Die driehoekige sirkel
Corrie Vorster
Uitgewer: Vivlia Uitgewers
ISBN: 9781770245068
Soos ’n plaat wat draai en tol en pragtige musiek voortbring – maar tog kan vashaak en dan ’n kosbare oomblik laat verbrokkel – so is die verhaal van Corrie Vorster. Die leser word gekonfronteer met ’n goedbeplande intrige en realistiese lewensprobleme wat die boek aanvanklik boeiend maak. Herhaling van die hoofkarakter se daaglikse roetine en voorspelbare gebeure maak egter die verhaal naderhand saai.
Hier ontmoet ons Caro, of dalk liewer Karolientjie-van-die-verkeerde-kant-van-die-spoor. Net soos ’n plaat weer en weer gespeel word, keer sy terug na haar geboortedorp as ’n nuwe, maerder maar nog steeds verbitterde mens met ’n plan van wraak in haar agterkop. Sy is as ’n Engelse onderwyseres aangestel by die hoërskool van haar jeug, waar sy destyds seer en vernedering ervaar het. Haar destydse armoede en oorgewigfiguur het van haar ’n weerlose teiken gemaak wat ander leerders uitgebuit het.
Soos sy mense uit haar verlede raakloop, word sy met haar wraakgedagtes gekonfronteer. Die ander onderwysers, soos die mollige-maar-vrolike Betsie, wyse Dirk, ysige Salome en aantreklike Steyn, dra by tot die konfrontering van lewenswaardes soos vergifnis waarmee Caro uitgedaag word. Wanneer sy ’n oorgewig meisie ontmoet met wie sy kan vereenselwig, en pens en pootjies in die afrig van ’n veelrassige maar verdeelde krieketspan beland, ervaar sy ’n behoefte om haarself te bewys. Dit laat ’n begeerte in haar groei om aanvaarding te vind in die gemeenskap waar haar wortels begrawe lê. Wanneer daar ’n sprankie romanse tussen haar en Steyn ontstaan, asook toe leerders en vriendinne haar emosioneel betrek, besef sy hoe kosbaar mense en ’n gemeenskap om jou is.
Die intrige maak die verhaal aanvanklik vloeiend en maklik om te lees, soos ’n sagte melodie. Dit word naderhand egter soos ’n plaat wat vashaak en die melodie gaan verlore. Gebeure, gedwonge nostalgiese momente en introspeksie wat eindeloos herhaal word, laat ’n goedbedoelde storie verlore gaan. Daar is egter waarde aan die storielyn wanneer probleme eie aan die tienerlewe aangespreek word. Rassisme, selfbewustheid, tienerswangerskappe en die soeke na aanvaarding en innerlike vrede verander die vrolike melodie in ’n kreet wat tieners kan aanraak en inspireer om die regte ding te doen. In die hakkelende platemusiek is daar dus tog verskeie juwele te vind wat net deur ’n lewenswyse skrywer vasgelê kan word.
Die skrywer maak gebruik van verskeie tegnieke om die plaat vlot te laat speel. Dit kom egter gedwonge en herhalend voor en slaag nie in sy doel nie. Sy gebruik ’n fotoalbum as ’n simbool van Caro se lewe, asook die skoolgebou as ’n simbool van gebeure in haar lewe. Dit faal egter in sy vermoë om ’n oomblik te skep wat gekoester word en die herhaling daarvan het my as leser begin irriteer. Sy gebruik ook die uitsteltegniek en onderbrekings, maar dit slaag nie in sy doel om spanning te skep nie.
Die plaat se melodie dra waarde en dit kan nie net sommer afgeskryf word nie. Indien jy lus is vir ’n verhaal wat ’n tiener se daaglikse situasie konfronteer, kan jy gerus die boek oorweeg. Skakel dan hierdie plaat aan en verlustig jouself in die meestal suiwer note wat vrolik deur jou lewe dans.


Kommentaar
goeiedag. ek is opsoek na n foto van Corrie Vorster vir 'n skooltaak.
Hallo Carin, ons beskik ongelukkig nie oor 'n foto van die skrywer nie. Dalk moet jy die uitgewer kontak. Hier is 'n skakel na hulle webwerf: https://estore.vivlia.co.za/store/eBooks?publisher=Vivlia%20Publishers. Groete, Naomi Meyer, LitNet: inhoudsbestuurder
Goeiedag,
Waar kan ek moontlik die audio boek of weergawe van die voorgeskrewe boek , Driehoekige Sirkel bekom?
Goeie dag ek is opsoek na die sub intrige van die driehoekige sirkel vir n klas toespraak
Hallo! Ek weet nie of ons met hierdie spesifieke navraag kan help nie, maar hier is 'n skakel na ons skoleblad, waar inhoud rondom skole en hulpmiddels hieromtrent gevind kan word: https://www.litnet.co.za/category/akademies/skole/. Blaai hierdeur om te sien of daar iets is wat kan help. Ons voeg so gereeld moontlik nuwe inhoud by. Groete, Naomi Meyer, inhoudsbestuurder
Goeie middag ek is op soek na inligting oor Corrie Vorster - wwar is sy gebore en waar het sy opgegroei, skool en universiteit.... en so aan...asseblief dit is vir my Graad 10 dogter se taak.
