Jong lesers: Skwiek deur Jaco Jacobs

  • 1

Skwiek
Jaco Jacobs

Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799383683

Die boek Skwiek was vir my baie interessant en ek kon dit glad nie neersit nie. Waar in die wêreld het jy al ooit gehoor van ’n hamster wat mense kan hipnotiseer? Kom ek vertel jou ’n bietjie meer.

Nathan, oom Denzil en Nathan se ma was my gunsteling karakters. Oom Denzil is Nathan-hulle se buurman. Hy is ’n fotograaf, dra altyd ’n leerbaadjie en ry met ’n groot, swart motorfiets. Hy is baie cool. Nathan se ma kom baie eenvoudig voor. Sy dra vaal klere, ry ’n ou motor en is ’n ontvangsdame by ’n tandarts. Tog so vervelig, of miskien dalk nie? Almal dink Nathan is ’n ordinêre seun wat deel is van ’n ordinêre gesin, maar dít is waar almal verkeerd is …

Een Dinsdag sit Nathan nog so diep verveeld toe die voordeurklokkie lui. Hy spring op en gaan maak die deur oop. Hy verwag sy beste vriend, Charlie, wat vanmiddag gaan kom kuier. Maar wat is dit wat hy daar buite vind? Daar is ’n vreemde klein boksie en daarop staan geskryf: NATHAN NEL.

Hy tel die pakkie op en vat dit na binne. Toe hoor hy ’n ge-grrrts-grrrts en ’n gevroetel! Voordat hy verder kon ondersoek instel, lui die voordeurklokkie weer. Hierdie keer is dit wel sy beste vriend, Charlie.

Hy en Charlie gaan loer in die boksie en daar is ’n hamster in … maar iets is vreemd aan hierdie hamster. Daar is ’n tatoeëermerk op sy oor. Daarop staan: SKW13K. Wat kan dit beteken? Waar kom hierdie vreemde hamster vandaan? Hoekom is hy juis by die Nels se huis afgelewer?

Hierdie is geen gewone troetelhamster nie. Nee! Hy het superkragte en is deel van ’n geheime operasie. Iemand is op sy spoor ... Wie kan dit wees?

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top