Afrikaans’t toe mos lelik haar kans verspeel,
steeds bekend as “isiBhulu”, “taal vannie Boer”,
overgezet zynde, desnieteenstaande, slawerny,
slawe uit Ooste, via lingua ‘Frika, Self wou bevry
Afrikaans’t terroriste gejag, inboorlingreg kil verkrag,
Soweto vol traangas gepomp, Biko Kruger-koud g’laat,
met stootskrapers, rooimiere, van Kofifi ontslae geraak,
van Distrik Ses se harmonie, /Xam se heel laaste spreker
kon Afrikaans maar oorleef, Mens van Oorlewing leer,
oorlewing van Geregtigheid, Naaste-Liefde, Genade,
in Afrika is Afrikaans tuis, maar nie waar “ras” en “klas”,
waar Self-destruksie Self-Respek so erg verrinneweer
Jirre, oorlog, verwoesting, haat, net waar Mens kyk,
nog nooit voorheen het Afrikane so uit Afrika ytgewyk,
kanti, Afrikaans moet Afrikaanses bind, in Geregtigheid,
nog nie heeltemal te laat vir afskeid, aan neo-apartheid
jongste moedertaal, vreemde soort Neder-Duytsch,
steel vroeg al Maleis, Portugees, Khoisan, Frans,
van eerste tronk al nommertaal, interdinamies,
saam met Trekkers binneland toe, ultra-kreool
steeds geassosieerd met Model C-skool,
met Broederbond se stront, Africaanders,
Euro-Indo-Khoisan, uit hierdie Kontinent,
Afrikaans nie uit eksklusiwiteitheidsprent
jongste taal van Afrika kan eg verskil maak,
veral omlat sy so welig voortgespruit het,
uit monde van apartheidsmagnate, hoere,
voorheen-bevoordeeldes, basters, kreole
my moedertaal se thuba willie buya, ai,
apartheid en naasteliefde onversoenbaar,
“Duiwelspiek”-oorheersing onweerlegbaar,
waar, Mens maak wragtig staat op sjatan
só, meeste Afrikaanses oningelig oor “isiBhulu”,
het net ’n skelm idee waarna dit mog verwys,
maak aaire staat op super-lis-en-gier-sindroom,
o vrek, sak al hoe dieper in “Duiwelspiek”-drek
sal’k graag Skepper se Kant toe wil bid,
lat Hy Gewete-herwinning op Sy Agenda,
indien Hy my Moedertaal mooi Verstaan,
Mens op Lys van Genade-ontvangers Sit
eish
Jacobus Faasen

