Jonk is
Jonk is
die maanlig
ongeskonde
soos ʼn kind
oud is
die akkerbome
wiegend
in die wind
die nag se stil soom
torring oor die berge uit
die nag se donker boom
bot blink sterre uit
musiek so bedwelmend mooi
dat die hart daarvan kan pyn
wat jou uitlok, jou uitnooi
om in jou wyn te verdwyn
tot jy jonk is
ongeskonde
soos maanlig
soos ʼn kind
tot jy oud is
wiegend
soos ʼn akkerboom
in die wind
tot die sterre
spierwit vloei
soos bloeisels
uit ons bloei
Kommentaar
Ai Willem, as ek maar net só kon dig !
Baie dankie, dit is meevoerend.
Willem, jy is 'n digterlike inspirasie. Mag die woorde bly vloei.
Pragtige woorde, Willa. Wat 'n lekker lees op n perfekte Novemberoggend terwyl ek my koffie drink en uitkyk op dieselfde berge en natuurskoon waaroor jy so talentvol dig.
Beautiful...
Aangrypende gedig! Mal daaroor.