Die groot Klein Kaptein
Paul Biegel, vertaal deur Daniel Hugo
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485304487
Die groot Klein Kaptein is ’n puik bundel van drie boeke oor die avonture van die Klein Kaptein. Dit is vertaal uit Nederlands deur Daniel Hugo.
Klein Kaptein is ’n seuntjie met ’n te groot pet op. Hy het ’n skip, Nooitlek, wat op ’n duin uitgespoel het. Klein Kaptein het die skip weer heelgemaak. Hy wou groot geword het deur na die eiland van Groot en Groei te gaan. Toe ontdek hy iets vreemds. Dit is hoe die groot avontuur begin het.
Op sy terugtog het hy nuwe avonture beleef. Op die eerste eiland het hul iets snaaks ontdek. Op die tweede eiland is dit net grou en grys. Dis net twee van die interessante eilande waar hy aangedoen het. Daar is ook ’n spookskip wat beheks is, ’n seerower en skatte! Dan sien hul ’n baie eienaardige lugspieëling. Deel van die avontuur is om die skatte terug te vat na hul regte eienaars. Kom lees self verder.
Die lekkerste deel van die boek is oor hoe Klein Kaptein die skip regmaak met allerhande snaakse dinge soos ’n ou sinkbad en ’n fietsketting. Klein Kaptein is dapper en slim.
My gunstelingverhaal in die bundel is Deel II: Die Klein Kaptein in die Land van Waan en Wys waarin daar sewe vuurtorings is wat jou leer. Dit leer jou om ’n beter mens te wees. Om nie dinge soos geldgierig, hoogmoedig, lui en vraatsugtig te wees nie.
Ek het nie gehou van die laaste stuk nie, want jy weet die boek gaan nou klaar wees. Jy wil hê die boek moet net aanhou en aanhou vir jou hele lewe lank.
Die boek is ’n bondel pret, avontuur en aksie. Jy wil dit net nooit neersit nie. Die boek was vir my so interessant dat ek sommer Die rooi prinses deur dieselfde skrywer ook gelees het.