hy agter ’n hand weg wat sy deurmekaar hare verder deurmekaar stoot. Dan vang die bloues myne weer vas.
“Ek het baie foute gemaak, dominee” Hy kyk vlakte in, daar vêr anderkant die hospitaalheining; anderkant die besige strate. “Ek kom mos eintlik van die Kaap af, weet dominee?”
“Die Kaap? Waar in die Kaap?”
“Lambertsbaai. My pa het ’n trawler gehad.” Hy hou sy hande op. “Sien dominee diè merke? Dis waar die snoeklyne vasgebyt het: Hy lag skielik uitbundig.
“Snoek is ’n helse ding om te vang, dominee!”
Soos doogaan, oom Joop? Asof hy weet wat ek dink, versober sy gesig en sy oë gryp weer na myne. Dringend.
“Dominee...” Hy klem die laken stywer vas. “Hoe weet ’n mens dis OK, jy kan maar gaan as jou tyd gekom het?”
Nou’s dit my beurt om hulpeloos na woorde te soek. Banaal.
“Kom die tatoëermerk uit jou vissersdae uit?”
Vir ’n oomblik is daar verwarring onder die swaar wenkbroue en sy lippe gaan oop om te praat, maar dan oorval ’n hoesbui hom en hy val magteloos teen die kussings terug. Later druk ek die suurstofmasker boetvaardig oor sy gesig; huil binnetoe oor my onmag in die aangesig van die dood. Hierdie man soek sekerheid dat sy dood ’n nuwe liggaam sal ontsluit. Dat dit ’n einde aan swaarkry, afhanklikheid en onmag sal bring; en ek praat oor naaldmerke op sy vel!
“Oom Joop...” Sy asemhaling het rustig geword. Slaap hy dalk?
“Ekskuus , dominee; die hoesery is nie mooi nie. Dis jammer dominee moes dit aanskou” Sy vuis onder my hand wat ek onbeholpe uitsteek, is warm; koorsig.
“Oom Joop,,,” probeer ek weer. “Hoekom twyfel Oom oor Oom se posisie voor die Poort?” die woorde val lamlendig en ontoereikend – pretensieus; tussen ons, maar die bondeltjie mens op die hoë hospitaalbed beroep hom nie meer op verwaandheid nie.
“My lewe het baie kronkels gemaak, dominee; baie agterpaaie geloop in plaas van by die ligte verby. Op ’n kol diep gate ingeneuk ook...”
“Maar Oom, Oom weet tog van God se genade? Dat daar nie klein en groot sondes is nie en dat die donkerste donkertes deur God se vergiffenis verlig word?”
Die robot se rooi oog ruk my na die hede terug. Gelukkig ry ek stadig genoeg om betyds te stop. Met een hand op die stuurwiel, leun ek oor na die paneelkissie. Daar moet nog ’n sigaret of twee in wees van toe ek nog gerook het. Snaaks dat ’n mens altyd sulke stukkies van jou verlede met jou saamdra; so asof jy wil bewys dat jy ’n swakheid oorwin het. Oorwinning? Wat is dit – die volgende wankelende sportjie op die lewensleer? Wat soms so ongenadiglik onder jou ingee, ja.
In die kruising slaan die lig oor na groen en met die gekreukelde Stuyvesant tussen my vingers, skakel ek van eerste na tweede rat in die middel van die kruising. Die motor se aansteker spring uit toe ek na derde oorskakel en ek laat die enjin se toere ’n bietjie klim terwyl ek die rooi element teen die tabak druk. ’n Dolle klokkespel klink van die passassierssitplek af op en ek druk die selfoon en sigaret teen my oor.
“Dominee? Suster Joubert hier. Oom Joop vra na jou – ek dink jy moet maar gou kom...”
Foon op die sitplek, sigaret deur die venster, kort-omdraai, alles in een beweging. Die stil strate eggo die motorenjin se brul totdat die bande protesterend voor die hospitaal tot stilstand kom. Sy oë gryp myne vas toe ek instap.
“Dominee wou weet van die tattoo...”
“Nee, oom Joop, ek wou eintlik weethoe staan jou saak met die Here.” Selfs terwyl ek die woorde sê, weet ek dit is geyk. Geen mens het die reg om ’n ander se hart oop te wil vlek nie. Ook nie om te besluit wie mag ingaan en wie nie.
“Ek het die night cap teruggestuur vanaand.” Daar’s ’n ander blink in sy oë. “My brein moet helder wees as Hy my kom haal.”
Die kamer is skielik dof en ek vee oor my oë. "Dis goed so, oom Joop." Onder in die gang tjier-tjier trolliewiele oor glyvaste vloere.
“Die tattoo kom uit een van daardie donker gate van my lewe uit. Tussen los vroue en daggazolle.” Hy haal vlak asem. “Later het ek die dwelms gelos; ’n keer of wat teruggeval, maar uiteindelik vir behandeling gegaan en reggekom.” Hy glimlag skaam. “Maar die drang om die rook diep in jou longe te trek, los jou nooit nie. Dan slaan jy maar oor na sigarette toe.” ’n Hoesbui ruk deur sy lyf, maar agterna druk hy die suurstofmasker weg.
“Los maar, Dominee; dit help tog nie regtig nie. Die goed sit ’n mens net op ’n trip.” En dan: “Ek het nou die rook ook gelos...”
Sy oë glip van myne af weg. Sy mond glimlag. “Alles is nou so skoon...”
In die motor begroet die bedompige reuk van ou braaivleis en sigarette my en ek rol die venster af. “n Nagwindjie stoot teen my wange aan en hulle voel koud. Ek neem ’n diep teug van die wind en voel hoe my borskas oopmaak.
Anna Ahllers

