Jong lesers: Charlotte’s web deur EB White

  • 2

Charlotte's web
EB White, illustrasies deur Garth Williams

Uitgewer: Harper & Brothers
ISBN: 9780590302715

Charlotte's web gaan oor ’n stroopsoet 8-jarige dogtertjie, Fern Arable, wat lief is vir diere, Wilbur, ’n onskuldige klein varkie, en ’n groot grys spinnekop met die pragtige naam van Charlotte A Cavatica. Die klassieke boek Charlotte's web is ’n kinderboek geskryf deur EB White. Dit word beskou as ’n uitstekende boek wat geskik is vir jong kinders wat leer om langer boeke te lees. Dit het ’n “droomagtige” gevoel soos ’n sprokiesverhaal. Dit betrek die leser van die begin af en laat ’n mens gou na die volgende bladsy blaai. Hierdie avontuur-gevulde boek bestaan uit 192 bladsye en is verdeel in 22 prettige hoofstukke. Die skoonheid van die storie lê in sy eenvoud. Die boek spog met karakters, mens en dier, wat artistiek deur Garth Williams geskets word.

Die vriendskap tussen ’n varkie en ’n spinnekop laat jou in die begin van die storie jou oë rol, maar soos ’n mens dieper in die storie lees, begin jy dink dié vriendskap tussen die varkie en die spinnekop is eintlik baie oulik en spesiaal, en dit maak dat die boek uitstaan tussen ander kinderverhale. Die einde van die storie is nie voorspelbaar nie, net bitter-soet.

Fern woon op ’n plaas, en dit is ’n absolute skok wanneer sy op ’n doodgewone oggend uitvind dat Wilbur, die varkie, spek en ham gaan word! Sy red vir Wilbur en hou hom aan as ’n geliefde troeteldier. Later stel haar pa voor om hom na haar oom Zuckerman se plaas toe te stuur waar onskuldige Wilbur sonder vriende moet bly. Wilbur word só eensaam in die skuur dat hy met Charlotte, die spinnekop, begin gesels. Wilbur dink Charlotte is skouspelagtig, maar al die ander diere dink sy is ’n bietjie vreemd. Charlotte is eintlik nie die eienaardige ding wat al die diere verwag het nie. In plaas daarvan wys sy groot liefde en wysheid wat niemand besef het sy besit voordat die klein Wilbur aangekom het nie.

Templeton is die skelm rot wat sê Wilbur is ’n “lente”-vark, en lentevarke hoort net in ’n heerlike Kersfeesete! Charlotte weet wat klein Wilbur se lot gaan wees en begin gou dink aan ’n plan om Wilbur uit die oond te hou. Haar plan verstom almal en Wilbur word Somerset County se mees geliefde varkie.

Met die hulp van sy betroubare vriend, Fern, en altyd ondersteunende Charlotte, spaar hulle die varkie se lewe om nog baie pragtige lentes te sien.

Daar is nie een vervelige oomblik in hierdie boek nie. Dit hou jou op jou tone. Jy sal een oomblik lag en die volgende oomblik huil. Dit is die soort boek wat jy nie wil neersit nie!

EB White het hierdie boek geskryf met insig in die mensdom se emosies en gevoelens. In 2003 is Charlotte's web gelys as nommer 170 van die beste 200 geliefde Britse boeke wat jy kan lees. ’n Opname van 2004 het bevind dat Charlotte's web ’n algemene leesboek vir graad 3-leerlinge in skole in San Diego, Kalifornië is. In 2007 het die Nasionale Onderwysvereniging dié boek as een van sy "Onderwysers se Top 100 Boeke” vir kinders verklaar. Ek sou hierdie boek aanbeveel vir almal om te lees en vir altyd op hulle boekrakke te hou vir toekomstige generasies. Dit is definitief ’n treffer, en soos Charlotte geskryf het, is dit “fantasties”!

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top