Die leeutemmer se assistent
Solet Scheeres en Marjorie van Heerden
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799379143
Toe ek die boek optel en die interessante prentjies sien, was my nuuskierigheid dadelik geprikkel. Ek was van kleins af lief vir lees, miskien omdat ek en my oupa van kleins af kopstukke kon gesels en navorsing doen oor verskillende goed.
Deesdae het almal van ons tablets, selfone en selfs Facebook en al daai dinge, maar in ’n tyd waarvan ek nog net gehoor het, dis waar jy die Leeutemmer sal ontmoet ...
Ek was nog nooit by ’n regte sirkus nie, maar hierdie boek het my geneem na ’n tyd lank terug toe sirkusse van die belangrikste besoekers aan die klein dorpies was. Ek het nooit geweet dat ’n hele sirkus per trein van plek tot plek getrek het nie – dis ongelooflik!
Die hoofkarakter, Martjie, neem ons op ’n wonderlike avontuur. Saam ontmoet ons die hoof van die sirkus, leer van die sterkste man in die wêreld en ook van Tiekie die nar. Mister Pagel was die baas van die sirkus en sy vrou, Madam Pagel, het sommer met ’n mak leeu as ’n passasier in haar motor gaan inkopies doen. Verbeel jou dit, hierdie vrou met haar klein, skerp tong en groot verehoed ... en ’n leeu wat in die passasiersitplek sit! Ek sou haar nogal graag wou ontmoet. Arme Martjie was gereeld in die moeilikheid en Mev Pagel het sommer haar naam verander na Marcozee!
Martjie moes baie dinge trotseer, selfs eenkeer skelms wat haar gebruik het om dinge te doen wat haar in die tronk kon laat beland het. Sy het ook, te danke aan haar nuuskierigheid, eendag binne ’n leeu se krat geëindig!
Dit verseker ek jou, as jy eers hierdie boek begin lees, gaan jy dit nie kan neersit nie. Daar is selfs ’n bietjie romanse ook net om jou hart te laat vinniger klop. Kom beleef die sirkus soos nog jy dit nog nooit gesien het nie – jy sal voel of jy daar is!