Voetstoots. 'n Episode
John Miles
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798150804
Prys: R195
John Miles is 'n bekende en vereerde naam in die Afrikaanse letterkunde. Na sy debuut met die kortverhaalbundel Liefs nie op straat nie in 1970 het hy hoofsaaklik romans geskryf en veral met Kroniek uit die doofpot van 1992 groot indruk gemaak. Sy werk fokus dikwels op die wyse waarop gewone mense vasgevang is in gewelddadige sisteme, maar ook op die probleme wat die skrywer ondervind met die omvorming van die werklikheid tot fiksie. In hierdie opsig was Miles se werk nog altyd 'n gevoelige registreerder van Suid-Afrika se politieke temperatuur, hetsy in die middel-sewentigs, die vroeë negentigs of die nuwe millennium.
Sy jongste roman heet Voetstoots. 'n Episode. Die HAT sê om iets "voetstoots" te koop, beteken om dit te koop "soos dit voor die voete lê", "met alle sigbare en onsigbare gebreke". Die roman suggereer dan ook dat die lewe jou nie eintlik 'n ander keuse gee as om dit wat na jou kant kom, "voetstoots" te aanvaar nie. Die "episode" waaroor dit in die titel gaan, verwys na die verhaalgebeure wat hulle afspeel in drie dele getitel "Kersnaweek", "Opvolg" en "Rondom Nuwejaar" op 'n fiktiewe Namakwalandse dorp in die nabyheid van die Losberg (enige verwantskappe met die werklike dorp Vanrhynsdorp is toevallig, sê Miles).
Die episode wat hier beskryf word, is nie vreemd in die sensasiekolomme van die Suid-Afrikaanse media nie. Tog verkry dit deur Miles se aandagtige bewerking van die gegewe besondere nuanses en 'n unieke meerwaarde. Kortweg opgesom handel die roman oor die tandarts August Lotz wat hom na die dood van sy vrou in 'n ongeluk waarvoor hy deels verantwoordelik was, stort in 'n projek om 'n voorheen onbekende dagboek van die agtiende-eeuse VOC-amptenaar en reisiger Robert Jacob Gordon voor te berei vir publikasie. Tydens hierdie projek beland hy op die reeds-genoemde dorp, waar 'n gedig wat hy in 'n tweedehandse winkel ontdek, hom aanspoor om daar vir hom 'n huis te koop.
Wanneer hy hom daar kom vestig, raak hy betrokke by die dorpsgebeure en veral die aantreklike polisievrou Tessa en haar seuntjie, Otto. Dit is onvermydelik dat hy via hulle ook blootgestel word aan Tessa se obsessiewe en gewelddadige man Andries, van wie sy besig is om te skei. Die gebeure volg 'n amper onvermydelike verloop tot by die gewelddadige hoogtepunt.
Verwysings na geweld loop trouens soos 'n lae en onheilspellende dreun deur die roman, amper soos die gesprekke van die man en vrou in die huis langs syne wat August deur die mure hoor. Daar is die dood van die onbekende man en die hawelose wat albei in die toilet van die vulstasie aangetref word, 'n klein hondjie wat doodgebyt word, gevolg deur gerugte van hondegevegte op die dorp, ‘n gewelddadige aanval op drie Duitse toeriste, en 'n kroeggeveg.
Dit is onvermydelik dat die gebeure van die verlede insypel binne die beperkte omtrek van die episode waaroor dit hier gaan. Geleidelik word dit duidelik watter gebeure in die verlede hulle merk op die hoofkarakter August gelaat het: die feit dat sy pa hom in die apartheidsjare vir sy eie veiligheid uit Suid-Afrika weggestuur het om in Nederland te gaan studeer, sy verhouding met 'n Kroatiese digteres wat hom in Nederland agterlaat omdat sy nie kan afstand doen van haar taal en geboortestad Zagreb nie, die dood van sy vrou in die ongeluk wat op 'n ongelukkige wyse saamval met sy pa se selfmoord, die soeke na sy pa in die navorsing oor Gordon, wat ook sy eie lewe geneem het, en die oorsprong van sy poging om na die platteland te ontvlug. August verwys in 'n gesprek met een van die ander inwoners van die dorp na die Griekse wysgeer Epikuris se opvatting dat die verlaat van die stad vir die platteland gelykstaan met "'n agterlaat van doodsangs, die vrees vir straf en die eise van 'n belaglike moraal waarmee die priester en owerheid jou teister".
Een van die vreugdes van die roman is trouens dat dit so ryk is aan besinnings van hierdie aard. Dit kom veral voor in die gesprekke tussen die verskillende karakters, veral dié waaraan August deelneem. Die ander hoofkarakter, Tessa, se wysheid is van die praktiese soort, opgedoen in die polisiediens en in die verhouding met haar eksman Andries. Alhoewel in 'n mindere mate, word ook haar verlede (die verdwyning van 'n onderwyser met wie sy 'n geheime verhouding gehad het en haar huwelik met Andries) opgeroep in die gedeeltes waarin daar vanuit haar perspektief vertel word.