Hallo Adelaide, ons het ongelukkig nie inligting oor die skrywer beskikbaar nie, maar hier is 'n indeks van al die vraestelle wat op LitNet beskikbaar is: https://www.litnet.co.za/indeks-notas-toetse-en-vraestelle/. Dit is ingedeel volgens graad. Dalk help dit met ander vakke se hersiening! Groete, Naomi Meyer, inhoudsbestuurder
Ek hou nie rêrig van Afrikaanse boeke nie, maar hierdie een was baie goed en as daar 'n tweede boek van hom kan uitkom sal ek so bly wees.
Kan Julle asb 'n movie oor die boek maak?
Is daar moontlik memo's van die literêre vrae van die boek?
Is daar enigiemand wat weet waar ek die audio kan kry van hierdie boek. Ek skryf Donderdag.
Waar kry ons vrae en antwoorde ivm die boek?
Is niks beskikbaar van die film op band of TV kykmateriaal nie?
Ek soek die vrae se antwoorde asb.
Ek wil graag weet of daar audio is vir die boek? Het 'n leerder met disleksie en wil dit aflaai. Groot asseblief!
Waar kan ek die boek kry? Op lockdown en my kind moet die boek nou hê vir skool ... So ek moet dit iewers download?
More Karen. Het jy reggekom met Audioboek van Die Driehoekige Sirkel?
Vir die mense wat Die Driehoekige Sirkel vir Graad 10 Afrikaans benodig in die inperkingtyd - gaan besoek http://www.estore.vivlia.co.za om boek aanlyn te koop.
Kom daar 'n tweede boek of nie?
Hello. Ek is ’n tutor vir graad 10 tot 12 in Arikaans Huistaal en wil baie graag weet waar ek 2018/2019-vraestelle kan kry? Dit sal wonderlik wees ter hersiening vir die leerders om vraestelle uit te werk.
Baie dankie
Beste Heidi
Ek hoop dit gaan goed.
Besoek LitNet se skole-indeks: https://www.litnet.co.za/indeks-notas-toetse-en-vraestelle/
Dit het verskeie hulpbronne vir leerders.
Neem asseblief kennis dat hierdie hulpbronne addisioneel tot bestaande skoolwerk is, en nie die voorgeskrewe werk vervang nie.
Vriendelike groete
Goeiemôre, ek wil net hoof of daar ’n audio-boek is vir die “Die driehoekige sirkel”?
Goeiedag Junita
Ek hoop dit gaan goed.
Soek op Audible na ’n audio-boek?
Vriendelike groete
Goeiedag
Ek is opsoek na omtrent 10 karaktereienskappe van elke karakter, vertel my net dalk waar kan ek dit kry?
Dankie vir die goeie resensie. Ek stem saam. Die boek het die potensiaal om 'n goeie melodie na vore te bring, maar bly 'n langspeelplaat wat vashaak en kosbare oomblikke verlore laat gaan. Nou moet ek as Afrikaans-leerkrag die sukkelende plaat gaan speel vir die Graad 10 leerders aan wie die boek voorgeskryf is. Daar behoort tog beter kwaliteit jeugboeke in Afrikaans te wees wat voorgeskryf kan word?
Ek stem 100% saam met jou, Sanet. Ek wonder gereeld wie hierdie voorgeskrewe boeke kies. Hierdie is 'n boek vir mense bo twintig, nie 16-jariges nie.
Ek is op soek na die oudioboek van die driehoekige sirkel.
Ek gee skool by 'n skool met leerders met spesiale behoeftes.
Hallo! LitNet bied die volgende hulp vir skoliere: https://www.litnet.co.za/category/akademies/skole/notas-toetse-en-vraestelle/. Ons beskik egter nie oor kennis van die verkryging van die oudioboek nie. Enige lesers met die nodige inligting, word hartlik uitgenooi om kommentaar te lewer en raad te gee. Baie dankie! Die LitNet-redaksie
Kan ek asb weet wat se tipe verteller die storie vertel?
Hello! Ek is op soek V nantwoorde Vir my taak, maar ek kry dit nie.
Hallo! Hier is 'n indeks van al die vraestelle en memo's wat op LitNet beskikbaar is: https://www.litnet.co.za/indeks-notas-toetse-en-vraestelle/. Dit is ingedeel volgens graad en vakgebied. Rol gerus daardeur om te sien of die vraestelle of inhoud waarna jy op soek is, daar beskikbaar is. Dalk is daar ook ander inhoud wat jou kan help. Klik telkens op die skakels om die vraestelle in PDF-formaat af te laai. Hoop dit help! Groete, die LitNet-redaksie
Goeie dag
Ek is op soek na die innerlike en uiterlike konflik van die boek.
Ek is opsoek na die hele boek se innerlike en uiterlike konflik, saam met die omgewing. Wil dit graag vir al my kinders gee om te gaan leer vir hulle eksamen.