Die mens se verhouding met die verlede en die geskiedenis word egter veral aan die orde gestel in August se bemoeienis met Gordon, wat as bevelvoerder van die VOC se garnisoen aan die Kaap talle reise na die binneland onderneem het en in 1795 aan die Kaap dood is. Dit word 'n manier waarop August sommige van sy persoonlike probleme kan aanspreek, maar ook kan inspeel op die groter vrae wat die land besighou. Enersyds laat die projek hom vergeet van sy skuld aan die dood van sy vrou en sy kwelling oor die verhouding met sy pa; andersyds open Gordon se geskiedenis ook perspektiewe op die rasseverhoudinge in die land, die mens se verhouding met die politieke owerhede en die voordele van 'n landelike lewe teenoor dié in die stad. Deur August se projek word die kwessie van skuld en trauma op die persoonlike en die kollektiewe vlak ter sprake gebring.
Die roman toon ook verskillende reaksies op die ondersoek na die verlede: dit word deur sommige karakters in die roman beskou as 'n sinvolle proses, deur ander as 'n gevaarlike onderneming binne die huidige politieke konteks, en deur nog ander as gewoon tydmors wanneer die onmiddellike behoeftes so groot is. Ook op hierdie manier lewer die roman kommentaar op belangrike debatte wat daar in die afgelope jare gevoer is.
Soos meermale in Miles se romans trek die vertelstrategie aandag. Net soos in Kroniek uit die doofpot skep Miles hier 'n skrywersfiguur wat die leser bewus maak van die feit dat hy besig is om 'n verhaal te maak van die werklikheid wat hy ervaar. In vergelyking met Kroniek uit die doofpot werk Miles in Voetstoots nogal spaarsamig met hierdie strategie en raak die leser net op enkele punte bewus van hierdie skrywer se teenwoordigheid. Dit gebeur aan die begin en die einde van die roman wanneer hy die leser direk aanspreek, maar ook wanneer hy in die loop van die roman opduik as die geheimsinnige beeldhouer of filmmaker in 'n swart Citroën wat hom kort voor die gebeure in die omgewing gevestig het, wanneer karakters soos Hannah en professor Thompson uitvra oor August en ná die katastrofale hoogtepunt van die episode met August en Otto praat. Hierdie skrywer-karakter bied homself in die slothoofstuk aan as 'n "vertolker" van die gebeure in die dorp, maar verklap dan ook dat die episode wat hy in hierdie roman beskryf, vervleg is met een wat hy self beleef het en nie kan vergeet nie. Ten slotte vertel hy waarom hy gekies het om die episode so te beskryf dat dit op 'n hoopvolle noot eindig. "Ons is van Afrika," skryf hy. Volgens hom beteken dit dat "ons" (hy as skrywer, sy karakters en sy lesers) deel in die "oorsprong van verwagting" wat deel was van die prosesse waardeur die eerste mense op hierdie kontinent geleer het om regop te loop en gereedskap en wapens te maak. 'n Mens kan nie help om op te let dat die figuur van die werklike skrywer John Miles (wat in 1998 van Johannesburg na 'n plaas naby Nieuwoudtville verhuis het) agter hierdie skrywersfiguur opdoem nie.
'n Verdere aspek van Miles se vertelstrategie is die wyse waarop hy die verhaal broksgewys voor die leser laat ontplooi deur dit vanuit verskillende vertelperspektiewe aan te bied. Deurdat die verhaal afwisselend aangebied word vanuit die oogpunt van die skrywer en die twee hoofkarakters, word die prentjie geleidelik "ingevul" of vollediger gemaak vir die leser. Hierdeur word die spanning soos in 'n film deur middel van skielike verskuiwings van perspektief en fokus opgebou.
Die roman is 'n duidelike terugverwysing na Miles se eie oeuvre waarin sekere temas hulle tot dusver uitgespeel het: dié van die nadenkende skrywer, die bemoeienis met geweld, die kritiese beskouing van die verskillende soorte sisteme wat die mens al ontwerp het om binne te leef, soos die kapitalisme en die sosialisme, en die gefassineerdheid met die werk van verskillende beeldende kunstenaars en skrywers.
Interessant genoeg is daar ook heelwat in die roman wat 'n mens herinner aan Ingrid Winterbach se werk, sodat dit 'n interessante oefening kan word om hierdie twee skrywers se werk naas mekaar plaas. Die raakpunte lê veral in die fokus op die optekening van veelseggende drome (talle van die hoofstukke in hierdie roman begin met die rapportering van óf August óf Tessa se drome), die fokus op gesprekke, en die gebruik van ‘n breë verwysingsveld wat onder andere die werk van skilders, skrywers, filosowe en historiese figure betrek.
Voetstoots is een van Miles se mees toeganklike, maar ook mees verweefde romans tot op datum. Naas Kroniek uit die doofpot is dit een van die hoogtepunte in sy oeuvre. Dit is geskryf in sy kenmerkend onopgesmukte styl en sober Afrikaans, maar dra 'n rykdom van besonderhede, besinning en lewenswysheid oor. Dit is 'n roman waarin daar vertel word van 'n traumatiese episode, maar ook gaandeweg ‘n handleiding vir die lewe uitgewerk word. Hoe gaan jy om met dit wat die lewe jou gee? Hoe ontstaan en vloei begeerte? Waarheen keer jy jou wanneer die lewe ondraaglik raak? Hoe oorleef jy 'n tragedie? Wat doen jy met skuld en pyn? Hoe maak jy 'n kind groot? Oor hierdie soort vrae help die roman jou om na te dink lank nadat die spannende hoogtepunt bereik is.
Klik hier en koop jou eksemplaar van Voetstoots nou van Kalahari.net!

